Die FAK is nou twee erfenisskatte, wat die enigste van sy soort in die wêreld is, ryker.
Andries Hendrik Potgieter, een van die Groot Trek-leiers, se oorspronklike vlag na die oorwinning by die Slag van Kapain/Gabeni in 1837, tussen die Voortrekkers en die Matabeles, is aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geskenk.
Dit is nie al nie. Die oorspronklike borsbeeld van Potgieter wat in 1967 in Zeerust, in Noordwes, opgerig is, is ook aan die FAK geskenk.
“Vir enige normale persoon is erfenis maar net nog ’n vlag of net nog ’n borsbeeld, maar sodra jy die storie agter hierdie skatte hoor, besef jy opnuut hoeveel waarde in dié voorwerpe wegkruip.”
So sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, toe hy onlangs die skenking ontvang het. Die som van vyf ongelooflike historiese voorwerpe wat die verhaal van die Afrikaner oor verskillende eras vertel.
Rademeyer het die afgelope week al die pad van Pretoria na Zeerust na oom Philippus (Boeta) du Toit gereis wat besluit het om die ongelooflike skenking aan die FAK te maak.
Onder die voorwerpe wat Du Toit geskenk het, is ’n oorspronklike Potgieter-borsbeeld wat dateer uit die 1960’s.
Hierdie borsbeeld van Potgieter is in 1967 in Zeerust deur prof. CR Rautenbach, wyle rektor van die Universiteit van Pretoria, onthul. Die beeld is destyds deur die Zeerust Rapportryerskorps, waarvan Du Toit se pa deel was, opgerig.
Na die beeld deur vandale beskadig is, het Du Toit dit op homself geneem om ’n replika van die borsbeeld te laat maak en die oorspronklike borsbeeld is hierdie week aan die FAK geskenk.
Potgieter het saam met Gerrit Maritz die Matabeles van Silkaats by Mosega op 17 Januarie 1837 verslaan. Hierdie oorwinning was die katalisator tot die ontwikkeling van die Zeerust-omgewing.
Potgieter se oorspronklike vlag wat by die Slag van Kapain/Gabeni in November 1837 was, saam met ’n vaandel van die Zeerust-kommando, is ook aan die FAK geskenk.
“Die werk wat die FAK doen vir erfenisbewaring is van onskatbare waarde en daarom het ek besluit om die voorwerpe te skenk. Mens kan werklik trots wees op ’n organisasie soos die FAK,” sê Du Toit.
Du Toit het ook ’n vlag geskenk wat teen ’n paal tydens die Grens- of Bosoorlog op die grens gewapper het. Volgens oorlewering was dit die laaste vlag wat gestryk is op die grens van Namibië en Angola met die oorlog. Dit is die laaste landsvlag wat gewapper het tot die einde van die oorlog toe.
Die kersie op die kultuurkoek was ’n groot Vierkleur-vlag wat uit die Anglo-Boereoorlog uit kom.
“Die Vierkleur-vlag is tydens die Anglo-Boereoorlog in opdrag van kolonel HJ Kinsman voor die stadsaal in Zeerust afgehaal na die ontsetting van Mafikeng,” sê Rademeyer.
“Die kolonel het verskeie weke daarmee in sy saalsak rondgery en toe hy terug is Engeland toe het hy die vlag saamgeneem. Daar het dit vir 20 jaar in die offisiersmenasie van die regiment ‘The 2nd Royal Dublin Fusiliers’ gehang. Toe die regiment later ontbind is, ongeveer 1923, is die vlag weer aan kolonel Kinsman oorhandig.”
Die kolonel het glo later besluit dat die vlag na 50 jaar van omswerwinge in die buiteland, na Suid-Afrika moet terug om weer sy regmatige plek in te neem in sy tuisdorp, Zeerust. Die kolonel het toe die vlag saam met kolonel B Hall R.A., wat net daarna Suid-Afrika besoek het, gestuur wat dit aan die destydse burgemeester mnr. Lawrence Ryan oorhandig het.
“Hierdie skenking is van enorme kultuurhistoriese waarde omdat elke item te doen het met ’n ongelooflike belangrike breukdeel van wie ek en jy vandag is. Vir enige normale persoon is hierdie dalk maar net nog ’n vlag of nog ’n borsbeeld, maar sodra jy die storie agter hierdie erfenisstukke hoor, begin jy hoendervleis kry deur net te dink aan die agtergrond. Dit is wat die skenking so spesiaal maak omdat dit die geleentheid skep om hierdie byna 122-jaar-oue vlag nie net te bewaar nie, maar om die storie oor die dra aan die volgende geslag,” sluit Rademeyer af.