“Om ’n deeglike kennis van die Bybel op te doen, dra ewigheidswaarde …”
Só vertel Cara Tomlinson, FAK-kultuurnetwerkorganiseerder in die Noord-Kaap, wat die afgelope week hande gevat het met die BCVO in dié beweging se jaarlike Bybelkenniseksamens.
Buiten vir die uitsonderlike werk wat Tomlinson saam met en vir die FAK in die Noord-Kaap doen, is sy ook die kultuurverteenwoordiger vir die Noord-Kaap-streek se CVO-skole. Sy vertel dat dit vir haar ’n voorreg is om by beide organisasies die geleentheid te kry om die land se jeug te bemagtig om die leiers van die toekoms te word.
In die geskiedenis leer ons hoe die Afrikaner verskeie uitdagings moes trotseer om ’n toekoms in Suid-Afrika te bou en élke verhaal in ons geskiedenisboeke getuig van die genade van God en die onwrikbare vertroue wat die Afrikaner sedert 1652 tot vandag in God stel.
Net soos die FAK, beywer die BCVO (Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys) se onderwysers en ouers hulle om ’n goeie grondslag vir die leerlinge te lê. Nie net akademies nie, maar ook kultureel en in elke kind se geloofslewe.
“Die BCVO bied elke jaar ’n kultuurprogram vir leerlinge aan waarin hulle aan verskeie kultuuraktiwiteite kan deelneem. Hierdie kultuuraktiwiteite strek van drama, poësie, musiek, sang, literêre werk, kuns tot redenaars en Bybelkenniseksamens,” sê Tomlinson.
Bybelkenniseksamens by die BCVO vind individueel of in spanverband plaas. Indien leerlinge in die eerste ronde presteer, kwalifiseer hulle vir ronde twee. Waarna slegs die top-6-individue en spanne landswyd na die derde ronde genooi word.
Ronde twee van die BCVO se Bybelkennis is vanjaar op 25 Maart by elke CVO-skool in die land geskryf.
Dié Bybelkennisvraestelle bestaan uit verskeie afdelings soos woordsoek, blokkiesraaisel, kortvrae en ook algemene kennis-vrae en vanjaar het leerlinge vanuit die 1933/53-vertaling vir die vraestel voorberei.
Bybelkenniseksamens is nie net ’n kompetisie nie, dit is ’n geleentheid om die Woord van die Here te leer ken. Dit is ’n ruimte wat geskep word in CVO-skole vir leerlinge om kennis op te doen. Kennis van die Woord is noodsaaklik, dit lei ons en gee ons rigting op ons lewenspad.
In 2 Timoteus 3:16-17 word dit duidelik dat kennis van die Woord vir oud en jonk ’n fondasie lê om ’n vervullende lewe te lei: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Tomlinson bestempel die Bybelkenniseksamens as iets wat ewige beloning het.
“Die Bybelkennis wat kinders opdoen, dra ewigheidswaarde en is iets wat hulle lewenslank in hul alledaagse lewens kan en moet toepas.”
Die leerlinge wat uitgenooi word na die finale ronde van die BCVO se Bybelkennis sal op 2 en 3 Mei almal in Krugersdorp by CVO Wesrand die finale eksamen aflê. Hierdie ronde is altyd baie lekker aangesien dit baie aktief en tydsgebonde is.
Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, verduidelik Tomlinson se werk in die Noord-Kaap getuig van die verskil wat gemaak kan word wanneer gemeenskappe saamstaan om ’n beter toekoms te bou.
“By die FAK vat ons gereeld hande met gemeenskappe en ander kultuurorganisasies om nie net ons erfenis te bewaar en uit te bou nie, maar belangriker dalk ons jeug te ontwikkel en ’n sterk kulturele identiteit onder jong Afrikaners vas te lê,” sê Van Huyssteen.
Dit is juis waarom dit nou belangriker is as ooit tevore om as Afrikanergemeenskap saam te staan en ’n toekoms te bou. Word ’n vriend van die FAK en bou saam: https://sluit-aan.fak.org.za/