Die klavier is sonder twyfel die mees veelsydige musiekinstrument wat daar is, omdat dit al vir feitlik enige musiekgenre gebruik is, of gebruik kan word.

Bartolomeo Cristofori, wat van 1655 tot 1731 gelewe het en van Italiaanse afkoms was, is die man wat erkenning gegee word vir die uitvinding van die klavier. Hy was ’n bekende vervaardiger van klavesimbels en sy kennis van klawerinstrumente met snare het hom gehelp om die klavier te ontwikkel. Hoewel dit nie bekend is wanneer presies die eerste klavier gebou is nie, dui ’n inventaris van sy werknemer, die Medici-familie, daarop dat dit omtrent in 1700 ontstaan het. Die naam van die klavier was aanvanklik “un cimbalo di cipresso di piano e forte”, met ander woorde ’n klawerbord uit sipres met sagte en harde note. Later is dit afgekort na pianoforte, fortepiano en op die ou einde piano.

Sy grootste sukses was die ontwerp van ’n klawerinstrument met snare waarin die note deur hamers geslaan word. Die hamer moet die snaar slaan, maar nie in kontak daarmee bly nie omdat volgehoue kontak die klank sou demp en keer dat die snaar vibreer en ’n klank voortbring. Dit beteken dat, nadat die snaar geslaan is, die hamer vinnig van die snare af moet val of terugspring. Boonop moet die hamer na sy rusposisie terugkeer sonder om gewelddadig te bons om sodoende te verhoed dat note deur toevallige terugslag gespeel word, en dit moet onmiddellik terugkeer na ’n posisie waarin dit gereed is om weer te speel nadat sy sleutel ingedruk is sodat die speler die noot vinnig kan herhaal wanneer dit verlang word. Cristofori se model was die voorloper van soortgelyke benaderings wat tot in die volgende eeu gevolg is.

Sy instrument was onbekend totdat ’n Italiaanse skrywer, Scipioni Maffei, in 1711 ’n uiters gunstige artikel daaroor geskryf het. Dit is in Duits vertaal en wyd versprei. Die meeste klaviervervaardigers van die volgende geslag het hul werk op grond van hierdie artikel begin. Een van hulle was Gottfried Silbermann, wat hoofsaaklik bekendheid as orrelbouer verwerf het. Hoewel sy klaviere byna presies dieselfde as Cristofiri was, was daar een belangrike toevoeging. Hy het die voorloper van die hedendaagse pedale, wat al die dempers van die snare tegelyk oplig, uitgevind. Dit stel die pianis in staat om die note wat ingedruk is, vol te hou selfs nadat sy of haar vingers opgehou het om dit te druk. Deur ’n noot met die pedaal vas te hou, kan die pianis sy of haar hande na ’n ander register van die klawerbord plaas ter voorbereiding van ’n volgende afdeling.

Silbermann het die instrument in die 1730’s aan Johann Sebastian Bach gewys, maar Bach het destyds nie daarvan gehou nie. Hy het gesê die hoë note was te sag om ’n volle dinamiese reikwydte voort te bring. Hoewel hierdie kritiek vyandigheid veroorsaak het, het Silbermann ag op hierdie kritiek gegee. Bach het sy goedkeuring aan ’n weergawe wat hy in 1747 gesien het, gegee en het selfs op ’n stadium as verkoopsagent van Silbermann se klaviere opgetree.

In die tydperk van 1790 tot 1860 het die klavier van die Mozart-era groot veranderinge ondergaan en dit het tot die moderne struktuur van die klavier aanleiding gegee; die reikwydte is onder meer van vyf na sewe oktawe vergroot.

Daar is vandag hoofsaaklik twee tipe klaviere, naamlik ’n regop klavier en ’n vleuelklavier. Daar word vandag ook elektriese en digitale klaviere vervaardig. Die vleuelklavier is beskikbaar in drie groottes, naamlik Baby grand, waarvan Billy Joel en Ray Charles gesing het, wat omtrent 1,5 meter lank is; ’n Parlor Grand, ook bekend as Boudoir Grand, wat tussen 1,7 en 2,2 meter lank is; en die vlagskip, bekend as die Concert Grand, wat tussen 2,2 en drie meter lank is. Langer klaviere met langer snare bring ’n groter en ryker klank voort, tesame met laer inharmonisiteit van die snare. Inharmonisiteit is die mate waarin die frekwensies van die botone skerp klink relatief tot die heel veelvoude van die fundamentele frekwensie. Klaviere met korter en dikker snare het meer inharmonisiteit. Hoe groter die inharmonisiteit, hoe meer ervaar die oor dit as ’n harde toon.

