“… Want dit is óns mense, óns storie, óns kultuur.”
Só antwoord Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, die vraag: “Waarom moet ons nog die mense onthou wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het?”
Rademeyer het op Sondag 18 Mei, op die vooraand van die herdenking van die Vrede van Vereniging wat op 31 Mei 1902 onderteken is, meer as 600 mense toegespreek tydens ’n emosionele herdenkingsgeleentheid by die konsentrasiekamp in Polokwane.
“Die FAK staan vir toekoms, tuiste en trots. Dit is ’n organisasie wat ons kultuurerfenis beskerm, bewaar, behou en bevorder – nie net in woorde nie, maar in dade, soos vandag se betekenisvolle byeenkoms bewys,” sê Rademeyer.
Die FAK het dié besonderse geleentheid saam met die Doornkraal Voortrekkerkommando aangebied.
“Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar wat die gemeenskap van Polokwane hierdie gedenkdiens aanbied en dit is wonderlik om te sien hoe dit jaarliks groei,” sê hy.
Meer as 600 mense uit Polokwane en die omliggende omgewing het byeengekom om hulde te bring aan die vroue en kinders wat hul lewens op die spel geplaas het om ’n toekoms vir die Afrikaner in Afrika te bou en vir Rademeyer was die boodskap duidelik: “Saam het ons krag.”
“Ons het vandag op grond gestaan waar pyn en opoffering geanker is. Maar ons vertrek met ’n boodskap van hoop en krag: ons onthou nie net nie – ons leer, ons bou, en ons dra dit oor. Die konsentrasiekampgeskiedenis is nie net ’n storie van lyding nie, maar van volharding. Nie net ’n herinnering aan verlies nie, maar aan ’n volk se veerkragtigheid.
“Laat ons dan vandag wegstap met nuwe vasberadenheid: om te bly beskerm wat kosbaar is, om trots te wees op wie ons is, en om ’n tuiste te wees vir elkeen wat deel van hierdie kultuurerfenis is. Mag die stemme van ons voorgeslagte nie stil wees nie, maar ons aanmoedig, lei en inspireer,” sê Rademeyer.
Die FAK se bedryfshoof, Ziegfried van Huyssteen, deel Rademeyer se sentiment en sê dit is inspirerend om te sien hoe ’n gemeenskap in hul honderde opdaag om sáám hul taal, kultuur en geskiedenis uit te bou en bewaar.
“By die FAK sien ons daagliks die verskil wat mense in klein gemeenskappe kan maak as hul saamstaan en vandag het ons weer gesien hoe mense saam aan ’n toekoms bou,” sê hy.
“Vandag kyk ons nie net terug in die verlede in nie, maar ons bou saam aan ’n toekoms, geïnspireer deur die helde uit ons verlede.”
Die FAK se kultuurnetwerk in Polokwane is een van die organisasie se jongste kultuurnetwerke, maar sedert sy stigting in Julie verlede jaar, is diep spore reeds getrap.
Hester Roodt, voorsitter van dié kultuurnetwerk, is ’n bekende naam in erfeniskringe en het ’n persoonlike liefde en belangstelling in die konsentrasiekampterrein ontwikkel toe sy jare gelede deel was van die span wat aan ’n rehabilitasieprojek op die terrein gewerk het.
“Ek het jare gelede besef ’n mens kan nie hierdie terrein in die toestand los waarin hy jare gelede was nie,” vertel Roodt.
“Ons was ’n handjievol mense wat hieraan gewerk het en kort voor lank het die gemeenskap sélf ingespring en ons kom help. Vandag is ek baie trots dat ons weekliks nog werk hier doen. Ons wil graag dié werk van ons by ander erfenisgebiede in die omgewing voortsit.”
“Kultuur is nie net een mens of een groep se verantwoordelikheid nie en ons geskiedenis is sterk verweef met ander kulture. Dit is mooi om te sien hoe ander volke ook met ons kultuurnetwerk wil hande vat om hiermee te help, byvoorbeeld wanneer ons hopelik in die nabye toekoms werk by Fort Campbell naby Marabastad kan begin doen.”
Vir Roodt is hierdie projekte nie net ’n tydelike oplossing nie, maar ’n oproep om ons jeug te bemagtig.
“Die werk wat ons kultuurnetwerk en organisasies soos die FAK doen, bewys wat ons werklike verantwoordelikheid is. Dit is ’n opvoedingstaak om ons jongmense te bemagtig en op te roep om die bewaarders van die toekoms te word.”
Die FAK wil ook graag sy dank betuig teenoor Pietersburg Hoërskool, Laerskool Pietersburg-Suid, Hoërskool Tom Naudé, Power Surface Sollutions, Akademie Reformia, Oos Skool, Ghost Riders, die Maroela-volkspelelaer, en PBG Hulpgroep, wat gehelp het om die geleentheid moontlik te maak.