Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in Maart onhul dat bykans R63 miljoen se belastinggeld skynbaar verkwis is wat aangewend moes word om die bekende Pretoria-stadsaal op te knap. Dié stadsaal, wat in 1935 gebou is, is vandag ’n skadu van sy eertydse statige voorkoms.
’n Stadraadsvergadering om “misverstande” oor die besteding van R62 981 422,14 uit die weg te ruim, het egter meer vrae as antwoorde meegebring.
Daar is glo byvoorbeeld R1 852 746,55 aan plaveisel op die terrein bestee, maar by nadere ondersoek lê hope bakstene voor die ingang van die Stadsaal én die plaveisel lig op. ’n Verdere R1 678 901,95 16 is glo aan loodgieterswerk en opknapping van die dreineringstelsel bestee, maar aan die voet van Hoofman Tshwane se beeld staan ’n leë, droë fontein, met geen loodgieterswerk in sig nie.
Volgens Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, maak die verduidelikings oor die besteding nie sin nie. “Die FAK sal graag ’n volledige lys wil sien van die R63 miljoen se konstruksiewerk, en wil weet wie vir enige verkwisting verantwoordbaar gehou gaan word?”
Die FAK het begin vandeesmaand ’n petisie geloods om die publiek die geleentheid te bied om hul misnoeë oor die gebrek aan sigbare uitsette op hul swaarverdiende belastinggeld uit te spreek. Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê dit is van kardinale belang dat die publiek aan dié petisie deelneem en saam met die FAK op antwoorde aandring.
“Dit het ’n kommerwekkende ‘normaal’ geword dat belastinggeld in rook opgaan en erfenisbakens se instandhouding nie gebeur nie. Ons moet as gemeenskap nie net eienaarskap van ons erfenis neem nie, maar harde vrae oor die besteding van ons belastinggeld begin vra,” sê hy.
Die FAK is met verskeie projekte reg oor die land besig waar plaaslike owerhede hul bewaringsplig versuim en daarom, verduidelik Van Huyssteen, moet gemeenskappe met meer erns betrokke raak by die bewaring van hul kulturele erfenis.
Teken nou die FAK se petisie en help ons om die korrupsie en agteruitgang te keer.
“Saam kan ons ’n wesenlike verskil maak.”