Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die afgelope naweek sy eerste Genealogiefees in die Kaap gehou in samewerking met die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV). FAK-Genealogiefeeste word reeds sedert 2020 in Pretoria onder leiding van Isabel Groesbeek, aan die stuur van die FAK Genealogielessenaar, gehou. Nou was dit ook die Kaap se beurt.
Reeds van vroegoggend af het dit besig geraak by SASNEV. Daar was verskeie uitstallers waaronder familiebonde, families, die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika, die Kaapse kerkargief, Protea boekwinkel en die FAK.
Nantes Kruger, een van die uitstallers by die Kruger-tafel, vertel van sy droom wat hy gehad het.
“Toe ek Kaap toe verhuis het, het ek dadelik begin dink aan planne om ’n Krugerbond te stig,” sê Kruger.
By prof. Gerhard Geldenhuys se tafel trek diagramme oor die invloed van oorerflikheid op families jou aandag. Daar is families met geslagte bekende skrywers, die musikale families en die sportiewe families.
By die Van der Walt-tafel sien jy dadelik die groot ou, maar duidelike foto van die man by sy perd raak. “Hierdie foto was die beginpunt van my pa se navorsing oor die Van der Walt-familie,” sê Karinien van der Walt.
Terwyl sy in Pretoria studeer het, het haar pa haar dikwels met ’n opdrag argief toe gestuur om inligting te gaan soek.
By die Le Roux-tafel wys Paul le Roux die talle plakboeke wat hy van vorige navorsers gekry het wat hy nou gebruik vir verdere navorsing. Dawid de Klerk stal uit vir die De Klerk-familie en Jan en Katja Roussouw vir die Rossouw-familie. Vir beide hierdie families is publikasies met geslagsregisters en vertellings reeds vrygestel.
Twee gevestigde familiebonde, die Murray- en Malan-bonde het ook uitgestel met talle publikasies. Twee jaar gelede het die Murrays 200 jaar in Suid-Afrika gevier.
Buite is die Nederlandse kosstalletjie ook gereed gekry om heerlike Nederlandse eetgoed te verkoop, soos krokette, bitterballe, rookworst, poffertjies en drinkgoed.
Besoekers aan die fees kon ook die geleentheid benut om tydens die lesings wat aangebied is kennis te maak met ’n sestal Kaapse verenigings en instellings wat besig is met genealogiese navorsing of materiaal bewaar wat vir genealogiese doeleindes gebruik kan word.
Een van die sprekers vir die dag, Jaco van der Merwe, voormalige hoofargivaris van die Kaapse argief, het sy dank uitgespreek en merk op dat hy die fees vreeslik geniet het.
“Dankie vir die wonderlike fees. Dit was leersaam en sielsverreikend en ek het lekker met die pragtige mense saamgekuier,” meen Van der Merwe.
Hy vertel ook van ’n oom Myburgh wat hy by die fees raakgeloop het van wie hy direkte familie is van Moorrreesburg se wêreld.
Jeanette Riley, wat ook die fees bygewoon het, het pas met haar familienavorsing begin en meen dat die lesings waarlik baie insiggewend was.
“Al die sprekers se kundigheid het my opgewonde gemaak en met nuwe oë na genealogie laat kyk,” sê Riley.
Die sprekers wat hulle kundigheid en ervaring met groot passie gedeel het, was Eureka Barnard van SASNEV, Jaco van der Merwe, afgetrede argivaris van die Kaapse Argief, Henk Rall, voorsitter van die Wes-Kaap-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, dr. Andrew Kok, voorsitter van die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika en hoof van die NG kerkargief, dr. Helena Liebenberg van die Tracing History Trust, Amohelang Boyce van die CPUT-biblioteek en dr. Gustav Hendrich van die Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens.
Rinie Hansen het ook die fees bygewoon en hoop dat die fees jaarliks aangebied sal word.
“Wat ’n voorreg om die eerste FAK Kaap Genealogiefees by te woon! Dit was uiters leersaam. Praktiese raad is gedeel en slaggate is uitgewys. Ek het die belangrikheid besef van die konteks en geskiedenis van die era waarin diegene wat jy navors, geleef het. Daarom is ’n holistiese benadering tot genealogie noodsaaklik. Die genealogie-simposium het ’n geleentheid geskep om kundiges te ontmoet wat in die toekoms geraadpleeg kan word. ’n Feestelike atmosfeer het geheers. Mag dit ’n jaarlikse instelling word,” meen Hansen.
Elizma Smith, kultuurkoördineerder in die Kaap, het die dag vreeslik geniet.
“Dit was heerlik om in die Kaap ’n genealogiefees te kon hou. Saam met ander mense wat ’n passie vir genealogie deel, kon ons ons erfenis vier en saam opgewonde raak oor die inligting en stories wat steeds opgeteken word uit mense se navorsing en dokumente wat deur transkribering ontsluit word,” het Smith gesê.