Mediaverklaring

22 Oktober 2023

Dit is ’n voorreg en ’n eer om te kan sien hoe ’n dorp eenhonderd jaar van sy bestaan vier.

Op 23 Oktober 1923 is Brits as ’n dorp verklaar. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerk het gister saam die Koersvas Voortrekkerkommando, die Vroue Landbou-unie se Brits tak en inwoners van die dorp by Laerskool Brits, ’n eeufeesmonument onthul ter herdenking van hierdie eens-in-’n-leeftyd mylpaal.

Tydens die geleentheid is erfenisskatte en dokumentasie oor dié dorp ook in ’n tydkapsule toegemessel om oor 50 jaar die gebeure van hierdie dag en die geskiedenis van die dorp te bewaar. Diegene wat die geleentheid bygewoon het, kon ook ’n geskiedenis maak deur hul naam op ’n klip by die monument en tydkapsule vas te sement.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke is passievol oor geskiedenis en die bewaring van erfenis.

“Vandag is môre se geskiedenis. So wat doen jy vandág om jou merk te maak en jou nalatenskap vir môre agter te laat?”

Prof. Fransjohan Pretorius het die geleentheid bygewoon as spreker. Vir hom is hierdie dorp ’n sagteplek en het hy ook jare as inwoner van die dorp deurgebring.

“Ek het die grootste vreugde van my lewe op hierdie dorp ervaar. My herinneringe aan hierdie dorp speel oor en oor in my lewe af.”

Marina Byleveldt is die nasaat van Johan Nicolaas Brits, op wie se plaas dié dorp gestig is en waarna hy vernoem is. Op die ouderdom van 77 is Byleveldt haar hele lewe nog in Brits. Sy is ook een van die persone wat die monument onthul.

Walter Krüger, skoolhoof van Laerskool Brits was ook ’n spreker tydens die geleentheid en het klem gelê op die noodsaaklikheid van samewerking, sodat erfenis vir die toekoms behoue kan bly.

“As ons regtig kyk oor die belange en ek dink selfs ’n verlange wat ons as ’n gemeenskap het in ons in ons kultuur en ons erfenis, wat dan natuurlik gepaard gaan met die voortbestaan van ons kultuur en ons skole, is dit belangrik dat ons hande vat met organisasies soos die FAK en ons het groot waardering vir hulle.”

Laerskool Brits het op hierdie dag ook die eer gehad om ’n FAK toekenning te ontvang vir die meeste deelnemers in laerskole vir die Internasionale Afrikaans-Ekspo, ’n titel wat hulle vir die tweede jaar in ’n ry deur en deur verdien.

Francina Fouché (12), van die Koersvas Voortrekkerkommando en haar maats het almal ingestem om oor 50 jaar, wanneer die tydkapsule oopgemaak word, weer by Laerskool Brits bymekaar te kom.

“Dit is ’n eer om hier te kan wees,” sê Fouché.

Na afloop van die verrigtinge het die geselskap belangrike historiese bakens in en om die dorp besoek, naamlik die De Kroon familiebegraafplaas, asook die Transvaalse Burgeroorlogmonument.

Oor 50 jaar sal die geselskap mekaar weer ontmoet en nuwe vriende maak. Gister het die geselskap self die pen in die hand geneem en geskiedenis geskryf. Erfenis en geskiedenis is lewend en kosbaar. Dit moet gekoester word.

Ondersteun die FAK en dra by tot jóú kultuurerfenis.