Op 8 September 1910 is Karl Willem Heese in die Paarl gebore. Hy was een van 10 kinders. Hy het sy skoolopleiding by Paarl Gimnasium voltooi waarna hy in 1927 aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het en die grade BA, MA en DPhil behaal het. Hy het ook van 1931 tot 1934 aan die Stellenbosch Kweekskool studeer en hom as predikant bekwaam.

Dr. Kalie Heese se kundigheid blyk duidelik uit die feit dat hy reeds as student by Stellenbosch Universiteit se sielkunde departement doseerpligte waargeneem het. In 1937 is hy aangestel as lektor in sielkunde en drie jaar later bevorder tot senior lektor. Vanaf 1943 tot 1960 staan hy in die bediening as leraar in Malmesbury, Bonnievale en Pinelands voor hy as hoogleraar in sielkunde aangestel word by die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy beklee hierdie posisie tot sy afsterwe.

Kalie Heese kom uit ’n gesin van kultuurleiers en skrywers. Sy een broer, Japie, was ’n stigterslid en later hoofleier van Die Voortrekkers en skrywer van onder andere prosa. ’n Ander broer, Johannes, was ’n geskiedskrywer en stigterslid van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika. Kalie se vrou was die skrywer van kinderboeke, Hester Heese.

Kalie self was die eerste voorsitter van die Afrikaanse Christen Studente Vereniging op Stellenbosch. Die jaarboeke van die dertigerjare van Stellenbosch Voortrekkers maak melding daarvan dat Kalie Heese toe as jong sielkundestudent verantwoordelik was vir die seunspanne en talle kampe, staptogte en uitstappies gereël het. Hy was ’n gewilde leier en die hart en siel van hierdie, toe nog baie jong, Voortrekkerkommando.

Dr. Kalie Heese was ook bekwaam as skrywer en het ’n groot bydrae tot die opvoeding van die jeug gelewer. Op Bonnievale dra die skoolkoshuis vandag nog sy naam. Kalie se publikasies het oorwegend oor geestelike waardes vir die jeug gehandel. Hy was ook bekend as die skrywer van die rubriek “Oom Kalie gee raad” wat van 1957 tot 1965 in Die Burger, Volksblad en Oosterlig verskyn het.

Met die 50-jaar-herdenking van sy afsterwe op 21 April 1974, het lede van Stellenbosch se Voortrekkerkommando personeel van die FAK vergesel om besoek af te lê by die graf van Karl Willem Heese in die Onder-Pappegaaiberg-begraafplaas en blomme gelê.