Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op 12 Julie 2024 een van hul grootste projekte vanjaar aangepak met die bekendstelling van die Kruger-sterftekamer, ’n replika van die vertrek waarin Paul Kruger in 1904 oorlede is, by die Voortrekkermonument (VTM).

Lees meer: https://www.facebook.com/FAK01/posts/pfbid0AJZgCKr6DNktmF8XR9ZqrDbi7hXSCB7tWV1txnrrCbK61c3p4HL7nrSn4hNE25MGl

Tydens die bekendstelling het adv. Marius Ackermann, voorsitter van die VTM-direksie, ’n interessante boekgesprek aangebied met prof. Pieter Verster oor sy boek Onze Rust.

Die FAK vertel en bewaar al vir jare die Afrikaner se verhaal en met sy nuwe boek het Verster ook hierdie verhaal(e) uitgebou met ’n nuwe blik op die Afrikaner oor eeue heen.

Ackermann sê dat Verster se vertelling daarin slaag om die perfekte balans te vind tussen feit en fiksie én hede en verlede. Hierdie is ook ’n belangrike opdrag aan die leser om dieper te kyk.

“Onze Rust behels eintlik twee verhale, beide in ’n groot mate oor wroeging. Enersyds wroeg ’n terugkerende MT Steyn (hy het weens ernstige siekte nie aktief aan die vredesonderhandelinge deelgeneem nie, en is daarna na die buiteland vir behandeling) op die treinrit vanaf Kaapstad na Bloemfontein in die teenwoordigheid van sy vrou oor die lewensverlies tydens die ABO, en of hulle nie vroeër moes oorgegee het nie. Sodoende kon baie burgers, vroue en kinders se lewens gespaar gewees het.”

“In die gelyklopende moderne verhaal wroeg ds. Van Heerden oor sy rol in die Grensoorlog en oor sy botsing met sy nuwe kollega oor laasgenoemde se moderne manier van doen. Veral die Steyn-gedeelte is historiese fiksie. Hoewel dit fiksie is, geskied die verhaal teen ’n sekere feitelike, geskiedkundige agtergrond wat op deeglike navorsing berus.

“Steyn se wroeging en sy onderneming aan twee Vrystaatse burgers dat hy nooit hulle onafhanklikheid sal wegteken nie, bring hedendaags belangrike debatspunte na vore: ons het met reg lof vir die bittereinders, maar was die volgehoue oorlog die enigste eerbare opsie? Was mense na wie met smaad as hensoppers verwys word, werklik so verkeerd?

“Ek praat natuurlik nie van joiners nie. Dit is die waarde van historiese fiksie – dit bied die skrywer ’n mate van vryheid om in fiktiewe dog lewensgetroue situasies die hedendaagse leser tot nadenke en selfs debat te stem. Pieter Verster het hierin geslaag.

“Ds. Van Heerden se meer hedendaagse kwellinge is ook aktueel, want dit aksentueer sekere debatte wat tans in die kerk aan die gang is. Dit sluit in die mindere tot geen klem op orrelmusiek en ’n informele (soms slordige) taalgebruik wat baie mense die harnas injaag. Ook hierin het die skrywer geslaag,” sê Ackermann.

Verster het op sy beurt gesê dat hy altyd ’n historiese roman wou skryf.

“Ek het lank gedink aan hierdie boek, ek wou nog altyd iets skryf oor Steyn en het in diepte oor sy rol in die oorlog begin dink. Ek wou ook graag oor die kerk skryf en dit is hoe Onze Rust se storie begin vorm het.

“Steyn staan vir my uit omdat hy onkreukbaar in die oorlog was – hulle moes voortgaan met die oorlog ten spyte van vrae en worsteling en hy het altyd daai republikeinse ideaal gehad om hul onafhanklikheid nie prys te gee nie. Ek dink hy kan gesien word as die kombinasiepunt van al die VS-presidente en dit is hoekom ek graag oor hom wou skryf,” sê Verster.

Verster, wat al vir jare ’n getroue ondersteuner van die FAK is, het voorts gesê, nes die FAK verstaan hy hoe belangrik dit is om ’n liefde vir geskiedenis onder ons jongmense te kweek.

“In die boek is daar ’n sterk kontras tussen die ‘oud en jonk’ wanneer mens kyk na die verhouding en konflik tussen die twee predikante en ek hoop hierdie verhoudings lei die leser, veral die jong leser om dieper te dink, want dan sal hulle lief raak vir die geskiedenis en die stories uit ons verlede.

“Braam van der Beek het die boek eintlik goed opgesom, ‘daar is geen maklike antwoorde nie’ – die boek moet mens laat dink aan die geskiedenis én aan vandag, en dan sal mens hopelik tot die besef kom dat daar ten spyte van worstelinge steeds hoop is,” sluit Verster af.

Onze Rust leer dié les dat die verlede nie verdoem behoort te word nie, en die hede nie verhewe is nie, maar uit die verlede kry mens die lesse vir vandag.