In ’n ou fotoverhaalboekie sit sy en wag – beehive en pêreloorbelle. Sy bly êrens in die Noord-Kaap en sy hou van Rondry, fliek en die buitelewe …

Dis karakters wat almal ken, verhale en fabels van dinge wat rondom ons gebeur. Liefde, leed en die lewe …

Met Valiant Swart se nuwe album Rondry, fliek en die buitelewe gee hy lewe aan hierdie verhale en karaters en vertel hy die “onreine waarheid” van die wêreld rondom ons.

Op 4 Julie het Valiant saam met die begaafde kitaarspeler Illimar Neitz, ’n intieme bekendstellingskonsert by die Atterbury Teater gehou om dié besonderse album amptelik die wêreld in te stuur.

Soos net hy kan, het die Mystic Boer (Valiant) die gehoor op ’n behoorlike reis geneem deur sy musiekloopbaan van “Song vir Katryn” en “Sonvanger” tot “Jakarandastrate”; van Koos Kombuis en Ollie Viljoen tot Anton Goosen – dít is die nalatenskap van die talentvolle alternatiewe rocker en dit blyk nog lank nie die einde van hom te wees nie.

“Solank ek stories het om te vertel, sal ek sing.” Dis stories van “die witwyn tannie met die sweetpakbroek, die rooiwyn tannie wat so lekker kan vloek, die brannewyn tannie met die krismiskoek en die soetwyn tannie met die Weskus-snoek.” Dis stories van die meisie wat alleen sit “in ’n townhouse in Tiervlei … siggie en ’n soapie.” Dis die storie van ’n volgepakte klein kroeg op die strand en al die verhale wat daarin afspeel. Dít is wat Valiant Swart so spesiaal maak: Wanneer hy sing, word jy weggevoer deur sy woorde en wysies en jy word deel van die verhale wat hy vertel.

Die FAK het na die vertoning by Valiant gaan kers opsteek om bietjie meer te leer oor die sanger en waar sy towerwoorde vandaan kom:

Wat inspireer jou om musiek te maak en waar kom al jou stories vandaan?

Ek dink enige stories is soos drome – dis daar, jy moet net kyk en luister. Ons almal ken die mense in my liedjies, ons almal was al êrens in ’n situasie of twee wat jy dalk in my liedjies kan raak hoor. Dis niks anders as drome nie. Mense inspireer my. Mense en hulle stories en daarom vertel ek dié stories oor in my musiek.

Jy is ’n Rocker en ’n Blues-man in wese, maar wat is jou gunstelingmusiek?

Boeremusiek, ek weet dit klink weird as jy na my kyk en luister, maar ek’s my hele lewe nog versot op Boeremusiek. Ek het duisende Boeremusiekalbums van toeka tot nou. Ek dink dit is juis ook hoekom my album Vuur en Vlam, wat ek saam met die legend Ollie Viljoen opgeneem het, vir my so spesiaal maak. Ek verlang na hom; wat ’n karakter, wat ’n musikant … (Maar) Ja, Boeremusiek, dis my gunsteling.

Jou lied, “Sonvanger” is een van die grootste Afrikaanse liedjies van alle tye. Baie mense meen dit is ’n onsterflike lied, soos “Kinders van die Wind” of “Stuur groete aan Mannetjies Roux.” Dink jy Afrikaanse musiek het met hierdie liedere al sy piek bereik of hoe lyk die toekoms van Afrikaanse musiek, as jy ’n voorspelling moet waag?

Dit is ’n wilde vraag om te antwoord, want ons almal kyk natuurlik anders na ons taal én musiek. Afrikaanse musiek het ’n besonderse ryk geskiedenis en anders as in die verlede is Afrikaanse musiek lankal nie meer net ’n genre nie. Ons het popsangers, iets wat nie almal suksesvol kan doen nie. Ons het rockers, blues-sangers, countrysangers en ál hierdie genres staan sy plek vol in Afrikaanse mense se harte. Ons het soveel talentvolle jong sangers wat deesdae fantastiese goed doen, as ek nou vinnig moet dink, dink ek byvoorbeeld aan Danie Reënwolf van Spoegwolf. Ek het al die eer gehad om saam met hom op te tree en as dit wat hy met ons taal kan doen en dit wat sy musiek aan ander doen, enigsins ’n weerspieëling is van waarheen Afrikaanse musiek op pad is, is die toekoms blink.

Rondry, Fliek en die Buitelewe is een van Valiant se mooiste albums nog en ’n fantastiese toevoeging tot enige Afrikaanse musiekliefhebber se versameling.

Deur FC Pelser