Nostalgie, tradisie, kleintyd onthou, gesellige samesyn, kosbare familieresep en koskultuur is alles woorde wat pas by melktert. Dit is dan ook nie verbasend dat Nasionale Melktertdag elke jaar gevier word nie.

Kosskrywers en kosstiliste Mari-Louis Guy en haar broer Callie Maritz verwys op die agterblad van hul boek, Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling, na melktert as die ster van die teetafel. Estee Maritz, wat saam met haar twee kinders aan hierdie boek gewerk het, het op Nasionale Melktertdag met FAK-vriende en melktertliefhebbers kom gesels oor melkterte by die Kaapse FAK-kantoor.

Sy het vertel van die groot hoeveelheid resepte van regoor Suid-Afrika wat hulle vir die boek getoets het. Resepte is wyd en syd gesoek en ingesamel. Talle resepte is uit kerkboekies verkry. Die Voortrekker-melktert het telkens sy opwagting gemaak in resepteboeke. Daar is ook ’n Transvaler, ’n Bloemfonteinse roos, die Outydse Kaapse melktert en die Noord-Kapenaar.

Elke resep is drie keer gemaak. Daar was ook die resepte wat nie wou werk nie, want bestanddele is uitgelaat, moontlik opsetlik om ’n kosbare familieresep nie te verklap nie. Daar was melktertresepte met korse, skilferkorse of krummelkorse en selfs ’n mueslikors en melkterte sonder korse. Geurmiddels sluit in amandel, kaneel, kardamon en sitrusskil. Die Graafwater-melktert met grondboontjiebotter was ’n ongewone, maar baie lekker melktert.

Estee vertel dat melktert eintlik ’n moeilike ding is om te bak, want die kors soek baie hitte terwyl die vulsel nie so warm wil kry nie en blikborde werk goed om te bak. Sy gesels oor die ekstra deeg“kragie” om die rand van die melktert wat die rand van die gebakte melktert so mooi uitgepof maak.

Uiteindelik is 80 resepte vir die boek gekies waarna besluit is oor die rekwisiete vir elke melktert se foto. Terwyl gaste deur kopieë van die boek blaai, verwys Estee na die Koekenaap-melktert met die klapperbolaag wat sy onthou van lank gelede uit haar jare op Lutzville waar sy grootgeword het. Hulle het die resep gesoek vir die boek en opgespoor. Daar is selfs heerlike melktertpoffertjies en melktertskommels.

Die gaste gesels lekker saam. Een tannie vertel van die dosyne melkterte wat sy elke jaar vir die kerkbasaar gebak het. Nog iemand vra hoe melktertbaksters baie jare gelede so baie melkterte koel gehou het. In koeler huise met kleiner vensters en dikker mure is melkterte selfs onder beddens koel gehou. In die gehoor was daar diegene wat hou van ’n amandelgeur in melktert en ander wat glad nie daarvan hou nie. Hulle gesels oor tuisbedrywe en winkels wat lekker melkterte verkoop.

So waar kom ons geliefde melktert wat al vir baie geslagte gebak word en so tuis is op elke kerkbasaartafel dan vandaan? Die antwoord is dat dit moontlik ’n vermenging is van iets uit die koskultuur van twee van ons stamlande: delikate skilferkors uit Frankryk en die melkvulsel en amandelgeur uit Nederland.

’n Gesellige kuieraand saam met Estee Maritz word afgesluit met ’n lekker groot sny “smelt in die mond”-melktert van Cakebread, hierdie familie se Kombuisstudio, en ’n lekker koppie boeretroos. Die Cakebread-melktert, met ’n veerligte skilferkors, is ’n “onthou melktert” uit Mari-Louis en Callie se kinderjare.

Kopieë van Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling, ook beskikbaar in Engels as The South African Milktart collection, is in 20 ambassades regoor die wêreld. ’n Tweede druk van die boek is in die vooruitsig.

Kapenaars wat graag inligting wil ontvang van toekomstige kultuur- en erfenisgeleenthede wat ons aanbied, kan gerus die Kaapse FAK Kultuurtuiste by kaapstad@kultuurtuiste.org.za kontak.