“Musiek is ook ’n vorm van kuns wat klanke en stiltes bevat, net soos beeldende kuns stiltes bevat wat die lewe weerspieël.”

Só vertel Marize Möller, kurator van die VTM-FAK Kunsgalery (VFK) wat op 28 Julie die eerste Kuns en Kamermusiek-vertoning vir die jaar aangebied het.

Die Voortrekkermonument (VTM) het gasheer gespeel vir dié skouspel van kleur en klank wat die talente van drie van ons land se topmusikante, Kerryn Wisniewski (Tjello), Lizette Smith (Klarinet) en Annalien Ball (klavier), en die kunstenaars van VFK saamgebring het om die wonder van Afrikaanse kunste te vier.

Hierdie konsert was werklik ’n unieke musiek-en-kunservaring, met drie werke van Johannes Brahms, Michael Glinka en Marko Tajčević wat deur die kunstenaars gespeel is.

Smith, wat in die verlede al by verskeie FAK-produksies betrokke was, sê dit was werklik ’n voorreg om in die monument te kon speel.

“Om hier in die monument te speel, is ’n emosionele ervaring,” sê sy.

“Dit was werklik ’n voorreg om hierdie projek saam met die FAK te kon aanpak.”

Barry Müller, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se hoof van nasionale projekte, sê hierdie projek is ’n sprekende bewys van die uitnemende kuns wat ons land al opgelewer het.

“Vir die FAK is dit belangrik om alle aspekte van ons kultuur te vier en uit te bou,” sê Müller.

“Kuns en musiek is in wese iets wat met mense praat, wat mense inspireer en daarom is dit vir ons so spesiaal om dit met hierdie projek te kon kombineer.”

Om taal, kultuur, geskiedenis en kuns te kan bevorder, vertel Müller is dit belangrik om ’n liefde daarvoor onder mense, veral ons jeug, te kweek.

“Daarom pak ons hierdie tipe projekte aan. Om ons jong musikante en ons jong kunstenaars te inspireer én die wat voor hulle gekom het te vier en hul nalatenskap lewend te hou.”

Tydens die geleentheid is die kuns van Gerrit Pitout, Jacques Müller, Lute Vink, Lucas de Wit, Elsa Cornelissen, Dawie Fourie, Ingrid Fouche, Johan Kok, Christelle Janse van Vuuren, Sannette Boshoff, Alain Nortje, Petra Magyar, Nic Grobler, Pieter Wentzel, Kobus Möller, Janet van Wyk en Piet Smit uitgestal en sal ook later in ’n digitale veiling opgeveil word.

Möller sê sy is baie opgewonde om met hierdie projek te kan wys dat kunstenaars in Suid-Afrika werklik wêreldklas is en sy hoop dat mense hierdeur geïnspireer word om hul eie stories, hul geskiedenis en hul kultuur trots te begin uitleef.

“Die portrette wat hier in die VFK gesien kan word, het die vermoë om emosies in mense wakker te maak, net soos wat ons gesien het met die kamermusiek wat vandag gespeel is.”

Kontak gerus vir Marize Möller per e-pos by marizemoller@kultuurtuiste.org.za of skakel 081776997 vir meer inligting.