Hoewel Ricus Nel aanvanklik bekendheid as ateljeemusikant verwerf het vanweë sy veelsydigheid as instrumentalis, het hy in 2011 sy debuutalbum as sanger, Sak en pak, opgeneem.
Sedertdien het sy gewildheid as sanger al hoe meer toegeneem en hy het sukses met liedjies soos “Hardekole”, “Boerepompie”, “Ploeg jy?” en “Binne bly ons jonk” behaal. Nou is hy terug met sy jongste album Om die vuur, waarop hy hoofsaaklik hulde bring aan kunstenaars wat hom beïnvloed het.
Die album begin met Koos Ras se komposisie, “Die bok se klok”, wat ook ’n treffer vir Danie Pretorius was. Die aksent waarin Ricus sing, is skreeusnaaks en heeltemal oortuigend. “Trek uit jou baadjie” is ’n ou bekende liedjie maar die herkoms daarvan is onbekend. Hoe ook al, dit behoort van voor af ’n treffer te word. Ricus is nie bekend daarvoor dat hy bestaande liedjies met Afrikaanse woorde sing nie, maar hierdie keer het hy ’n uitsondering gemaak. “Lang slap meisie van die Kaap” is die Afrikaanse weergawe van Mungo Jerry se treffer “Long legged woman dressed in black”. Dis moeilik om te glo dat die oorspronklike liedjie reeds vyftig jaar oud is. Ricus het sommer die refrein van Jean Knight se treffer uit 1985, “My toot toot”, ook ingesluit.
Dis duidelik dat Francois Hayes ’n groot invloed op Ricus se loopbaan gehad het, want hy het vier van Francois se treffers ingesluit. Die eerste een is “Karolis”, seker een van Francois se gewildste liedjies wat in die FAK-Sangbundel ingesluit is. Zak van Niekerk was veral gewild aan die Kaapse Weskus, en Worsie Visser het sy loopbaan tot ’n groot mate beïnvloed. Zak is egter in 2012 in ’n motorongeluk dood kort nadat hy na die Vaaldriehoek verhuis het. Ricus het “Lekkerkry”, een van Zak se grootste treffers, ingesluit. Zak was ’n baie goeie mondfluitjiespeler en Ricus wys op hierdie snit dat hy dit self kan doen. Zirk Berg was nog ’n sanger wat van die Weskus af gekom het; hy het in ’n ou Volkswagen-kampeerwa gewoon en benewens sy musiek ’n bestaan gevoer deur kreef te duik. Sy vertonings was skreeusnaaks, en daarom is dit hartseer dat hy op die ou einde sy eie lewe geneem het. Een van sy grootste treffers was “Huisie by die see”, met lirieke wat ’n mens lekker laat lag. Dis goed dat Ricus ook aan hom hulde gebring het; sy weergawe van hierdie liedjie behoort weer ’n treffer te word. Ricus het drie van David Kramer se grootste treffers ingesluit, onder meer “Royal hotel”, wat baie goed op Springbok Radio se Top 20 gevaar het. Vir die eerste keer op hierdie album kan ’n mens hoor hoedat Ricus die Boerekonsertina bespeel. Nog ’n snit waarop Ricus konsertina speel, is sy weergawe van Anton Goosen se groot treffer “Kruidjie roer my nie”; weer eens kan Ricus se weergawe ’n treffer word.
“Haak hom Blokkies” is die liedjie wat die meeste Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers aan David Kramer bekendgestel het. David het die liedjie opgeneem kort voordat die Springbok-rugbyspan in 1981 op hul toer na Nieu-Seeland vertrek het. Hulle het ’n eksemplaar van die kortspeler saamgeneem; die liedjie het teen Springbok Radio se Top 20 uitgeklim terwyl die toer aan die gang was en die naweek van die laaste toets was dit in die nr. 1-posisie. Hoewel kunstenaars soos Theuns Jordaan en Bill Flynn dit ook al voorheen gesing het, is Ricus se weergawe seker die beste een sedert David dit oorspronklik gesing het. Die laaste van David Kramer se treffers wat Ricus ingesluit het, is “Meisie sonder sokkies”. Natuurlik kan Ricus nie David se aksent nadoen nie, maar sy weergawe is baie goed. Die laaste drie snitte op die album was treffers vir Francois Hayes. “Jorrie Dittel Dy” is een van daardie liedjies waaroor jy gaande is of wat jy nie kan uitstaan nie, en dis nie maklik om iemand wat reeds besluit het waar hulle staan, anders te oortuig nie. “Osbraai op Kromdraai” was Francois se eerste treffer en is een van daardie liedjies wat die dansvloere sommer vinnig vol kry. Natuurlik speel Ricus konsertina op hierdie snit; hy is dalk die eerste kunstenaar wat dié liedjie opneem sedert die oorspronklike een vrygestel is. “Die gat in die grond” is nog ’n ou bekende liedjie wat al jare lank gesing word, en Francois Hayes was, sover bekend, die eerste kunstenaar wat dit opgeneem het. Natuurlik sal ’n mens dadelik wil saamsing, maar dan moet jy kophou. Hoe ook al, dis goed dat daar weer ’n opname daarvan gemaak is.
Aan die einde van die album is daar begeleidingsnitte van al die snitte, wat goed is vir dié wat die liedjies dalk self wil sing, maar dalk nie ’n musiekinstrument kan bespeel nie of nie een byderhand het nie. Die enigste probleem is dat CD-eksemplare van hierdie album baie skaars sal wees omdat musiek deesdae omtrent net digitaal uitgereik word.
Met hierdie album kan ’n mens agterkom dat Ricus sy teikenmark ken en vir hulle presies gee wat hulle wil hê. Dit is die soort album wat ’n mens (verskoon die woordspeling) laat lekkerkry en absoluut geskik is vir ’n gesellige kuier om ’n kamp- of braaivleisvuur. Dit is dalk een van die lekkerste Afrikaanse albums wat in ’n lang tyd vrygestel is en ’n mens kan net hoop dat baie van die snitte die radiolugtyd sal kry wat dit verdien.
Daantjie Badenhorst