Die Skryf’it-liedjieskryfkompetisie se wenners is op 9 Augustus met groot geesdrif by die finaal, wat op die Markplein by die Voortrekkermonument plaasgevind het, aangekondig. Ná honderde inskrywings, ure se kreatiewe slypwerk en duisende stemme, is die wenliedjie “Afrikaans my taal”, geskryf en gesing deur Logan Pietersen, bekendgemaak.

Laatmiddag het verskeie talentvolle deelnemers wat in vroeë rondes van die kompetisie uitgeval het, die gehoor met hul oorspronklike musiek bederf. Matthew Beets, Mia Malherbe van Wyngaardt, Chris Dust, Richard Jansen, Dawie Fourie, Wynand du Plessis, Yolande Strauss, Suzanne Smit, Milah Redelinghuis en Niel Botha het bewys waarom Skryf’it ’n waardevolle splinternuwe platform vir liedjieskrywers is.

Die Skryf’it-finaal is voorafgegaan deur ’n optrede deur Jan Blohm. Sowat 3 000 mense het opgedaag om hom te sien en sy treffer “Ai my lam” het die skare heerlik laat saamgesing. Dit was ’n oomblik gevul met nostalgie én diepte soos net Jan Blohm met sy rasperstem en raakvatlirieke kan doen.

Die Skryf’it-liedjieskryfkompetisie sou nie moontlik gewees het sonder die steun van verskeie borge wat hul harte en hulpbronne beskikbaar gestel het om nuwe talent te ontgin nie. Die FAK, Maroela Media, Boerboel Wear, Afrikaans 100, Solidariteit Helpende Hand, Vellie Boutique, Entertainment and Events Factory, Vonk Musiek en Sterfabriek het kragte saamgespan om Skryf’it 2025 ’n dawerende sukses te maak.

Die topdriefinaliste, Judite Howell, Logan Pietersen en Tuin Schoeman, het hul oorspronklike Afrikaanse liedjies met die gehoor gedeel. Elkeen het ’n unieke storie en stem na vore gebring. Daarna het Ruiter Piet van die Tuindwergies, asook Danie du Toit van Spoegwolf, Nádine en Ampie, die kompetisie se drie ghoeroes, elkeen met hul eie musiek én met hul finaliste se nuwe treffers die verhoog betree.

Toe die stilte sak en die wenner aangekondig word, was dit duidelik: “Afrikaans my taal” is ’n klankbaan vir die toekoms van Afrikaans. “Ek het hierdie liedjie geskryf vanuit ’n plek van eerbied vir ons taal, en die mense wat dit leef,” het die oorweldigde Pietersen gesê. “Dit is ’n groot voorreg om deel te wees van iets wat ’n verskil maak.”

Die tweede plek het aan Tuin Schoeman gegaan, saam met haar ghoeroe Ampie, terwyl Judite Howell en haar ghoeroe Danie du Toit die derde plek behaal het. Albei het sterk, oorspronklike liedjies gelewer wat hul plek in die topdrie verdien het.

Logan het ’n totale pryspakket ter waarde van R75 000 ontvang Dit sluit in ’n professionele musiekvideo en ateljee-opname, reklame- en bemarkingsondersteuning, die vrystelling van die wenlied, asook R25 000 kontant. Boonop ontvang hy ’n inskrywing tot Sterfabriek se Superster: Fundamentele kursus ter waarde van R18 950. Schoeman en Howell het nie met leë hande weggestap nie. Elkeen wen ’n 12-maande-intekening vir die Superster: Vonk-kursus ter waarde van R4 200.

Nádine, Pietersen se ghoeroe, sê sy het van die begin af geweet dat hy iets spesiaal beet het. “Hierdie liedjie het soveel waarheid en hart. Wat ’n voorreg om sulke talent te help groei.” Ampie het die waarde van Skryf’it beklemtoon en gesê ons het mense nodig wat in Afrikaans voel én skryf. “Skryf’it is die brug tussen rou talent en werklike roeping.”

“Wat vanaand op die verhoog gebeur het, is nie net musiek nie – dis ’n beweging. Dit is die begin van iets groot,” het Danie du Toit bygevoeg.

Barry Müller, die FAK se nasionale hoof: gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, meen  projekte soos dié is broodnodig vir ons taal se ontwikkeling. “Skryf’it is ’n monument vir die toekoms van Afrikaans. Dit gee ’n stem aan mense wat andersins nie gehoor sou word nie. Talent en taal versterk mekaar en dit skep hoop. Volgende jaar beloof Skryf’it om nóg groter te wees,” sê Müller.

Volgens Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, skep die Skryf’it-liedjieskryfkompetisie ’n kreatiewe ruimte waar nuwelinge en gevestigde kunstenaars saamwerk om Afrikaanse musiek nuwe vlerke te gee. “In die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike landstaal en met die 150ste herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), is dit ’n herinnering dat taal lééf wanneer dit gesing word.”

“Skryf’it lui ’n nuwe era van Afrikaanse musiek in – een liedjie op ’n slag. Dit is gebore uit ’n droom om ’n nuwe Afrikaanse treffer te ontdek wat harte aanraak, geslagte verbind en vir die volgende 100 jaar in die huis en hart van elke Afrikaner sal weerklink. Ons het presies dit reggekry,” het Müller afgesluit.