Daar is baie min kunstenaars wat tot aan die einde van hul lewens, selfs op ’n hoë ouderdom, steeds aktief was en nuwe musiek opgeneem en vrygestel het.
Een van hulle was Lance James, wat onlangs in die ouderdom van 81 jaar oorlede is. Hy het net meer as ’n jaar voor sy dood, op tagtigjarige ouderdom, sy laaste CD uitgereik, en hoewel dit nie noodwendig die bedoeling was nie, was die titel daarvan, Swan song, op ’n hartseer manier profeties.
Van die eerste snit af kom jy agter dat Lance nie net country gesing het nie. Die eerste snit, “Lie to me”, is eerder blues. Lance het ook ’n paar gaskunstenaars gekry om saam met hom te sing; die eerste hiervan is Liza Brönner en Elizma Theron, wat saam met hom op Porter Wagoner en Dolly Parton se treffer “The pain of loving you” gesing het. Jason Bradley is seker een van ons land se beste jong country-kunstenaars en hy het op Toby Keith se treffer “Don’t let the old man in”, gesing. Die boodskap is dat ’n mens nie moet toelaat dat ouderdom jou lewenskwaliteit nadelig beïnvloed nie.
Een van die groot verrassings is “Tower of song”. Dit is deur Leonard Cohen geskryf en gesing, en die stem van Clout se hoofsangeres, Cindy Alter, kan op hierdie snit gehoor word. “High heel sneakers” kan as opgewekte jazz beskou word; dit is beslis een van die hoogtepunte vanaf die album. “As long as I live”, oorspronklik gesing deur Red Foley en Kitty Wells, is ’n hoogtepunt. Nee, dis nie Dolly Parton wat saam met hom sing nie, maar sowaar Nianell, wat net soos Dolly Parton klink. Otis Redding is in Desember 1967 in ’n vliegongeluk dood ’n paar dae nadat hy “Sitting on the dock of the bay” opgeneem het. Dié liedjie het na sy dood ’n treffer geword. Lance het dit saam met Ballyhoo se voormalige hoofsanger Stewart Irving opgeneem. Die volgende snit is nie net ’n hoogtepunt nie; min mense sal dit glo. Lance James en Metallica is seker so uiteenlopend as wat ’n mens kry, maar Lance het hul treffer “Nothing else matters” sowaar opgeneem; die verskil is dat die woorde gepraat eerder as gesing is. Dit is ’n skitterende opname en ’n bewys dat Lance tot aan die einde belanggestel het in wat in die musiekbedryf gebeur het. Nog ’n bekende treffer is “Cry to me”, wat hy in dieselfde styl as The Staccatos opgeneem het. Lance was ook bekend vir kontemporêre Christelike musiek, maar weer eens het hy vir ’n verrassing gesorg. Mahlatini and the Mahotella Queens was tot in omtrent die 1980’s ’n uiters gewilde groep in Suid-Afrika maar nadat Mahlatini oorlede is, het The Mahotella Queens steeds voortgegaan om musiek te maak. Hulle het saam met Lance op Blind Willie Johnson se “Trouble will soon be over” gesing; dit is die een snit wat kop en skouers bo die res uitstaan. Benny Goodman was seker een van die wêreld se bekendste jazz-musikante, en Lance het sy treffer “Glory of love” opgeneem. Die laaste snit is weer ’n blues-treffer, naamlik “Rollin’ and tumblin’”, wat onder meer op Eric Clapton se Unplugged-album voorgekom het.
Baie mense druk sekere kunstenaars in ’n blik, asof hulle dink dat dié kunstenaars nie tot enigiets anders as die musiek waarvoor hulle bekendheid verwerf het, in staat is nie. Ons almal onthou Lance as ’n sanger van country-, Afrikaanse en kontemporêre Christelike musiek, maar met hierdie album het hy gewys dat hy tot baie meer in staat was. Dit maak die feit dat dit nooit vir hom moontlik was om ’n konserttoer met hierdie album te onderneem nie, ontsettend hartseer, want hy sou vol sale getrek het en mense se persepsies heeltemal verander het. Lance het seker sy beste album heel aan die einde van sy loopbaan vrygestel, eerder as ander kunstenaars wat te swak was om te sing en nogtans probeer het, maar vorendag gekom het met musiek wat onluisterbaar was. Hoewel hy nie meer met ons is nie, sal sy musiek vir altyd voortleef.