Saterdag 19 Julie was die 60ste herdenking van die tragiese afsterwe van ’n belowende jong digter. Ingrid Jonker het op hierdie dag in 1965 in die see by Drieankerbaai verdrink. Sy was maar 31 jaar oud.
Jonker het reeds op 5-jarige ouderdom haar eerste gedig geskryf. Van haar eerste gedigte is in Die Jongspan, die eerste weeklikse Afrikaanse tydskrif vir kinders, gepubliseer. Toe sy 16 was, het sy haar eerste digbundel vir publikasie ingedien. Die leser van dié bundel by Nasionale Boekhandel was nóg ’n invloedryke digter, D.J. Opperman. Opperman is vanjaar 40 jaar gelede op 22 September 1985 in die ouderdom van 70 jaar in Stellenbosch oorlede.

Hoewel Jonker se eerste digbundel afgekeur is, het Opperman potensiaal in haar werk gesien, haar ontmoet en begin raad gee op haar gedigte. Jonker sou hierna baie van haar gedigte vir Opperman stuur. In 1956 is haar eerste digbundel, Ontvlugting, gepubliseer, gevolg deur Rook en Oker in 1963. Haar laaste digbundel, Kantelson, verskyn ná haar dood.
Op Saterdagaand 19 Julie is Jonker en haar mentor-digter se lewe en werk gehuldig by ’n FAK-glansgeleentheid getiteld “Sproeireën & Kantelson”, wat onderskeidelik verwys na een van Opperman se bekende gedigte en Jonker se finale digbundel.

Twee bekende egpare, Wium en Dorothea van Zyl, akademici in Afrikaanse letterkunde, en die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels het by die geleentheid opgetree.
Die aand is afgeskop met die sangeres Grethe van der Merwe se vertolking van ’n toonsetting van ’n bekende Jonker-gedig, “Bitterbessie dagbreek”. Prof. Dorothea van Zyl het daarna oor Jonker, haar kinderjare, die mense in haar lewe, hul invloed op haar digkuns, haar gedigte, haar tragiese afsterwe wat vandag nog mense aangryp, en die ewige jeug van haar digkuns gesels.

“Dit was ’n heerlike en gesellige aand,” sê Elizma Smith, FAK-kultuurkoörineerder in die Kaap. “Petru Wessels se meesterlike voorlesing van Jonker se gedigte bevestig waarom sy steeds ’n gewilde voorleser is van poësie en prosa,” meen Smith. ’n Keur van 12 gedigte van Jonker is gelees, wat insluit die vrolike gedig “Kabouterliefde”, geskryf vir haar dogter Simoné, asook “As jy weer skryf”, “Madeliefies in Namakwaland”, “Moenie slaap nie” en “Ontvlugting”.
Van der Merwe het Jonker se huldiging afgesluit deur toonsettings te sing van die gedigte “Ontvlugting” en “Die môre is jy”.
Prof. Wium van Zyl het op sy beurt gesels oor Opperman by wie hy in die letterkundeklas was as student en later klasassistent by die Universiteit Stellenbosch. “Hy onthou as eerstejaar hoe beïndruk hy was met Opperman se voorlesing uit Raka. Van Zyl het Opperman as digter sonder gelyke en mentor vir vele digters gehuldig,” vertel Smith.
Opperman se debuutwerk is in 1947 met die Hertzogprys bekroon. Van Zyl het ook Opperman se rol as proefleser uitgelig, asook die verseboeke wat deur hom saamgestel is. Opperman het fyn waarneming met alle sintuie as belangrike instrumente vir die digter beskou en konkrete beelde gebruik.
Carel Trichardt, akteur en afgetrede dosent en later hoof van die drama departement van die Universiteit van Pretoria, het ’n keur van Opperman se gedigte, insluitend “Sproeireën”, “Edms Bpk”, “Man met flits” en “Ruimtesentrum Houston” vertolk.
