Die Moloporivier het op 30 April vir die eerste keer in meer as ’n eeu weer die Oranjerivier bereik nadat swaar reën in die opvangsgebiede uitgesak het. Vir vanjaar se Rebelspoorvasbyt-stappers was dit ’n uitsonderlike voorreg om hierdie seldsame, byna “eenkeer-in-’n-leeftyd”-gebeurtenis, self te beleef.

Die Rebelspoorvasbyt, wat van 29 April tot 3 Mei deur die FAK se Noord-Kaapse kultuurnetwerk aangebied is, bied aan stappers die geleentheid om die Rebellie van 1914 op ’n tasbare wyse te ervaar. Deur self die roete aan te pak, kry deelnemers ’n indruk van die ontberinge en vasbyt wat die rebelle destyds moes deurstaan.

Die noukeurig beplande roete is egter reeds op die eerste dag drasties ontwrig toe 120 mm reën oor die Kalahari uitgesak het. Planne moes vinnig aangepas word om te verseker dat ten minste ’n gedeelte van die roete voltooi kon word.

“Daar is geen manier dat reën, koue, wind of enige ander uitdaging 2026 se stappers sou ontmoedig nie,” sê Cara Tomlinson, FAK-kultuurnetwerkkoördineerder en organiseerder van die Rebelspoorvasbyt. “Na ’n volle dag op die plaas Uitzicht, waar ons hartlik ontvang is, was die groep reg om die eerste 20 km aan te pak.”

Die wagtyd het egter ook waarde gehad. Onder die beskutting van die kuierstoep het die toergids, dr. Louis Bothma – ’n historikus, skrywer en uitgewer – die geleentheid benut om die Rebellie van 1914 in perspektief te plaas. Hy het die aanloop, verloop en afloop daarvan op ’n toeganklike en insiggewende manier aan die jongmense oorgedra.”

Volgens Bothma is die lesse uit 1914 vandag nog relevant. Soos die rebelle destyds, bevind baie mense hulself weer in ’n minderheidsposisie, wat die waarde van samehorigheid en persoonlike verantwoordelikheid benadruk.

Die stappers het ook kernlesse uit die geskiedenis onthou: om die Here in alles te erken; om te glo dat die onmoontlike moontlik is; dat elkeen se bydrae saak maak; dat ware vrywilligheid noodsaaklik is; en dat volgehoue beweging en deursettingsvermoë onontbeerlik bly.

Die 2026-Rebelspoorvasbyt – waartydens stappers van reg oor die land oor vier dae ongeveer 60 km te voet sou aflê – het vanjaar ’n heel nuwe karakter aangeneem. Die Kalahari was buitengwoon nat, met panne vol water, wat beteken het dat sekere roetepunte oorgeslaan moes word. Tog het die groep onder ’n helder volmaan op die plaas Bloubos gekamp, waar die Liebenberg-familie – nasate van die boere wat die rebelle twee geslagte gelede gehuisves het – hulle met ope arms verwelkom het.

Die beplande trek na Koegoekoep oor Grondneus moes weens die oorvloedige water laat vaar word, aangesien toegang tot die kampterrein onmoontlik was. Dit was ’n teleurstelling, aangesien dié plek besonderse historiese waarde dra. ’n Rebel het destyds in sy dagboek beskryf hoe hulle, ondanks bloedspore wat met elke tree agtergebly het, vasbeslote was om hul bestemming te bereik – al moes hulle handeviervoet teen die duin uitkruip.

Die groep het daarna per voertuig na Zwartmodder langs die Moloporivier beweeg, waar ’n asemrowende toneel hulle ingewag het: die rivier in vloed, met water wat oor ‘n afstand van bykans 2 km kniediep oor die pad gestrek het.

Die Rebelspoorvasbyt-deelnemers het nie net die unieke skoonheid van die Kalahari beleef nie – sy rooi duine, uitgestrekte vlaktes en sterrehemel – maar ook blywende verhoudings gebou. Terselfdertyd is geskiedenis op ’n lewende, betekenisvolle wyse aan ’n nuwe geslag oorgedra.

Die stappers beskryf Rebelspoorvasbyt 2026 as ’n diep en vormende belewenis – een wat hulle nog lank sal bybly en wat reeds die begeerte werk om volgende jaar weer die pad aan te pak.