’n Groep jong orkeslede van die FAK se Jeugsimfonieorkes (JSO) het die afgelope naweek, 14 tot 16 Maart, instrumente in die hand die langpad tussen Pretoria en Parys aangedurf vir hul eerste oefenkamp vir 2025.

Die JSO is in 2022 gestig en het in dié drie jaar gegroei tot ’n spogorkes van 23 lede. Drie van die huidige orkeslede, Annelu Hermann (dwarsfluit), Christiaan Wilsenach en Gareth Robertson (albei klarinetspelers) stap al van die begin af die pad saam met die orkes. Lieandri Ackermann, projekbeampte van musiek en skoleprojekte by die FAK, sê hiérdie drie jongmense en hul 20 orkesvriende is ’n versinnebeelding van die uitsonderlike kaliber (jong) musikante wat in ons land is.

“Die afgelope naweek het ons ons eerste oefenkamp gehad op Udolpho Rivierplaas in Parys, met die nuwe lede van die FAK-JSO, en nét soos die jare voor dit, kon mens nie anders as om in verwondering te staan voor die ongelooflike talent van dié jong musici nie,” sê Ackermann.

“Die JSO is nie net ’n orkes nie, maar ’n belegging in die toekoms van ons land se jong musikante en op 25 April bied die JSO en Ovie-Vibz ’n werksessie by Hoërskool Overkruin aan om deelnemers blootstelling aan simfonieorkeste te gee.”

Die JSO het hul kamp afgesluit met ’n vertoning in ’n volgepakte Henning Klopper-saal op die terrein en Ackermann vertel dat dié vertoning haar werklik opgewonde gemaak het vir die res van die jaar.

“Op 19 Maart gaan die JSO hul eerste amptelike vertoning in die Voortrekkermonument (Pretoria) hou en die voorsmakie wat ons dié naweek gekry het, maak my werklik opgewonde vir wat in 2025 wag.”

Kaartjies vir die vertoning is beskikbaar op Plankton.

Sallas de Jager, hoof van musiek en kunsprojekte by die FAK, is dit met Ackermann eens dat 2025 groot opwinding inhou.

“Die oefenkamp was ’n reusesukses. Ek dink werklik ons het ’n gedugte span tussen ons dirigent, Jaco van Staden, Charmilé Stauss (orkesmeester), Ackermann én natuurlik ons jong musikante,” sê De Jager.

“Dit is merkwaardig om te sien hoe die orkes jaar na jaar groei en ontwikkel, en 2025 is geen uitsondering nie. Die kinders het regtig hard geoefen en ’n mens kon die vrugte van hul werk sién toe hulle Sondagoggend voor ’n vol gehoor ’n lekker intieme konsert gehou het.

“Die FAK het ’n verpligting om uitnemendheid in Afrikaanse musiek te bevorder. Ons is opgewonde om so lank soos wat ons kan saam met jong talent soos dié kinders te werk om ons musiekerfenis uit te bou en te bevorder.”

In die jaar wat Afrikaans 100 gevier word, het die JSO ook besluit om vanjaar die mooi van Afrikaanse musiek te vier met ’n asembenemende keurspel van “Sarie Marais” en “Suikerbossie”, wat deur Van Staden verwerk is. Die JSO se uitvoering van dié bekende volksliedjies was werklik die kersie op die kultuurkoek wat die naweek net soveel soeter gemaak het.

Van Staden het sy dank uitgespreek aan almal wat bygedra het tot die kamp se sukses, veral die Udolpho-span wat elke kind laat tuis voel het. Vir hom was die impak van die kamp op die jongmense van onskatbare waarde.

“Die kinders het in etlike dae ’n ongelooflike standaard bereik en dit het gewys by die konsert,” sê Van Staden.

“Die ouers sélf was baie opgewonde oor die toekoms van die JSO en almal was dit eens dat dit wat die orkes, wat ’n relatiewe klein orkes is in vergelyking met ander simfonieorkeste is, reggekry het werklik spesiaal is.

“As dirigent is ek baie trots. Daar is so ’n lekker harmonie en kameraadskap onder die orkeslede en ’n ongelooflike wisselwerking tussen die lede.”

Van Staden meen die orkes het ’n baie goeie balans rondom die aantal instrumente wat per seksie is en elke liewe lid het hul absolute bes gegee.

“Hierdie jongmense het ten volle ingekoop in volhoubare orkeskultuur. ’n Mens kan sien hulle besef dat hulle saam met die FAK ’n verskil kan maak om orkesmusiek uit te bou vir die toekoms en self in te ploeg in die volhoubaarheid van klassieke musiek. Hul passie is aansteeklik.”

Buiten vir hul eerste optrede op 19 Maart het die JSO reeds ’n propvol agenda en Van Staden wil almal aanmoedig om dié jong musikante op hul reis te volg:

Op 29 Maart tree die JSO vir die eerste keer by die CCNF (Choral Celebration Network Foundation) se Prestigekonsert by Cornwall Hill College op. Hierdie konsert word gehou ter voorbereiding van die CCNF se beplande orkesfees wat in 2026 by Sun City aangebied gaan word. Kry jou kaartjies hier.