Musiek is ’n kunsvorm wat taalgrense oorsteek en direk tot die hart en siel spreek. Dit word gehoor, maar bowenal gevoel. Dié woorde was Woensdag 19 Maart opnuut ’n hoorbare én voelbare werklikheid tydens die FAK-Jeugsimfonieorkes se Eeufeeskonsert wat in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument aangebied is.

Dié orkes onder leiding van die talentvolle dirigent Jaco van Staden, het sy musiekjaar met ’n unieke program afgeskop met musiek wat gestrek het van ’n Mozart-meesterstuk tot Afrikaanse volksmusiek.

’n Hoogtepunt van die program was ’n besonderse musikale huldeblyk aan Johann Strauss II. Dié Oostenrykse komponis van meer as 500 werke is 200 jaar gelede, op 25 Oktober 1825, in Wene gebore. Die orkes het die gehoor op ’n reis terug in tyd geneem – ’n tyd van Weense walse, beeldskone balrokke, paleise en simfoniese prag – wat ’n mens opnuut laat besef het waarom Strauss ná twee eeue steeds die Walskoning genoem word.

Nog ’n hoogtepunt was die uitvoering van die tweede gedeelte van Mozart se klarinet-concerto. Die solis, Christiaan Wilsenach, het die gehoor in stille verwondering gehad.

As deel van die FAK se viering van die 100ste bestaansjaar van Afrikaans vanjaar, is uitsonderlike verwerkings van twee geliefde volksliedjies ook uitgevoer.

Volgens Van Staden was die konsert ’n besonderse projek omdat dit enersyds die ryk geskiedenis van klassieke musiek én die unieke klanke van Afrikaans gevier het. “Musiek is so oud soos tyd self en terselfdertyd tydloos. Dit vertel verhale wat oor eeue strek, wat kulture van reg oor die wêreld verbind en ons eie erfenis eer.”

Volgens Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, bied die FAK-Jeugsimfonieorkes ’n wonderlike platform waar jong musici se talente ontwikkel en geslyp word. “Die orkes speel voorts ’n belangrike rol in die bewaring en viering van Suid-Afrika se musikale erfenis.”