Volgens die Gautengse Erfenisowerheid (PHRAG) is daar nie erfeniswaarde aan die wêreldbekende Jakarandabome wat reeds bykans 140 jaar in die Jakarandastad blom nie.

Daar is in 2022 reeds appèl aangeteken teen hierdie besluit, maar dadels het hiervan gekom.

Luidens die aanvanklike aansoek wys dit dat selfs die Tshwane Metroraad die versoek ondersteun het, maar dít is aanvanklik van die hand gewys.

Volgens Gerhard Pretorius, woordvoerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), is daar duidelike erfeniswaarde aan Jakarandabome.

“Pretoria staan bekend as die Jakarandastad, dit behoort al reeds vir mens ’n aanduiding te wees van die intrinsieke erfeniswaarde van dié bome as die hoofstad van die land sy geliefde hartsnaam hiervan gekry het. In Gauteng is daar sowat 65 000 bome in die Jakarandastad, Pretoria, en 70 000 in die Goudstad, Johannesburg,” sê Pretorius.

Die bome se oorsprong kom uit Suid-Amerika en die eerste boom is in 1885 in Durban geplant. In 1888, 136 jaar gelede, is die eerste twee saadjies van dié bome in Sunnyside, in Pretoria geplant.

“Die FAK het nou ’n petisie van stapel gestuur om die appèlaansoek te steun sodat ons natuurerfenis ook erken kan word vir die erfenis- én toerisme-waarde wat Jakarandabome toevoeg, nie net in Pretoria nie, maar in die hele Gauteng.

“Daar is bykans 2,6 miljoen internasionale toeriste wat Gauteng in die 2022/2023 finansiële jaar besoek het. Ek het in die week self gesien hoe toeriste in die strate van Pretoria stop om foto’s te neem van ons strate met die pragtige pers kombers. Daar is baie toegevoegde waarde om Jakarandabome erfenisstatus te gee,” sê Pretorius.

Die publiek kan die FAK se petisie ter ondersteuning by die volgende skakel teken: https://forms.gle/43L4gfCFyBKTFhSQA