Jan du PLESSIS is op 26 Julie 1803 gebore as oudste seun van Barend Christoffel Du PLESSIS & Anna Elisabeth STEENKAMP.

Hy is volgens Afrikanertradisie as oudste seun na sy oupa aan vaderskant, Jan du PLESSIS, vernoem.

Jan is meer as ’n jaar na sy geboorte te NG Kerk Graaff-Reinet op 28 Oktober 1804 gedoop (Bron: NG Kerk Graaff-Reinet doopregister, p.205) en na hom het sy moeder aan nog 12 kinders die lewe geskenk.

Sy ouers is egter voor die Groot Trek oorlede.

Jan en Susanna Geertruida/Geertruy JORDAAN (Pieter Johannes-dg) is te Cradock op 3 Maart 1822 in die huwelik bevestig en het te ‘Rietvallei,’ Tarka op 23 Augustus 1823 ’n gesamentlike testament onderteken.

Sewe van hul kinders o.a. hul oudste seun, Barend Christoffel Du PLESSIS (1825-1848) en ook ’n tweeling is nog voor die trek te Cradock gedoop.

’n Verdere vyf kinders is in Natal gebore waarvan die jongste op 12 Mei 1850 te Pietermaritzburg gedoop is.

Jan en sy geselskap van ongeveer 116 gesinne, volgens Visagie, het in Oktober 1837 uit die Tarka getrek.

Jan was ’n kommandant tydens die Slag van Bloedrivier.

Hy en sy gesin het tot ongeveer 1850 in Natal gewoon, alhoewel sy oudste seun in 1848 oorlede is en het toe verder getrek om hulle in die distrik Harrismith te vestig.

Jan het ongeveer 27 jaar in dist. Harrismith geboer, soos ook van sy seuns, Pieter Johannes Jordaan Du PLESSIS (1832-1914) , Philippus Johannes Lourens Du PLESSIS (1835-1897) & Jan Harm Du PLESSIS (1842-1899).

Jan is op 21 Februarie 1877 op die plaas ‘Du Plessisdal’, dist. Harrismith (Boedel: VAB: MHG P254 (1877) oorlede. Sy eggenote het hom oorleef en is ongeveer November 1889 oorlede.

Dit is moeilik om te bewys wie in watter trekgeselskap getrek het, maar navorser dr. Jan Visagie vermoed dat die volgende gesinshoofde o.a. in die Du Plessis-trekgeselskap was: 
Barend Christoffel Du PLESSIS (1805-1871), broer van trekleier & sy eggenote, Elisabeth Johanna de KLERK.

Willem Jacobus Ignatius (Michiel) Du PLESSIS (1819-), jongste broer van trekleier & sy eggenote, Maria Catharina BEKKER.

Christoffel Johannes Petrus JORDAAN (1809-1883), swaer van trekleier & sy eggenote, Maria Catharina KLOPPER.

Gerrit Jacobus JORDAAN (1792-1866) & sy jonger broers, Louis Hosea JORDAAN (1795-1874) & Jacob Daniël JORDAAN (1806-) en hul families.
Marthinus Jacobus POTGIETER (1793-1875) & sy eggenote, ook ’n nooi POTGIETER, asook hul seun, Johannes Jurgen(s) POTGIETER (1815-) & sy eggenote, Johanna Maria LOMBARD.
Philip(pus) Johannes POTGIETER (1808-1871) & sy eggenote, Elisabeth Geertruida Petronella Du PLESSIS, jonger suster van die trekleier.

Jan Gerritse Van DEVENTER & sy eggenote, Susanna Aletta Dorothea COETZER.

Argiefbronne

NG Kerk Kaapland doop- & huweliksregisters

Boedels in Vrystaat Argief: MHG

Publikasie

VISAGIE Jan C. 2011. Voortrekkerstamouers, 1835-1845. Pretoria: Protea Boekhuis.