Konsentrasiekampdag is vanjaar vir die eerste keer in Bloemfontein herdenk. Die FAK se Sentraal-kultuurnetwerk onder leiding van Lieandri Ackermann, en die Noord-Kaap-kultuurnetwerk onder leiding van Cara Tomlinson, het op 16 Junie saamgespan om ’n besonderse Konsentrasiekampdag in die Vrystaatse hoofstad aan te bied.
Die dag het deelnemers op ’n aangrypende reis deur die geskiedenis geneem en lig gewerp op die Anglo-Boereoorlog, die haglike omstandighede in die konsentrasiekampe, asook die verhaal van opstaan en opbou ná die oorlog.
Die aandoenlike dag het gefokus op historiese bewusmaking, herdenking en die bewaring van herinneringe aan die sowat 34 000 vroue en kinders wat landwyd in konsentrasiekampe gesterf het. Historikus Lambertus van Rensburg het die gaste langs verskeie bestemmings geneem en telkens na die gebeure verwys wat die geskiedenis van die Vrystaat en Suid-Afrika gevorm het.
Die dag het vroegoggend by die Bybelhuis in Nelson Mandelarylaan begin, waarna die groep na die Dam van Trane en die Bron van Herinnering beweeg het. By die Bron van Herinnering, die oorspronklike put waar inwoners van die Bloemfontein-konsentrasiekamp hul water moes gaan haal, het Van Rensburg meer vertel oor die moeilike omstandighede wat die kampbewoners daagliks te bowe moes kom.
Hierna het die groep na die President Brand-begraafplaas vertrek, waar hulle deur die Venter-gesin verwelkom is. Die Venter-gesin speel reeds vir baie jare ’n belangrike rol in die instandhouding en versorging van dié historiese begraafplaas. Deelnemers kon eerstehands sien hoe gemeenskapslede verantwoordelikheid vir die bewaring van hul geskiedenis en erfenis neem.
’n Hoogtepunt van die dag was die besoek aan die Bloemfontein-konsentrasiekampbegraafplaas. Hier het die FAK en verteenwoordigers van die Ou Presidensie van Bloemfontein kranse gelê ter nagedagtenis aan die slagoffers van dié kamp. Lede van die publiek is ook genooi om blomme te plaas as ’n persoonlike teken van herinnering en eerbetoon.
Die Bloemfontein-konsentrasiekamp was een van die grootste kampe gedurende die Anglo-Boereoorlog. Die kamp het vanaf September 1901 tot 1903 bestaan en het ongeveer 5 600 inwoners gehuisves. Gedurende hierdie tydperk het sowat 1 670 vroue en kinders hul lewens verloor as gevolg van swak lewensomstandighede, onvoldoende voedselvoorrade en beperkte mediese sorg.
Die groep het daarna die terrein van die swart vlugtelingskamp besoek. Hierdie deel van die geskiedenis word dikwels minder bespreek, maar vorm ’n belangrike deel van die breër verhaal van die oorlog. Deelnemers het meer geleer oor die omstandighede waaraan swart Suid-Afrikaners gedurende die oorlog in die vlugtelingskampe blootgestel is en die uitdagings wat hulle in die kampe ervaar het.
Die dag is afgesluit by die Vrouemonument, een van die belangrikste herdenkingsplekke in die Afrikanergeskiedenis. Hier het deelnemers ’n toer van die konsentrasiekampgrafsteentjies en die bekende beeldegroep ontvang. Dié monument staan reeds vir meer as ’n eeu as ’n stille getuienis van die lyding van vroue en kinders gedurende die oorlog en herinner besoekers aan die waarde van onthou en geskiedkundige bewussyn.
Volgens Ackermann het die groot belangstelling in die dag getoon hoe belangrik dit steeds is om historiese gebeure te onthou en te bespreek.
“Ons doel was nie bloot om historiese feite oor te dra nie. Wanneer ’n mens by die grafte staan, die name lees en die verhale hoor, word die geskiedenis sigbaar en tasbaar. In daardie oomblik verstaan ’n mens waarom dit belangrik is om te onthou en dié stuk geskiedenis aan die volgende geslag oor te dra.”
Tomlinson sê die sukses van die eerste Konsentrasiekampdag in Bloemfontein wys dat daar steeds ’n behoefte bestaan om die geskiedenis van die konsentrasiekampe te bestudeer en te herdenk.
“Hierdie dag gaan nie oor bitterheid nie, maar oor herinnering. Ons onthou die mense wat gely het, ons eer hul nagedagtenis en ons sorg dat toekomstige geslagte ook hierdie deel van ons geskiedenis ken. ’n Volk wat sy geskiedenis vergeet, verloor ’n deel van sy identiteit.”
Die FAK glo dat geskiedenis nie slegs in handboeke bewaar moet word nie, maar deur persoonlike belewenisse, besoeke aan historiese terreine en die vertel van stories aan nuwe geslagte voortleef. Deur in die voetspore van die verlede te stap, word die geskiedenis meer as net datums en syfers – dit word ’n verhaal van mense, families en gemeenskappe.



