“Hoe herontdek jy jou erfenis? Jy beleef dit!”
Só vertel Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), na dié organisasie oor die afgelope skoolvakansie verskeie erfenisavonture in die Noord- en Wes-Kaap aangebied het.
“Die FAK het vanjaar besluit om meer mense die geleentheid te gee om hul erfenis te ontdek en meer te leer met ’n reeks staptoere en ander avonture reg oor die land,” sê Van Huyssteen.
Tussen 2 en 7 April het die FAK se Kaapse Kultuurnetwerke onder leiding van Elizma Smith en Juanine Kok, die Wes-Kaapse geskiedenis met dapper en stapper opnuut verken met die Dankie Jan-staptoer (2 April), ’n besoek aan drie besondere Kaapstad-museums (3 April) en Jan en Hendrik se tuin (5 April), én hul vakansieavonture met ’n Voetslaan by Boschendal (7 April) afgesluit.
Smit, glo net soos Van Huyssteen, dat ons land se ryk kulturele erfenis nie iets is wat net in boeke moet voortleef nie, maar ontdek en beleef moet word.
“Daar is besonderse erfenisjuwele wat reg oor ons land lê, gereed om ontdek te word en dit is vir ons altyd ’n reusevoorreg om saam met mense wat werklik passievol is oor hul herkoms op reis deur die geskiedenis te gaan en nie net te leer nie, maar ons erfenis opnuut uit te leef,” sê Smith.
F.J. Cleophas, wat op Saterdag 5 April saam met die FAK die prentjiemooi Kompanjiestuin in Kaapstad besoek het, sê dit was ’n ongelooflike lekker dag saam met dié organisasie. Dié staptoer het gefokus op die Kompanjiestuin en Jan van Riebeeck en sy tuinier Hendrik Boom se uitdagings en suksesse met hierdie tuin.
In die Noord-Kaap het Cara Tomlinson, die FAK se kultuurkoördineerder in Orania, op 10 April haar stapstewels styf vasgemaak en die Rebelspoorvasbyt saam met ’n groep van 20 dapper stappers aangedurf en in die spore van die Kaapse rebelle gestap.
Tomlinson sê dié staptoer is besonders en enig in sy soort. Dit het die besoekers behoorlik uit hul gemaksone geneem terwyl hul in die spore van Jan Kemp, Manie Maritz en Albert Stadler gedurende die Rebellie van 1914/1915 gereis het.
Nét soos die Wes-Kaapse erfenisavonture, sê Tomlinson, het dié Rebelspoorstappers plekke besoek waar hulle nog nooit was nie en feite uit die geskiedenis geleer wat hulle nie noodwendig geweet het nie; nog belangriker het “vreemdelinge vriende geword en saam hul erfenis gevier.”
Die FAK-erfenisavonture stop nie daar nie. Oor die komende paar maande gaan die FAK in die noordelike provinsies mense in Gauteng en Limpopo die geleentheid gee om die geskiedenis van Heidelberg en Pietersburg opnuut te leer ken met twee baie opwindende toere.
Op 31 Mei bied Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike provinsies, die jaarlikse Vrede van Vereeniging-toer aan en besoek belangrike punte wat noemenswaardige betekenis het in die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog.
Die Verdrag van Vereeniging (beter bekend as die Vrede van Vereeniging) is die vredesverdrag wat op Saterdag 31 Mei 1902 tussen Brittanje en die Boererepublieke onderteken is.
Hierdie toer is jaarliks ’n groot gebeurtenis op die FAK se kultuurkalender en is beslis ’n geleentheid wat niemand kan misloop nie.
Erfenis is nie net iets waaroor ’n mens in geskiedenisboeke lees nie. Dit is iets wat jy elke dag kan uitleef en daarom nooi die FAK jonk en oud uit om saam met ons op ’n erfenisavontuur te gaan en só jou kulturele erfenis uit te bou.
Besoek ons webtuiste vir meer inligting oor toekomstige toere saam met die FAK.