“Erfenis is nie net tasbare dinge nie, dis nie net monumente of volkspele of koeksisters nie – dit is ook liefde, kultuur en stories wat van geslag tot geslag oorgedra word. Wanneer jy die woorde van Psalm 16:6 lees, word jy daagliks herinner aan die mooi van jou kulturele erfenis.”
Só vertel Cara Tomlinson, kultuurkoördineerder van die FAK in die Noord-Kaap, wat die afgelope naweek saam met die Gereformeerde Kerk Oranjerivier hul taal, kultuur en geskiedenis kon herdenk tydens dié gemeente se jaarlikse damestee.
Dié damestee is ’n groot geleentheid op die Orania-kultuurkalender en vanjaar was die tema “my erfenis is vir my mooi”.
Die tema spruit natuurlik uit die bekende woorde van Psalm 16:6: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja my erfenis is vir my mooi.” Vir Tomlinson, wat ’n gasspreker by hierdie spoggerige geleentheid was, is dié woorde nie net ’n ode aan elke individue en hul eie kultuur nie, maar ’n oproep om die mooi van jou kultuur te vier.
“Erfenis dui op die tradisies, waardes, taal, geloof en gebruike wat van een generasie na die volgende oorgedra word,” sê Tomlinson.
“Dit is dus nie net materiële dinge nie, maar ookְ ’n waardestelsel en ’n emosie wat van geslag tot geslag oorgedra word. Erfenis gee vorm aan ons identiteit en is vir baie mense ’n bron van krag.
“Dit verbind ons met ons wortels en in ’n groot sin bepaal jou erfenis ook jou waardes. Erfenis dien as inspirasie vir die toekoms. Ons erfenis gee vir ons selfvertroue en bou ons identiteit … Daarom is dit vir my mooi om te sien hoe hierdie groep Noord-Kaapse vroue ons taal en kultuur lewend hou.”
Die dag is vanjaar aangebied in samewerking met die Gereformeerde Kerk Oranjerivier, die FAK en die Orania Bewaringstigting (OBS) wat saam gesorg het vir ’n kultuurervaring soos min. Terwyl Tomlinson die gaste toegespreek het, het die OBS, in samewerking met die Kultuurhistoriese museum, gesorg vir ’n indrukwekkende uitstalling wat erfenis uitbasuin het.
Die verskeie lande waaruit die Afrikaners hul herkoms kry, het gedien as inspirasie vir die tafeldekor en daar was ook verskeie lekkernye en watertand geregte eie aan onder andere Frankryk, Nederland en Duitsland op die tafels. Die Nederlandse tafels het heerlike appeltert geniet, terwyl die Duitsers en Franse onderskeidelik swartwoudkoek en croissants met sjokolade geniet het.
Die dag is afgesluit met samesang waar almal bekende Franse, Nederlandse en Duitse liedjies, en natuurlik ’n lekker paar Afrikaanse volksliedjies gesing het.
Barry Müller, die FAK se hoof van nasionale projekte, is baie opgewonde oor die projek en glo dat dae soos hierdie nie net ’n geleentheid skep om jou erfenis te vier nie, maar dat dit ’n oproep is om eienaarskap van jou kulturele erfenis te neem.
“Wanneer ’n mens die voorreg het om deel te hê aan projekte soos hierdie, besef ’n mens hoe waardevol die woorde van Psalm 16 is. Almal se erfenis behoort vir hulle mooi te wees. Sélfs in die moeiliker tye behoort ’n mens ook lesse daaruit te kan leer en dit is waarom hierdie groep vroue in Orania so groot inspirasie is,” sê Müller.
“Die woorde van Psalm 16 som die bestaansrede van die FAK perfek op: Die FAK skep ’n tuiste vir ons kultuur en bou ons kultuur met trots uit vir toekomende geslagte en ek hoop hierdie funksie inspireer oud en jonk om weer te besef ‘my erfenis is vir my mooi’,” sê hy verder.
Vier saam met die FAK die mooi van jou Afrikanererfenis. Word vandag nog ’n vriend van die FAK en bou saam aan ’n mooi toekoms vir jou erfenis.