MERKERS het gisteraand, 4 Junie, by Die Centurion Teater die gehoor diep geraak met ’n unieke kombinasie van musiek en woorde.
Ná ’n uitverkoopte openingsaand by die FAK-VTM-Kunsgalery, het die geselskap die verhoog betree vir ’n tweede keer – en dié keer kon nog meer mense die emosionele reis saam beleef.
Sallas de Jager, regisseur en kunstenaar in die produksie, sê: “Ons wou ’n ervaring skep wat nie net op die oor val nie, maar regtig die hart aanraak. MERKERS is vir my ’n manier om weer te kyk na die stories en liedere wat ons gevorm het. Dit is ’n viering van ons kultuurerfenis, maar ook ’n herinnering dat daar altyd iets is wat ons verbind: emosie, pyn, hoop en herinnering. Ek is dankbaar dat ons dit met mense kon deel.”
Kristin Naudé, een van die vertellers, meen dat sy sáám met die gehoor op ’n emosionele reis was. “Ek het vanaand gevoel hoe die gehoor saam met ons onthou. Dis wonderlik om te sien hoe mense op woorde en musiek reageer wat regtig iets beteken. MERKERS bring jou nader aan jou eie herinneringe, aan die mense en oomblikke wat jou gemaak het wie jy is. Ek glo dit is hoekom dit mense so diep geraak het – dit is eerlik.”
Christo Beer, ook een van die vertellers, meen dat ’n mens nooit kan ophou ontdek aan jou erfenis nie. “Die poësie en lirieke waarmee ons werk, is so ryk en vol betekenis. En dan sien jy hoe iemand in die gehoor stil raak of met trane in hul oë sit en luister – dit is wanneer jy besef hierdie produksie doen iets besonders. Dit was ’n voorreg om deel daarvan te wees.”
Met musiek van kunstenaars soos Koos du Plessis, Ingrid Jonker, David Kramer, Lucas Maree en Johannes Kerkorrel, asook ’n talentvolle ensemble op die verhoog, was dit ’n aand om te onthou.
MERKERS is ’n produksie wat lank in die hart van elkeen wat dit beleef het, sal bly.