Die FAK se Kultuurnetwerk in Pietersburg (Polokwane) het sy ernstige kommer uitgespreek oor die plaaslike munisipaliteit se versuim om die Pietersburg-konsentrasiekampkerkhof in stand te hou en te beveilig. Daar is ook ’n brief aan die munisipaliteit gerig met indringende vrae oor die pad vorentoe.

Die herdenkingsmonument ter ere van die Anglo-Boereoorlog se eeufees, wat in 2001 deur F.T. Preller op dié terrein onthul is, is onlangs wéér deur vandale verinneweer.

Anglo-Boereoorlog 100-jaar herdenkingsmonument-voetstuk wat in 2001 deur F.T Preller onthul is. (Foto: Hester Roodt)

“Die beskadiging van bakens en terreine van nasionale historiese belang het ’n onrusbarende alledaagsheid geword,” sê Charles Rademeyer, FAK-kultuurkoördineerder. “Sluipslapers en booswigte rig landswyd reuseskade aan. In die geval van die Pietersburg-konsentrasiekampkerkhof maak die gebrek aan ’n veilige, funksionele heining die terrein ’n weerlose teiken.

“Buiten die wanadministrasie van belastinggeld, dui die koers waarteen ons erfenisbakens onder munisipale wanbestuur deurloop op ’n argeloosheid teenoor die Afrikaner se identiteit,” sê Rademeyer.

Volgens hom plaas die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, No. 25 van 1999, die verantwoordelikheid vir die bewaring en beskerming van hierdie terrein op die skouers van die munisipaliteit as die eienaar van die kerkhof. “Die voortdurende versuim om aan hierdie wetlike verpligting te voldoen, is nie net onaanvaarbaar nie, maar ’n ernstige verontagsaming van ons gedeelde erfenis.”

Sluipslapers wat die erfenisterrein onwettig betree degradeer die erfeniswaarde. (Foto: Hester Roodt)

Ten spyte van hierdie uitdagings werk daar mense vanuit die Pietersburg gemeenskap, waarvan baie deel vorm van die FAK se plaaslike kultuurnetwerk, konstant op die terrein. Daar is besproeiing geïnstalleer, nuwe plante geplant, en instandhoudingswerk geskied deurlopend – meestal sonder enige vorm van munisipale ondersteuning. Behalwe vir die diefstal van die aandenkingsbakens, is daar duisende rande se skade egter aan die besproeiingstelsel en plante aangebring.

Selfs Advokaat Franco Marx, Lid van die Limpopo Provinsiale Wetgewer, het hierdie saak al geopper in ’n raadsitting, waarvan niks dusver gekom het nie.

“Die FAK doen ’n ernstige beroep op die plaaslike owerheid om sy wetlike pligte na te kom. Die beskerming van die Pietersburg-konsentrasiekampkerkhof is nie ’n guns nie, maar ’n verantwoordelikheid, gewortel in wet en gewete. Die nagedagtenis aan dié wat in die Anglo-Boereoorlog gely het, verdien respek én daadwerklike beskerming,” sê Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK.

Die FAK is sedert Junie 2024 op versoek van die bekommerde Pietersburg-gemeenskap in kontak met die plaaslike munisipaliteit. “Al wat ons vra, is basiese ondersteuning om die kommerwekkende situasie by die konsentrasiekampkerkhof die hoof te bied. Wanneer ons bel, is die munisipaliteit ‘uit op ete’ of besig met fondsinsameling,” sê Van Huyssteen.

Foto1A en 1B: Betonblokke met ossewawielspore wat onlangs gesteel is.

 

Betonblokke met ossewawielspore wat onlangs gesteel is. (Foto: Hester Roodt)

In Desember 2024 het Thipa Selala, munisipale woordvoerder, aan The Citizen gesê dat ’n heining reeds aangekoop is om die konsentrasiekampkerkhof te beveilig. Van dié heining het dadels gekom.

Volgens die historikus en argeoloog Hester Roodt, ondervoorsitter van die FAK-kultuurnetwerk in Pietersburg, bied die munisipaliteit geen steun, net leë beloftes. “Die FAK het al herhaaldelike vergaderings met die munisipaliteit gehad, met geen wesenlike belangstelling of aksie nie. Intussen neem die skade by die dag toe,” sê Roodt.

Volgens Rademeyer ontvang munisipaliteite groot bedrae geld om erfenisgebiede op te pas. “Dit is hul wetlike plig. Hierdie plig word misken en ons ervaring, spesifiek by dié munisipaliteit, is dat die gemeenskap se oproepe om hulp op dowe ore val.

“Die Pietersburg-konsentrasiekampkerkhof is nie net ’n plek nie. Dit is deel van ’n geskiedenis van swaarkry en onderdrukking, maar ook van opstaan en voorvat; ’n reis na vryheid. Terwyl die regerende party ’n nasionale dialoog beplan wat honderde miljoene rand gaan kos, kan basiese dinge op grondvlak nie eers behoorlik gedoen word nie.

“Die FAK is opreg dankbaar vir raakvatters en gemeenskappe wat eienaarskap van hul erfenis neem. Mense soos Hester Roodt, gemeenskappe soos dié van Pietersburg. Hul dade eggo die woorde: Ons sal nie vergeet nie. Ons gaan nie verdwyn nie,” sê Rademeyer.

Herstelde konsentrasiekampgrafte wat weekliks deur die FAK Pietersburg Kultuurnetwerk onderhou word. (Foto: Hester Roodt)

In die brief wat die FAK aan die plaaslike munisipaliteit geskryf het, is daar gevra dat die gemeenskap terugvoer op die volgende vier punte binne die volgende week wil kry:

  1. Watter stappe is die munisipaliteit bereid om te neem om onmiddellike aksie te neem rakende die bewaring en beskerming van hierdie erfenisterrein, om die onophoudelike vandalisme en diefstal op die terrein te bekamp?
  2. Watter daadwerklike stappe gaan die munisipaliteit neem om verantwoordelikheid vir die beveiliging van die Konsentrasiekampkerkhof te aanvaar?
  3. Wat is die huidige stand van sake rakende die onderhandeling en afhandeling van die Memorandum van Ooreenkoms?
  4. In Desember 2024 het die munisipale woordvoerder, Thipa Selala, aan The Citizen koerant gesê dat die munisipaliteit reeds oor die nodige materiale vir die omheining van die Konsentrasiekampkerkhof beskik. Dit was nie die geval nie. Wanneer kan eerlike en volledige terugvoer verwag word oor die voorsiening van ’n gepaste heining?

“Hierdie is ’n saak van erns, en ons doen ’n dringende beroep dat dit nou die aandag en voorrang kry wat dit verdien. ’n Duidelike en eerlike tydlyn vir optrede en uitvoering sal waardeer word,” sê Rademeyer.