Teken nou die FAK se petisie en help ons om die korrupsie en agteruitgang te keer.

Pretorianers het Maandagoggend wakker geword met die nuus dat R63 miljoen wat bestem was vir die opknapping van een van die stad se mooiste historiese juwele, die ou Stadsaal, skoonveld is.

Dit is ’n skrynende skande dat die stad se erfenisbakens agteruit bly gaan en daarom eis die FAK antwoorde.
Leonie Marais, bedryfshoof: erfenisrisiko’s by die FAK, sê dit is nie net ’n skande dat soveel broodnodige geld verkwis word nie, maar dat die gebrek aan gehaltewerk ons kultuurskatte net meer skade doen.

“Dit gaan vir die FAK nie net oor die verkwisting van belastinggeld nie, maar ook die somtyds onomkeerbare skade wat aan erfenisbakens aangerig word,” sê Marais.

Marais sê enige werk wat aan historiese geboue gedoen word, moet met uiterse omsigtigheid aangepak word.

“Gewoonlik as daar ’n projek identifiseer word of restourasie aan ’n erfenisstruktuur beplan word, moet ’n bewaringsplan opgestel word wat as’t ware ’n padkaart word vir die projek. Alle ontwerpe en nuwe installasies moet volgens die riglyne van hierdie plan gedoen word.”

Hierdie werk, vertel sy, moet te alle tye “simpatiek” wees en die oorspronklike materiaal so ver moontlik beskerm.
Die feit dat die beplande opknappings nie behoorlik gedoen is nie en die projek nooit voltooi is nie, het die Stadsaal sodanig beskadig dat plaveisel in hope bourommel lê, stukkende vensters oral sigbaar is en die oorspronklike letters, op beelde en die hoeksteen, óf gesteel óf totaal onduidelik is.

Die hartseer waarheid is dat die plaaslike owerheid in Pretoria ’n geskiedenis het van verkwisting en met die onlangse “verdwyning” van R 62 981 422,41 van belastingbetalers se geld is daar opnuut ’n vergrootglas geplaas op die munisipaliteit se onvermoë en onwilligheid om na Pretoria se erfenis om te sien.

In September 2022 is ’n “Renovation, refurbishment, restoration and repair”-dokument deur die argitek Helene Potgieter opgestel waarin sy talle voorbeelde voorlê waar miljoene rand vir verskeie projekte bewillig was wat ook op niks uitgeloop het nie.

Die hoeksteen van die Stadsaal is in 1931 gelê en vier jaar later, op 6 Desember 1935, is die amptelike inwyding deur die destydse hoofregter Johannes Wessels onderneem.

In 1986 is van die eerste herstel- en restourasiewerk aan die dak gedoen teen R665 000 en in 1994 is die klok gerestoureer.

“Ná die herstelwerk wat in 1994 gedoen is, was daar intussen twee onsuksesvolle pogings om restourasiewerk aan die Stadsaal te doen,” skryf Potgieter.

Die eerste daarvan was eenvoudige onderhoud aan die orrel en klok, wat albei toe nog in ’n werkende toestand was, wat in 2005 moes plaasvind. Hierdie werk het ook hand aan hand gegaan met verskeie ander kleiner projekte op items wat skade gelei het weens jare se gebrek aan gereelde instandhouding. Teen 2010 was daar nog geen vordering aan dié werk nie.

“In die voormalige burgemeester Kgosientso Ramokgopa se termyn (2013) is aangekondig dat opknappings gedoen gaan word.”

“Daarvoor is R1,2 miljoen bewillig wat verskeie opknappingswerk, insluitend verbeterde sekuriteitstelsels en WiFi-installering ingesluit het. In 2016 het dit egter aan die lig gekom dat die Ramokgopa-administrasie tot soveel as R90 miljoen in 18 maande aan die projek bestee het.”
Dit was die tweede mislukking.

Die gebou is in dieselfde jaar aan die publiek gesluit, omhein en sedertdien verval dit dag vir dag.

“Met die feite op die tafel is bykans R23 miljoen ’n bittersuur kersie bo op die Pretoriase kultuurkoek,” sê Barry Müller, FAK hoof van nasionale projekte.

“Dit is tyd om te sê genoeg is genoeg en die skuldiges tot verantwoording te roep. Daar is nie net R63 miljoen by belastingbetalers gesteel nie, maar in die proses is ’n kosbare juweel in ons kulturele skatkis van ons almal gesteel.”