Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) bearbei hulself met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en kultuur, veral in klein gemeenskappe en skole. Hulle het onlangs die geleentheid gehad om in die Noord-Kaap hierdie werk voort te sit met hul betrokkenheid by die CVO Skool Orania se redenaarskompetisie.
Die CVO Skool Orania het oor die afgelope twee weke hul skoolredenaars vir hul laer- en hoërskoolleerders aangebied.
Cara Tomlinson, die FAK se kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap, is ook dié skool se kultuurorganiseerder en sê dit was vir haar ’n voorreg om te sien hoe die Afrikaanse taal en kultuur aangemoedig word, en die denkers van die toekoms by die skool ontwikkel word.
“Dit is opwindend om te sien met hoeveel passie en oorgawe hierdie kinders oor hul kultuur, Afrikanermonumente en ons taal Afrikaans praat. Hul dapperheid en waagmoed is inspirerend vir baie,” sê Tomlinson.
“Om te gaan redenaars praat, verg baie waagmoed, murg in jou pype, dapperheid, voorbereiding en moed, en dit is so lekker om hierdie vaardighede by die jongspan te sien! Dit leer jou lewensbelangrike vaardighede; leerders ontwikkel die vermoë om hulself in woorde uit te druk, selfvertroue om voor mense te praat en bevorder kritiese denke.”
Hierdie kompetisie was deel van ’n landswye kompetisie wat deur die BCVO aangebied word en daag die jongspan uit om werklik die denkers van die toekoms te word. Hulle moes toesprake skryf aan die hand van verskeie bronne en navorsingswerk.
“Dié redenaarskompetisie het verskeie uitdunne. Eers word die skoleronde gehou, waarna leerders in hul streek (Noord-Kaap) gaan deelneem. Hier word jy op meriete gekies vir jou streekspan om te gaan deelneem teen al die streke van BCVO,” verduidelik Tomlinson.
BCVO maak aan die begin van elke jaar temas bekend waaruit leerders dan ’n onderwerp formuleer en hul toespraak daaroor uitwerk.
Vanjaar was die toesprake besonder kreatief en leerders moes hul woordwapens inspan om te redeneer oor ’n reeks onderwerpe soos byvoorbeeld: “Hoekom monumente vir hulle belangrik is” en “Afrikaans se kersie is nog lank nie uitgeblaas nie.” Daar was selfs ’n laerskoolleerder wat “Veels geluk liewe maatjie,” aan die einde van sy toespraak vir Afrikaans gesing het omdat Afrikaans vanjaar haar 100ste verjaarsdag vier.
Ander temas was “om murg in jou pype te hê”, “waagmoed en die redes waarom dit so belangrik is” en vele meer.
“Ek is baie trots op elkeen van hierdie leerders en ek sien uit daarna om hulle te sien grootword,” het Tomlinson ter afsluiting gesê.
Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê hierdie projek bevestig net weer waarom dit vir die FAK belangrik is om die Afrikaner se ryk kulturele erfenis onder die jeug van ons land te herbevestig.
“Die FAK is ’n organisasie wat nie net werk om ons taal en kultuur uit te bou nie, maar om dit ook in ons gemeenskappe te ontwikkel. Daarom is dit so waardevol dat organisasies soos die BCVO en skole soos die CVO Skool Orania sáámwerk om ons taal en kultuur die toekoms in te dra,” sê Van Huyssteen.
“Vir die FAK is die werk van ons vriende, ons kultuurnetwerke en ons kultuurvennote soos die BCVO van onskatbare waarde en ons is ongelooflik trots om te sien hoe iemand soos Tomlinson in haar gemeenskap woeker en die leuse van die FAK – Tuiste, Trots, Toekoms – absoluut gestand doen.”