Kulturele leierskap, sakevernuf en erfeniseienaarskap is drie woorde wat ’n mens met groot vrymoedigheid by die enorme erflating van Nicolaas Cornelius (Nico) Tromp kan voeg. Tromp is Vrydag 7 Maart tydens ’n gesamentlike direksieberaad van die Voortrekkermonument (VTM) en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ’n baie gepaste huldeblyk vereer: ’n borsbeeld in die Transvaal Voortrekkers Museum. Dié beeld bevestig sy blywende nalatenskap in die Afrikanergemeenskap en vir kulturele bewaring in Namibië.
Tromp, wat op 13 April 1949 in Windhoek gebore is, se lewe is gekenmerk deur uitsonderlike leierskap – in die sakewêreld én die kulturele sfeer. Nadat hy sy BCom-graad aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het, het Tromp die leiding geneem by NICTUS, waar hy ’n sleutelrol gespeel het in die uitbreiding van die groep se sakebelange na Suid-Afrika. Sy bydraes was egter nie net beperk tot die korporatiewe wêreld nie. Sy passie vir die Afrikaner se kultuur het hom aangemoedig om ’n belangrike rol in die bewaring van Afrikanererfenis, veral in Namibië, te speel.
Tromp was die eerste Presidentsverkenner van Die Voortrekkers in Namibië en het onmisbare finansiële en strategiese leiding verskaf om die voortbestaan van Voortrekkerbates soos Trekkersbron te verseker. Sy toewyding tot kulturele bewaring en onderwys het hom die hoogste eer van Die Voortrekkers besorg toe hy as hoofbeskermheer aangewys is – ’n pos wat hy van 2013 tot 2021, totdat hy in Julie 2021 aan Covid-19 oorlede is, met waardigheid beklee het.
Tydens die onthulling van die borsbeeld het Phillipus Tromp, Nico se seun, sy diepe dankbaarheid uitgespreek: “My pa het in die belangrikheid van nalatenskap geglo, nie net vir homself nie, maar vir almal wat ná hom sou volg. Vandag sien ons sy passie en toewyding verewig in hierdie borsbeeld, ’n herinnering aan die waardes wat hy gehandhaaf het.”
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM en FAK, het die diepgaande invloed van Tromp op Afrikanerkultuur en -erfenis beklemtoon: “Nico Tromp was ’n visionêre leier. Sy toewyding aan die bewaring van ons kultuur en erfenis in Namibië, en sy onvermoeide raakvatleiding aan Die Voortrekkers het ’n onuitwisbare pen in ons gemeenskap gekap. Hierdie borsbeeld is nie net ’n eerbetoon aan hom nie, maar is ook ’n simbool van sy onwrikbare passie om die toekoms van die Afrikaanse kultuur uit te bou.”
Die borsbeeld, geskep deur die talentvolle beeldhouer Jaco van Niekerk, vang die wese van Tromp se krag, vasberadenheid en visie vas. Van Niekerk het sy gedagtes oor die skepping van die beeld gedeel: “Dit was ’n eer om hierdie beeld te skep. In die proses het ek probeer om die enorme trots en nalatenskap wat Nico Tromp agtergelaat het, weer te gee. Die aandag aan detail van hierdie beeld is bedoel om sy leierskap en die onwrikbare ondersteuning wat hy aan die Afrikanergemeenskap in Namibië gegee het, oor te dra. Ons moet ons hedendaagse helde ook onthou en erkenning gee aan hul opoffering en nalatenskap deur hulle te gebruik as inspirasie en daarop voort te bou.”
Volgens Karin Stoffberg, hoofleier van Die Voortrekkers, was Tromp ’n steunpilaar van krag en toewyding aan Die Voortrekkers. “Sy leierskap het ontelbare individue geïnspireer, en sy onblusbare passie vir ons kultuur en gemeenskap sal ons steeds lei vir die komende geslagte. Hierdie borsbeeld is ’n bewys van sy nalatenskap, en ons is trots om sy bydrae tot die Voortrekkerbeweging en die Afrikanerkultuur te eer,” sê sy.