Konsentrasiekampdag is op 16 Junie reg oor Suid-Afrika herdenk met talle seremonies en byeenkomste wat die pyn en opoffering van duisende vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog in herinnering geroep het.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) was saam met verskeie kultuurnetwerke en organisasies betrokke by herdenkingsgeleenthede in Vereeniging, Burgershoop, Kimberley en Irene, terwyl daar ook herdenkings plaasgevind het by Vyfhoek, Nylstroom en Turffontein.

By die Vryheidsmonument in Vereeniging het die dag begin met ’n vlagseremonie gelei deur Die Voortrekkers. Pastoor Pieter Kriel het die verrigtinge geopen met ’n boodskap van hoop en geloof, waarna Gys Ströh as hoofspreker die geskiedenis van die konsentrasiekampe en hul impak op die Afrikanervolk uitgelig het. Die kinders van Chalkboard Champs, ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, het die erns van die dag met hul teenwoordigheid beklemtoon. Die dag is afgesluit met die sing van “Die Stem” as gebed, gevolg deur ’n volkspele-optrede van Vaalrivier Laer en ’n gemeenskapsbraai. Jan-Danie Malan, FAK-kultuurnetwerkkoördineerder in die sentrale dele van die land, het die belangrikheid van onthou beklemtoon: “Om hier saam te staan, is nie net ’n daad van herinnering nie, maar van verantwoordelikheid. Hierdie dag herinner ons daaraan dat vryheid ’n duur prys het, een wat ons nooit mag vergeet nie.”

In Kimberley het die FAK-Noord-Kaap-Kultuurnetwerk in samewerking met verskeie ander organisasies ’n indrukwekkende herdenking gehou by die Newton-konsentrasiekampmonument. Meer as 5 000 vroue, kinders en bejaardes is in hierdie kamp aangehou, waarvan meer as 500 hul lewens verloor het. Verskeie individue en organisasies het die geleentheid gekry om kranse te lê ter nagedagtenis aan die slagoffers. Die geskiedkundige konteks van die kamp is breedvoerig bespreek, waarna Marius Nagel die dag

afgesluit het met die woorde: “Ons sal nooit die stryd opgee vir ons vryheid nie.” Cara Tomlinson, Noord-Kaap-kultuurnetwerkkoördineerder, het gesê: “Om die stories van hierdie vroue en kinders lewendig te hou, is ons eerbetoon aan hul lyding en hul moed. Ons onthou nie net nie, ons dra hierdie stories oor van geslag tot geslag.”

By die konsentrasiekampkerkhof in Irene is respek betoon aan die meer as 1 200 vroue en kinders wat daar begrawe is. In die skadu van die eenvoudige grafte is daar stil gebid, kranse gelê en aan elke naam op die gedenksteen erkenning gegee.

Daar was ’n indrukwekkende bywoning van 68 mense by die verrigtinge wat by Turffontein-konsentrasiekamp, geleë op die bekende renbaan in Johannesburg, plaasgevind het, met die teenwoordigheid van verskeie Voortrekkerkommando’s soos Org Meyer, Kompas, Impala en Suiderlig. Volkspelegroepe Suiderland, Saamstaan en Polka Draai het ook opgetree. Volgens Charles Rademeyer, kultuurnetwerkkoördineerder in die noordelike dele van die land, het hulle nie net op ’n historiese terrein gestaan nie. “Ons staan op die grond van herinnering, van opoffering en van identiteit. Hier het ons voorsate gestaan teen ’n mag wat groter was, maar nie ’n gees wat sterker was nie. By die FAK glo ons: erfenis is nie iets van die verlede nie – dit is ’n roepstem na die toekoms. Wanneer ons monumente opknap, verhale vertel en plekke soos die Turffontein-konsentrasiekamp bewaar, doen ons meer as net onthou – ons bou.”

Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, het die dag soos volg opgesom: “Ons herdenk nie net die dood van duisende nie, maar die lewe van ’n volk wat ondanks pyn steeds gekies het om te bou. Elke krans wat gelê is, elke gebed wat gebid is en elke storie wat vertel is, is ’n getuienis van ’n volk se onblusbare gees.”