Mediaverklaring

12 Julie 2024

Die inhoud van oudpresident Paul Kruger se sterfkamer, uit Clarens in Switserland, het 120 jaar later sy tuiste gevind by ons kultuurtuiste, die Voortrekkermonument.

Die inisiatief is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) van stapel gestuur.

Na die Villa in Clarens in die vroeë 90’s verkoop is, is ’n serwituut vir 25 jaar aan die FAK goedgekeur. Dié serwituut het in 2021 verval en die inhoud van die vertrek waarin Kruger oorlede is, is aan die FAK terugbesorg en in die Kruger-galery by die VTM opgeneem.

Die FAK het vandag (12 Julie), kort voor die herdenking van Kruger se sterfdag op 14 Julie 1904, tydens ’n spoggeleentheid by die Voortrekkermonument die nuwe Kruger-sterfkamer, ’n replika van die vertrek waarin hy oorlede is, bekendgestel.

Die oorspronklike bed waarin Kruger gesterf het staan al vir jare in die Krugerhuis in Pretoria en nou kan die replika wat spesiaal vir Villa Kruger gemaak was hiér gesien word.

Danie Langner, besturende direkteur van FAK sê dis ’n geskiedkundige oomblik om die artefakte weer op eie bodum te hê.

“Dis ’n groot voorreg vir die FAK om hier by die VTM die Kruger-Sterfkamer te kon bou,” sê hy.

“Dit maak vir die FAK sin om dit hier by die monument te doen omdat Kruger se voetspore ook in die Groot Trek getrap is.”

Paul Kruger was as jong seun deel van die Slag van Vegkop en word ook op dié veldslag se fries in die monument se heldesaal uitgebeeld. Die Vrijheidsreis uitstalling in die kelder van die monument eindig ook in Pretoria, op die voorstoep van Paul en Gezina Kruger se huis en in die Historiese Trekroetetuin staan ’n 14-jarige Kruger wat ’n leeu jag ook sy plek vol.

Villa Kruger, soos dit deur die jare bekend geword het, is die huis waarin die voormalige president van die Zuid-Afrikaansche Republiek die laaste ses maande van sy lewe deurgebring het.

Tydens die amptelike bekendstelling van die Kruger-sterfkamer het prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK se direksie ’n toespraak gelewer oor “die betekenis van Paul Kruger in 2024”.

Goosen sê die nabyheid met Kruger se sterfkamer vul mens met ontsag.

“Hier waar ons staan, is ons met ontsag gevul, nie net omdat ons voor Kruger se sterfkamer staan nie, maar omdat ons vandag weer ’n reus uit ons geskiedenis se lewe kan vier. Ons is, om Anna M Louw aan te haal, ‘dankbaar vir die geskenk wat Paul Kruger se nalatenskap steeds vir ons beteken.’”

Twee broers Paul en Pieter (Tokkie) Kruger, wat sesde geslag-afstammelinge van die ontslape Kruger is, het ook die verrigtinge by gewoon.

Paul (52) het spesiaal uit die Kaap hier kom kuier en sê dit maak hom ongelooflik trots om te weet sy grootoupa word vandag nog hier by die VTM vereer.

“Dit klink so geyk, maar die waarheid is ek kan nie anders as om oor te loop van trots nie.”

“Ek en my gesin het in 2017 Switzerland toe gereis om die huis te besoek en nou kan ons, vir die eerste keer ooit, hier in Pretoria kom kuier om nader aan die storie van ons grootoupa te kom,” sê Paul.

Pieter (66) sê vandag was vir hom ’n emosionele oomblik.

“Ons het groot geword met die stories van ons oupagrootjie se oupa en vandag het dié stories weer net duideliker geword met die voorwerpe uit sy verhaal wat hier voor ons staan. Dit maak mens emosioneel en trots,” sê Kruger.

“Deesdae hoor mens al hoe meer dat jongmense nie die geskiedenis ken nie en mens raak bang dat dié verhale gaan verdwyn so ons is baie dankbaar dat die FAK die storie van ons familie hier bewaar en vertel word.”

Hiermee is ’n kort geskiedenis van Kruger Villa:

Die Krugerhuis is in 1873 gebou en geleë in Clarens, langs die meer van Genève in Switserland. President Kruger het in ballingskap op 14 Julie 1904 in die huis gesterf. Die sterfhuis van president Kruger is reeds sedert 1910 as ’n informele museum bedryf. Op 10 Oktober 1949 kondig die eerste minister, dr. DF Malan, aan dat die sterfhuis in Switserland aan die regering te koop aangebied is. Die FAK word versoek om die 10 000 pond in te samel. Landswye insamelings is onder leiding van die FAK geloods en die fondse in ’n rekordtyd ingesamel. Die huis is op 27 Februarie 1950 gekoop en in 1951 aan die FAK oorgedra. Gedurende 1954 het die FAK ’n besoekersboek aan die Krugerhuis voorsien en GD Scholtz versoek om ’n brosjure oor Kruger se laaste lewensjare te skryf. In 1957 is goedgekeur dat Kruger se laaste boodskap in Afrikaans vertaal en as muurteks beskikbaar gestel word. Die Krugerhuis is deur die Suid-Afrikaanse Ambassade in Bern namens die Suid-Afrikaanse regering en FAK in stand gehou. Hulle het ook die personeel en opsigters aangestel.

Kort voor die 1994-verkiesing het die kabinet die verkoop van die Krugerhuis goedgekeur met ’n serwituut aan die FAK vir 25 jaar ten einde die sterfkamer as gedenkwaardigheid te behou. Meneer Johann Roode, uitvoerende voorsitter van Genfood, het persoonlik betrokke geraak en Genfood het ingewillig om die gebou oor te neem, te restoureer en as gastehuis te benut – Villa Kruger. Ongeveer in 2000 is die gastehuis verkoop aan Britse dames en daarna weer aan ’n Franse sakeman, Phillip Bomme.

Die serwituut van die FAK is in stand gehou deur Villa Kruger Trust. In 2021 het die eienaar aangedui dat die serwituut verval en dat die huis as privaat woning verkoop word. Nadat dit bekend geword dat Villa Kruger in die mark is vir R90 miljoen het die eienaar ingewillig om die bestaande inhoud van die sterfkamer aan die FAK terug te stuur met die oog op ’n permanente uitstalling van die sterfkamer by die Voortrekkermonument.