Op 14 Augustus 2025, presies 150 jaar ná die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Afrikanerbond (AB) die Kruger-galery by die Voortrekkermonument gevul met denkers, skrywers, opvoeders, kultuurleiers en mediafigure vir die GRA150 Taalsimposium. Die tema, ’n Voëlvlug oor die geskiedenis van Afrikaans, is doelbewus gekies en dui op ’n vlug wat oor ’n eeu en ’n half van taalgeskiedenis strek, maar ook koers vat na die volgende 150 jaar.
“Die Taalsimposium is ’n ruimte waar ons nie net terugkyk na 150 jaar van Afrikaans se georganiseerde stryd nie, maar vorentoe dink oor hoe die taal vandag weer ’n draer van identiteit, kennis en gemeenskapsbou kan wees,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. “Dit is ’n strategiese gesprek oor die toekoms van Afrikaans – nie net vir akademici nie, maar vir elke spreker van die taal.”
Met hierdie fokus het kenners uit verskeie velde hul perspektiewe en navorsing gedeel.
Suidelike en noordelike bakens – Die ontstaan en vestiging van Afrikaans
Prof. Louis du Plessis, ondervoorsitter van die AB, het die vroeë vormingsjare van Afrikaans bespreek, ’n taal wat sy wortels in Noors, Sweeds, Duits en Nederlands het, en deur die eeue gevorm is deur konfrontasie met Hollands en Engels. Hy het die pad van Afrikaans uitgebeeld, van Jan van Riebeeck se tyd tot moderne spreekwyses, en het mylpale soos die eerste Afrikaanse rolprent (1931), die eerste Afrikaanse Bybelvertaling (1933) en die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal uitgelig.
Dr. Danie Langner het sy nuutste boek, Hoek toe of hof toe?, as vertrekpunt gebruik om die tydperk van voor 1875 te verken. Hy het figure soos Pierre Simond, S.J. du Toit, Jan Lion Cachet, John Daniël Kestell en Mabel Malherbe uitgelig, nie net as pioniers nie, maar as mense met hul eie menslikheid en teenstrydighede. Argiefmateriaal soos briewe, dagboeke en koerante dien as “getuienisstukke” in ’n denkbeeldige hofsaak teen Afrikaans, en toon hoe stryd, geloof en visie saamgewerk het om die taal te vestig.
Afrikaans as geloofstaal
Prof. Herrie van Rooy, emeritus professor, het beklemtoon dat die GRA vanuit ’n behoefte ontstaan het om Afrikaans ’n geloofstaal te maak. Hy het die pad van Bybelvertalings in Afrikaans bepreek, van die 1933-vertaling, hersienings en verskillende weergawes tot en met 2020, en verduidelik hoe gesange oor tyd ontwikkel het. Hy het uitgewys dat die oorgang in kerke makliker was wanneer die Bybel én liedboek in Afrikaans was.

Afrikaans as akademiese, onderwys- en kultuurtaal
Dr. Annelise de Vries, hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), het beklemtoon dat taaldood wêreldwyd ’n werklikheid is, en dat UNESCO Afrikaans selfs as ’n “potensiële bedreigde taal” sou kon afgradeer. Sy het geskiedenis en moderne taalbeplanning verbind deur te uit te wys hoe die FAK se GRA-week doelbewus tot die voortbestaan van die taal bydra. Volgens haar bestaan taal uit drie verweefde elemente – geheue, instellings en taalgemeenskap – wat almal saam moet funksioneer om ’n taal volhoubaar en lewend te hou.
Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof van Akademia, beklemtoon die praktiese implikasie van hierdie drie elemente: dat Afrikaans nie net leef omdat dit gepraat word nie, maar omdat dit in instellings gelees, geskryf en gedink word. Universiteite, gesinne, skole en kerke vorm die ketting van taalinstellings – en as een skakel verswak, beïnvloed dit die hele netwerk. “Universiteite het daarom ’n besondere verantwoordelikheid om die hoogste vorme van Afrikaans te handhaaf, uit te bou en aan die volgende geslag oor te dra,” sê hy.
Dr. Carel Boshoff, voorsitter van die FAK-direksie, beklemtoon verder dat gemeenskappe se welstand en groei deur hul taal plaasvind, en dat Afrikaans slegs volhoubaar bly as dit iemand se kultuurtaal is – ’n verantwoordelikheid wat almal wat die taal dra, saam moet neem.
Hy het die feestelike gees van die GRA150-week gekoppel aan die groter doel van die dag: die viering van 150 jaar van Afrikaans is nie net ’n terugblik nie, maar ’n mandaat om die taal aktief te beskerm en vir toekomstige geslagte te bevorder.

Afrikaans as mediataal
Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het die geskiedenis en hedendaagse rol van Afrikaans in die media behandel. Sy verwys na die eerste Afrikaanse koerant in 1876, wat as spreekbuis vir die taal gedien het, en latere opkoms van Afrikaanse tydskrifte en koerante. Hierdie media-inisiatiewe het nie net die taal bevorder nie, maar ook ’n kultuurerfenis geskep wat in moderne digitale platforms voortleef. Sy het uitgewys hoe die Afrikaanse medialandskap vandag vinniger en meer divers is as ooit – met groter verantwoordelikheid omdat lesers krities is en self inhoud deel.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die dag se verrigtinge saamgevat. Die visie vir Afrikaans is duidelik: ’n volle, funksionele taal wat nie net oorleef nie, maar floreer. “Ons moet werk met wat ons het, soos ons voorouers wat die taal met groot moeite uitgebou het. As hulle dit kon doen, kan ons in beter omstandighede selfs meer bereik, dit groter en beter doen,” sê hy.
Die gesprekke tydens die GRA150 Taalsimposium het beklemtoon dat die ontstaan van Afrikaans oorspronklik uit ’n geloofsaak gekom het – die behoefte aan ’n Afrikaanse Bybel – en dat hierdie strewe uitgebrei het tot die ontwikkeling van ’n gevestigde, volronde taal in alle sfere van die samelewing. Hierdie 150 jaar herdenking is nie net ’n terugblik nie, maar ’n wegspringplek vir die volgende hoofstuk van Afrikaans se storie.

