Nadat Ronell Erasmus lank die een helfte van Touch of Class was, het sy besluit om ’n sololoopbaan in kontemporêre Christelike musiek te volg, en haar plek is ’n paar jaar gelede deur Ruhan du Toit ingeneem.
Dit het gemaak dat die gehalte van hul musiek ongelooflik verbeter het, maar nadat Ruhan net vier albums as Touch of Class se hoofsanger opgeneem het, het hy ook besluit om ’n loopbaan as solokunstenaar te volg.
Nou het ’n nuwe era vir Touch of Class aangebreek. Die stigterslid van die groep, Deon van der Merwe, wat nog deurentyd lid daarvan was, is nou saam met Dusty Dixon, wat al jare lank in die musiekbedryf is en self ’n paar albums agter sy naam het. Hul eerste album saam, Stille soldate, is onlangs uitgereik. Dusty het sommer dadelik sy stempel afgedruk deur die titelsnit te skryf. Dit is ’n huldeblyk aan die duisende jong mans wat gedwing is om twee jaar van hul lewens militêre diensplig te verrig. “Weskus se kind” is nog ’n oorspronklike snit, wat Dusty saam met wyle Leon Beukes geskryf het, en hierin sing hulle van die verlange na die Weskus as ’n mens in die buiteland is en die feit dat oorsese lande vir sommige mense geen bekoring inhou nie. “Dammit I love you” was ’n Engelse vertaling van Matthias Reim se treffer “Verdammt ich liebe dich”, en ’n baie groot treffer vir Dennis East. Touch of Class se weergawe vergelyk baie goed met dié van Dennis East. “Kan jy onthou” is ’n komposisie van Ray Dylan, wat lank laas nuwe musiek vrygestel het. “Cheryl Moana Marie” is oorspronklik deur John Rowles gesing, maar dit was in Suid-Afrika ’n treffer vir Gert Potgieter. Dusty se stemkwaliteit, en veral sy vokale reikwydte, word baie goed op hierdie snit ten toon gestel; ’n mens moet ook onthou dat Gert ’n liriese tenoor was wat net so goed in ’n lae register kon sing. Lacy J Dalton se “Black coffee” het eers die laaste tyd ’n groot treffer geword, en Touch of Class se opname daarvan is baie goed. Dusty Dixon en Ray Dylan het “Groot skool liefde” saam geskryf. Deon se kitaarwerk op “Namibiese oë”, ’n komposisie van Brandon Dixon, is baie goed. Dit is ’n baie mooi oorspronklike snit wat ’n treffer behoort te word. Die volgende snit is ’n Suid-Afrikaanse gunsteling wat in die vergetelheid verdwyn het. “Live on” was Pierre de Charmoy se groot treffer; Pierre het van die toneel verdwyn nadat hy nog ’n album of twee vrygestel het en dis moeilik om hierdie liedjie in die hande te kry. Daarom is dit goed dat Touch of Class dit opgeneem het. “Die land” is oorspronklik deur Steve Hofmeyr, Ruhan du Toit, Jay, Bobby van Jaarsveld en Bok van Blerk gesing. Die liedjie is aanvanklik vir ’n Ghoema-toekenning benoem maar dié benoeming is onttrek. Die leerlinge van die Laerskool Concordia in Boksburg sing dit saam met Touch of Class; dié liedjie is uiters geskik vir ’n koorverwerking en ’n mens hoop dat iemand dit mettertyd sal doen. Die volgende snit is ’n Neil Diamond-keurspel. Neil Diamond is ’n legende in die internasionale musiekbedryf en sy musiek is tydloos. Aan die ander kant is dit al ’n honderd keer opgeneem en ’n mens wonder hoekom dit nie nou al genoeg keer gedoen is nie. “Kop op my bors”, ’n komposisie van Piet Farrel, is nog ’n moontlike treffer. “Stolen love” is ’n bekende country-liedjie wat al deur verkillende kunstenaars opgeneem is; die wysie is ook al in Afrikaans vertaal, maar die Afrikaanse weergawe het in die vergetelheid verdwyn. “Ons gaan lepel lê” is nog ’n komposisie van Piet Farrel wat ’n treffer kan word. Piet het ook “In die koelte van my hart” geskryf; dit behoort ook ’n treffer te word. Dusty het Elvis Presley se musiek al voorheen opgeneem, en daarom is dit geen verrassing dat “Always on my mind”, “Can’t help falling in love” en “Suspicioius minds” ingesluit is nie. Weer eens wonder ’n mens hoeveel keer dit nóg opgeneem gaan word. Die laaste snit is ’n uitstekende weergawe van George Ezra se treffer “Shotgun”; dit pas Dusty se stem baie goed.
Wanneer ’n musikale samewerking suksesvol is, wonder ’n mens altyd wat gaan gebeur wanneer dit tot ’n einde kom. Deon en Ruhan het Touch of Class verander van ’n groep oor wie se musiek ’n mens liewer nie gepraat het nie tot een van die beste groepe in die musiekbedryf. Daarom is dit te verstane dat mense skepties sou wees oor die feit dat Ruhan as hoofsanger vervang is. Gelukkig hoef ’n mens glad nie bekommerd te wees nie; Dusty staan Ruhan se skoene baie goed vol; en om alles nog beter te maak, is daar al hoe meer nuwe, oorspronklike snitte op hierdie album as in die verlede. Daarom is dit glad nie nodig om bekommerd oor die groep se voortbestaan te wees nie; Deon en Dusty het vorendag gekom met ’n uitstekende album wat groot sukses behoort te behaal.