Die Heldeakker het vandag gemeenskapslede, kultuurorganisasies en plaaslike groepe suksesvol bymekaargebring om die geskiedkundige Heldeakker-begraafplaas in Pretoria vir Krugerdag voor te berei. Die lenteseisoen wat nou behoorlik aangebreek het, was die perfekte rede om vandag te begin skoonmaak toe die eerste bloeisels die bome begin versier het.

Belanghebbendes van verskeie organisasies, waaronder die Jakaranda Korps, Rapportryers, Elandsprag Voortrekkers, Magalieskruin Voortrekkers, CVO Skool Pretoria en die Krugergenootskap, almal hande gevat om die rusplek van Oom Paul Kruger te verfraai voor die kransleggingseremonie op 10 Oktober. Die geleentheid, wat tussen 09:00 en 13:00 gehou is, het die publiek toegelaat om by te dra tot hierdie betekenisvolle saak, deur te help met die skoonmaak of deur die begraafplaas te besoek.

Hannes Noëth van die Krugergenootskap het sy dankbaarheid uitgespreek: “Heldedag gaan nie net oor Heldedag nie, maar ook oor die volk. Vandag hier by die begraafplaas is hier sommer ’n klomp mense wat skoon en netjies help maak. Die Krugergenootskap is baie dankbaar vir al die mense wat so hartlik saamgewerk het. Dit is so lekker en positief!

Die inisiatief was veral spesiaal vir die jonger geslagte. Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, het oor hul betrokkenheid besin: “Dis wonderlik om op ’n dag soos hierdie soveel jong kinders by die Heldeakker te hê – vir die Krugergenootskap se kranslegging van oom Paul Kruger se verjaardag. Die Krugergenootskap is al jare aan die gang en die feit dat ons so ver kan terugkyk en steeds leer by die mense wat eendag hul kennis en vaardighede gaan oorhandig, is regtig spesiaal. Hierdie kinders sal eendag die toekoms verder kan neem met projekte soos juis hierdie een.”

Die gemeenskap se kollektiewe poging om die Heldeakker-begraafplaas te restoureer, op te ruim en gereed te laat vir die komende geslagte is regtig prysenswaardig.