Die FAK se Udolpho Rivierplaas betuig sy hartlike dank aan Orion Voortrekkers en Transmart vir hul onlangse skenking en ondersteuning. Orion Voortrekkers het 14 noodsaaklike items, insluitend bedoortreksels, handdoeke en groenterakke, bygedra om die fasiliteite by Udolpho te verbeter. Die items is veilig deur Transmart by die plaas afgelewer, wat seepglad verloop het.

 

Corné Steyn, bestuurder van Udolpho Rivierplaas, het haar waardering uitgespreek en gesê: “Die skenking beteken baie vir ons, want ons as Udolpho Rivierplaas het baie uitgawes om die plaas op standaard te hou en elke skenking wat ons ontvang, is sy gewig werd in goud! Maak nie saak hoe groot of klein nie, elke bietjie help om ons plek beter te maak sodat ons ons gaste gelukkig kan hou.”

 

Udolpho Rivierplaas is daartoe verbind om ’n verwelkomende en hoë gehalte omgewing vir sy gaste te handhaaf, en die ondersteuning van Orion Voortrekkers en Transmart speel ’n deurslaggewende rol om hierdie doelwit te bereik.

 

Okkie Jooste, takbestuurder van Transmart, sê hy was al heelwat in die verlede by Udolpho betrokke gewees.

“Die skenking kom van Rita Beneke, wat voorheen ’n Airbnb gehad het, wat dit toe aan Alice de Jager van Orion Voortrekkers gegee het. Transmart het toe die vervoer van die items na Udolpho behartig. Ek het ook al heelwat by Udolpho oorgeslaap, en dis altyd lekker daar! Ons by Transmart het ons dienste aangebied met die hoop om die vervoer van die skenking makliker te maak,” sê Jooste.

 

“Ons is opreg dankbaar vir die vrygewigheid en toewyding wat deur beide organisasies getoon word,” sê Steyn.