
Perderesies in Majubaberg se skaduwee. (Foto: Etienne Hansen)
’n Besoek aan Majuba is nie sommer ’n gewone besoek aan ’n geskiedkundige besienswaardigheid nie. Wanneer jy aan die voet van hierdie enorme berg staan en jou oë opslaan, word elkeen van jou hartsnare geroer, vir al die regte redes.
Ongeveer 400 Boere het die oggend van 27 Februarie 1881 die berg bestyg om die ongeveer 600 Britte, wat dit die nag tevore beset het, af te dryf.
Die oorwinning was so triomfantelik dat dit oor die ganse Westerse sfeer weergalm het. Twee onbeduidende, jong republieke aan die suidpunt van Afrika het die magtige Britse ryk, onder aanvoering van die briljante genl. George Pomeroy Colley, ’n verlammende nederlaag toegedien. Boonop is die aanval vanaf die voet tot bo-op die kruin van die berg op ’n meesterlike manier uitgevoer, terwyl die omstandighede oorweldigend teen die Boere was.
Hierdie ongelooflike maneuver het ook die einde van die Eerste Vryheidsoorlog beteken.
“Dit het ons vier ure geneem om Majuba te bestyg en vier tree om af te kom.” Dit was die woorde van ’n Britse soldaat ná afloop van hul nederlaag, wat inderhaas teen die suidelike hang van die berg af gevlug het.

Vertoning van die vlae van die talle republieke uit Suid-Afrika se geskiedenis. (Foto: Etienne Hansen)
Die Boere het in drie groepe, onder kommandant Joachim Ferreira en assistent-veldkornette Stephanus Roos en Dawid Malan georganiseer om die berg uit verskillende rigtings te bestyg. Terwyl die ouer manne bo die ouderdom van 50, die koppe van die Britte wat oor die rant van die kruin geloer het, laag gehou het, het die jonger manne die kruin bestorm.
Die Britse soldate, onder aanvoering van genl. Colley was heeltemal onkant betrap en het nie eers skanse gebou nie. Colley was inderwaarheid so gerus dat hy in sy tent aan die slaap was toe die Boere oor die kruin gestorm het. Aan die Britte se kant was daar 92 gesneuweldes en aan Boerekant slegs twee.
Majuba was ’n klinkklare oorwinning vir die Boere en vrede is kort daarna in ’n plaashuis daar naby gesluit.
Historiese veldslag gevier
Die Majuba-veldslag word elke jaar tydens die naaste naweek aan 27 Februarie herdenk, of eintlik gevier, en derhalwe het Afrikaners onlangs weer van heinde en ver op die Majuba-plaas, 20 km suid van Volksrust, toegesak.

So word daar by Majuba gekamp. (Foto: Etienne Hansen)
Die feesprogram is afgeskop met ’n kanonskoot en kranslegging. Die aand is ’n fakkelloop teen die berg op gehou en die rooi vuurstreep het gesorg vir ’n asemrowende toneel. Saterdagoggend is die kampeerders begroet deur ’n digte misbank wat die berg omvou het. Ná afloop van die vlaghysing, wat deur die leerders van CVO-Lichtenburg uitgevoer is en ’n vlagvoorstelling deur die Bittereinder-Perdekommando is daar heerlik saamgekuier.
Die sagte reën kon niemand keer om deel te neem aan perderesies, sweepklap, jukskei- en die skyfskietkompetisie nie. Toe die wolke sy sluier lig, is die berg met geesdrif aangedurf. In die H.S. van Blerk-saal is daar heerlik volkspele gehou, want Afrikaners is mos plesierig.
Die hoogtepunt van die fees was die Cantille en Cantus wat oud en jonk geniet het. Die fees is Sondag op gepaste wyse met ’n kerkdiens afgesluit. Met ’n vol gemoed en mooi herinnering is feesgangers uitmekaar … tot die volgende Majubafees.

Cantus by Majuba. (Foto: Etienne Hansen)
Virtuele Majuba-kranslegging
Op Saterdag, 1 Maart, 144 jaar ná die Slag van Majuba, het die FAK se kultuurnetwerke in die noordelike provinsies in die Heldeakker in Pretoria bymekaarkom om die perseel skoon te maak.
Die FAK het die geleentheid ook benut om hulde te bring aan een van die grootste helde van die Eerste Vryheidsoorlog en die Majuba-veldslag, genl. Nicolaas Smit. Tydens die dag het Smit se ongelooflike begeesterende verhaal met ’n kransleggingseremonie voortgeleef.
Lede van die publiek wat nie die geleentheid in persoon kon bywoon nie, is uitgenooi om ’n virtuele krans te lê.

Die uitsig vanaf Majubaberg. (Foto: Etienne Hansen)
Dit wat vandag van Majuba oorbly, kan Afrikaners in een word vasvang – erfenis. Ons kan in dankbaarheid hierdie kosbare deel van ons geskiedenis waardeer en nog ’n stukkie van die legkaart van die verstaan van ons geskiedenis insit.