Op 16 Desember 1949 het dr. D.F. Malan voor ’n skare van duisende, aan die voet van die pas ingewyde Voortrekkermonument in Pretoria, gestaan en gevra: “U wat uself Afrikaner noem, waar gaan jy heen? Sal Suid-Afrika nou en altyd vir uself en vir u kinders die uitdaging aanneem en moedig, vasberade u taak aanvaar …?”
Dié vraag was ’n uitdaging om eienaarskap te neem van jou komvandaan en jou toekomspad. In die lig hiervan het die FAK op die voordag van Majubadag (27 Februarie) ’n groepie jong Oraniërs van CVO Orania meer geleer oor die Slag van Majuba en die geskiedenis van die Eerste Vryheidsoorlog.
Barry Müller, FAK se hoof van nasionale projekte, sê geleenthede soos hierdie maak hom baie opgewonde, want dit stel ons in staat om die toekomstige vaandeldraers van ons toekoms te kweek.
“Daar word dikwels gesê mens moet die boompies buig terwyl hulle nog jonk is, en daarom is dit vir die FAK so belangrik om die jeug by ons projekte te betrek. Só plant jy die eerste saadjie oor ons kulturele identiteit en ontwikkel jy die erfenisbewaarders, leiers en denkers van die toekoms,” sê Muller.
Die skool se grondslagfase-groep het vroegoggend op 26 Februarie met dapper en stapper die bekende Monumentkoppie van Orania saam met Cara Tomlinson, kultuurkoördineerder van die FAK in die Noord-Kaap, aangedurf waar sy hulle meer vertel het van die Slag van Majuba.
Die dag is deur ongeveer 80 kinders, hul ouers en onderwysers bygewoon.
Met blink ogies en gretige ore het die jongklomp na die stories van hul voorouers geluister en Tomlinson vertel mens kan nie anders as om trots en hoopvol te voel wanneer mens dié jongmense se passie en nuuskierigheid sien nie.
“Dit is lekker om te sien met hoeveel lewenslus, oortuiging en ywer die kinders leef,” sê sy.
Die leerlinge het soos Boere uit die Eerste Vryheidsoorlog aangetrek en na afloop van die vertelling kon elkeen ’n koeksister geniet.
“Dae soos hierdie is vir die FAK belangrik, omdat ons opnuut bewusmaking van ons Afrikanerkultuur en geskiedenis op ’n lekker manier kan skep.”
Die leergierige kinders het aan Tomlinson se lippe gehang en baie vrae na die vertelling gehad.
“Een dogtertjie het haar hand opgesteek en gevra wie die twee Boere is wat in die geveg dood is en dis ongelooflik om te besef dat selfs die kleintjies wat nie ’n vreeslike konteks het van al die verhale uit ons geskiedenis nie, besef dat dit belangrik is om ons helde, soos Johannes Bekker en Johannes Groenewald te onthou.”
Ongeveer 350 Boere het aan die slag deelgeneem, waarvan slegs twee (Bekker en Groenewald) gesterf het.
Leer hier meer oor die Slag van Majuba
Na afloop van die praatjie is ’n vasvra gehou en die kinders het ywerig daaraan deelgeneem. Die FAK neem ook vandag deel aan die dorpsvieringe van Majubadag.
Hou ons sosiale media dop en leer meer oor jou erfenis in die Noord-Kaap of raak betrokke by die FAK.