Deur Anton van Vollenhoven
Volkspele het ontstaan na afloop van ’n studiebesoek aan Swede, deur die jong onderwyser Samuel Henri Pellissier. Hier het hy in aanraking gekom met die volksdanse en -drag van Europese lande en besluit dat hy van die Afrikanerjeug ’n singende, spelende en werkende volk wil maak.
Om dit te doen, het hy vier Sweedse danse in Afrikaans aangepas en het dit saam met Afrikaanse piekniekspele aan die jeug geleer. Volkspele is vir die eerste keer, op 28 Februarie 1914, tydens ’n Sondagskoolpiekniek op die plaas Vuisfontein naby Boshof in die Vrystaat, gespeel en het gou landwyd versprei.
Volkspele het veral stukrag gekry tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938. Orals waar die waens oornag het op pad na Monumentkoppie in Pretoria, is volkspele spontaan om die kampvuur gespeel. Voortrekkerdrag het nou ook die amptelike volkspeledrag geword.
Op 1 Maart 1941 word volkspelers vir die eerste keer georganiseerd saamgesnoer met die stigting van die Uniale Komitee vir Volksang en Volkspele (vandag bekend as die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging, kortom die AVVB). Dr. Pellissier is as eerste voorsitter verkies.
Hoewel die Volkspelebeweging dus 78 jaar oud is, is volkspele reeds meer as ’n honderd jaar oud. Hoogtepunte in die geskiedenis van volkspele is hoofsaaklik massa-optredes by volksfeeste. By die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 het meer as 2 000 volkspelers ’n kakebeenwa gevorm. Tydens die Van Riebeeck-feesvieringe in 1952 is ’n kaart van Suid-Afrika gevorm deur volkspelers in verskillende kleure wat die provinsies voorgestel het. Ander groot optredes vind plaas tydens die eeufeesviering van Pretoria in 1955, die Uniefees van 1960, verskeie Republiekfeesvieringe en die Groot Trek 150-jaar vieringe in 1988. Verskeie buitelandse toere na Europese lande en die VSA het ook al plaasgevind en die volkspelers ontvang dikwels volksdansers van oorsee in Suid-Afrika.
Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu, vind daar ook spesiale kursusse vir die jeug plaas. Gekeurdes van regoor die land kom dan vir ’n hele week byeen om aan die Pellissierweek (gr 10-12), Vormingsweek, (gr 8-9) of Judith Pellissierweek (gr 5-7) deel te neem. Dit is gepas dat twee van hierdie ‘weke’ na die stigter van volkspele en sy vrou vernoem is. Hier word nie net aandag aan volkspele gegee nie, maar word ook gefokus op leierskapsontwikkeling en lewensverryking.
Die AVVB is landwyd verdeel in streke, wat weer uit individuele laers bestaan. Pretoria en Centurion vorm deel van die Noordelike Streek vir Volksang en Volkspele (NSVV). Daar is tans vyf geaffilieerde laers/sanggroepe in die streek, naamlik:
- Aandblom Volkspelelaer
- Erikavolkspelelaer
- Jakaranda Junior Volkspelelaer
- Moot Kantate Sanggroep
- Polkadraai Volkspelelaer
Die hoogtepunt op die jaarlikse kalender vir elke volkspelelaer is sy saamtrek, waartydens volkspelers van verskillende laers bymekaarkom om saam volkspele te doen. Volkspele is gestandaardiseer deur ’n volkspelehandleiding met volledige beskrywings van danse en liedere.
Volkspele is lank reeds ’n gevestigde deel van ons Afrikanererfenis. Ander geleenthede wat gebied word is:
- Weeklikse volkspele-aande waartydens passies afgerig en sommer net lekker gekuier word.
- Skakeling met ander laers landswyd.
- Heerlike sang en musiek, en dit kan selfs as goeie oefening beskryf word.
- Bekwame afrigting en begeleiding – die Noordelike Streek beskik oor vier gekwalifiseerde kursusleiers en puik begeleiers.
- Aangename sosiale geleenthede.
- Christelike beginsels en waardes.
- Verskeie daguitstappies, naweekkampe, toere, kuieraande, optredes en ander sosiale geleenthede.
Belangstellendes kan die sekretaris van die streek kontak, wat hulle na die naaste laer sal verwys. Sy is niggie Marianna van Vollenhoven: e-pos vanvjm@gmail.com/ selfoon 072 631 0949.