Soos wat tegnologie meer gevorderd geraak het, is elektroniese klaviere in die 1970’s en digitale klaviere in die 1980’s ontwikkel. Die elektriese klaviere het veral in pop- en rock-musiek gewild geword, maar in klassieke musiek word hulle gewoonlik vir repetisies of oefeninge gebruik omdat hulle nie so duur soos byvoorbeeld ’n vleuelklavier is nie. Hulle het nie snare of hamers nie, maar sintetiseerders wat die klank van ’n gewone klavier naboots. Dit moet aan ’n klankversterker en luidspreker gekoppel word om klank voort te bring hoewel sommige elektroniese klawerborde dit reeds ingebou het. Andersins kan ’n elektroniese klavier met oorfone bespeel word.

Sommige klassieke komponiste, soos Mozart, Beethoven en Haydn, het musiek vir die pianoforte, die voorloper van die hedendaagse klavier gekomponeer en selfs komponiste van die romantiese era, onder meer Lizst, Chopin, Brahms en Mendelssohn het musiek gekomponeer vir klaviere wat baie van die hedendaagse weergawes verskil het. Teen die einde van Beethoven se loopbaan het die fortepiano begin ontwikkel in die klavier soos ons dit vandag ken. Die klaviere wat sedert die laat 19de eeu gebruik is, het ’n groter oktaaf-reikwydte gehad en die dertig bykomende klawers het gemaak dat die diep basnote en die diskantnote vermeerder het.

Tydens die 19de eeu het Amerikaanse musikante vir gehore van die werkersklas begin speel, en veral Scott Joplin, wie se musiek in 1973 vir die rolprent The Sting gebruik is, het bekendheid verwerf. Die gewildheid van ragtime-musiek, wat Joplin gespeel het, is opgevolg deur dié van jazz. George Gershwin se “Rhapsody in blue” was grensverskuiwend deurdat dit Amerikaanse jazz met simfoniese klanke gekombineer het.

In die 1950’s het Jerry Lee Lewis begin deur die klavier vir rock and roll-musiek te gebruik, terwyl Little Richard gou dieselfde gedoen het. Sedertdien het The Beatles, met John Lennon as klavierspeler, dit vir hul musiek gebruik; hoewel Lennon gesê het dat “Ob-la-di-ob-la-da” die een liedjie van The Beatles was waarvan hy die minste gehou het, het hy die klavierinleiding aan die begin van die liedjie uitgewerk. Twee liedjies van die 1970’s wat soms as die beste ooit beskou word en waarin die klavier prominent voorgekom het, was “Imagine” van John Lennon en “Bohemian rhapsody” van Queen.

In die 1970’s en 1980’s het Billy Joel en Elton John bekendheid verwerf as sangers wat tydens hul optredes klavier gespeel het, en “Piano man” het Joel se “kenwysie” geword. Ander groepe wat gereeld van die klavier in hul musiek gebruik gemaak het, was Bob Seger and the Silver Bullet Band en Bruce Hornsby and the Range. In Suid-Afrika het veral Coenie de Villiers as sanger, klavierspeler en liedjieskrywer bekendheid verwerf, terwyl Jim Muller en Taffie Kikilus baanbrekerswerk gedoen het. Christa Steyn was bekend as liedjieskrywer, en sy kon kontemporêre en klassieke musiek ewe goed speel. Sy was ook jare lank Jannie du Toit se gereelde klavierspeler totdat sy in 2012 oorlede is. Rocco de Villiers is seker Suid-Afrika se voorste klavierspeler op die oomblik, en hy is tans besig met ’n vertoning waarin hy hulde aan Muller, asook ander Suid-Afrikaanse musieklegendes soos Nico Carstens en Hansie Roodt, bring.