Mediaverklaring

17 Maart 2023

Oom Jan wat versies maak

Op 11 Maart 2023, 180 jaar na CP Hoogenhout se geboorte in Amsterdam in 1843 het Kaapland Voortrekkers se gebiedsbestuur, wat ook lede van die FAK-kultuurnetwerke insluit, sy graf besoek op Optenhorst om hierdie taalpionier te huldig en blomme op sy graf te lê. Casper Peter Hoogenhout is bekend vir die rol wat hy gespeel het vir die Afrikaanse Taalbeweging en was ’n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).

“Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; in ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.” So verwoord CP Hoogenhout die taalstryd van die 1800’s in een van sy bekendste gedigte. Sy sterk patriotisme kom tot uiting in sy gedigte, soos wanneer hy skryf: “Waar Tafelberg begin tot ver in die Transvaal voor een vereningd volk een algemene taal”. Hy spot ook in sy digkuns met die goed waaraan hy ’n hekel gehad het. In sy gedig “Vooruitgang” skryf hy: “Koud word vriende en betrekkings – Oom en Neef is nou Meneer, Tante en Nig is Miss of Mrs.”

Hy skryf vir jonk en oud onder skuilname soos Oom Jan wat versies maak, Klaaswaarzegger en Cupido en moedig sy volksgenote aan om te dig in ’n tyd toe Afrikaans nog nie ’n algemeen aanvaarde skryftaal was nie.

As 17-jarige tienerseun, emigreer die Nederlandsgebore Casper Peter Hoogenhout in 1860 na Suid-Afrika. Sy geliefde moeder is oorlede toe hy maar 13 was, die verhouding met sy pa se tweede vrou vlot nie en hy kom soek ’n nuwe lewe in ’n ander land. Hy werk as klerk by ’n firma in Kaapstad, maar die invloed van verkeerde vriende stuur sy lewe aanvanklik in die verkeerde rigting. Ds. GWA van der Lingen ontferm hom oor die jong man, laat hom oplei as onderwyser en stel hom voor aan die Paarlse onderwyser Arnoldus Pannevis. Dit was die begin van ’n lewenslange vriendskap. Onder Pannevis se invloed kom CP Hoogenhout ook tot bekering.

CP Hoogenhout het vir 40 jaar onderwys gegee by die Groenberg skool op die plaas Welbedacht buite Wellington. Hier het hy ook soms op ’n Sondag in die plaaslike kerkie gepreek. Uit sy pen het vertalings van Matteus 28 (1873), die hele Markus (1878), die eerste Afrikaanse kinderboek “Die geskiedenis van Josef” en die eerste Afrikaanse digbundel vir kinders “Eerste Afrikaanse prentjiesboek vir soet kinders” gevloei. Met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 was hy ’n stigterslid en letterkundige redakteur van die Afrikaanse koerant, Die Patriot.

In die Taalmuseum in die Paarl word CP Hoogenhout onthou en gehuldig met ’n replika-uitbeelding vanaf ’n foto van hierdie geliefde onderwyser en skrywer se studeerkamer kompleet met houtklompe.

Na sy aftrede gaan woon CP Hoogenhout op die plaas Optenhorst van sy stiefseun, Piet le Roux. Hy is in 1922 hier oorlede en in die begraafplaas op die plaas begrawe. Met die herdenking van sy verjaardag op 11 Maart 1955 het die Suid-Afrikaanse skrywerskring ’n gedenkplaat by sy graf aangebring.