“Vryheid en onafhanklikheid” – dít is die boodskap van die Swahili-woord “uhuru”, wat vandag nog as ’n “opdrag” deur Afrika-murg en -been bruis.
Dit is presies hierdie vryheidsideaal wat dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), se jongste boek, Uhuru – Die Afrika-rewolusie tussen 1945 en 1960, geïnspireer het: die geskiedenis van Afrika en die strewe na onafhanklikheid wat soos ’n goue draad die stories van Afrika met mekaar verweef.
Uhuru – Die Afrika-rewolusie tussen 1945 en 1960 plaas die soeke na vryheid en identiteit binne ’n groter historiese konteks, en bied nuwe perspektiewe op Suid-Afrika en Afrika se geskiedenis.
Hierdie boek is op 7 Mei tydens ’n spoggeleentheid by die Smutshuis-museum in Irene, Pretoria, bekendgestel. Tydens dié bekendstelling het Langner ’n insiggewende gesprek gevoer het met adv. Marius Ackermann, voorsitter van die Voortrekkermonument-direksie. Dié bespreking het opnuut die vergrootglas op die opdrag van uhuru geplaas.
“Uhuru het in 2025 ’n woord van mislukking geword, maar oor die afgelope 15 jaar en in die aanloop tot die jare van die rewolusie in Afrika (1945-1960), was dit nie net ’n woord nie; dit was ’n vryheidsideaal,” vertel Langner.
“In hierdie jare was uhuru ’n kreet van mobilisering om vryheid en selfbeskikking op te neem, maar vir baie was dit ’n woord van verskrikking, bedreiging, vrees en afwagting. Dit was ’n kreet wat tydens opstande in Kenia gebruik is. In die Kongo het dit met die wrede moorde van sendelinge geëggo – ’n woord wat gebruik is om wit mense uit Afrika te verdryf.”
Uhuru het, volgens Langner, twee kante. Aan die een kant was dit ’n vreeslike verdelende woord, maar aan die ander kant en teen die einde van sy boek, weerspieël dié woord ’n pleidooi: “Uhuru roep ons om, waar ons vandag weer in ’n nuwe fase is van Afrika én die wêreld se ontwikkeling, weer dié woord te herbesoek. Dit roep ons om dié woord weer deel van ons hedendaagse woordeskat én ons eie vryheidsideaal te maak, want iewers gaan die Afrikaner in terme moet kom met Afrika.”
“Dít het nie gebeur in die eerste 15 jaar (tussen 1945 en 1960) nie, ook nie daarná nie. Tog staan ons vandag hier in Afrika op historiese erfgrond. Iewers wil ons almal steeds uhuru hê.”
Langner se boekbespreking is voorafgegaan deur ’n insiggewende praatjie deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, oor die einde van die Tweede Wêreldoorlog en die begin van die Koue Oorlog. Dit het opnuut dié tydperk in die wêreld se geskiedenis in konteks geplaas met waar ons vandag aan die voet van Afrika staan.
“Vandag begin by eergister. Die geskiedenis herhaal nie homself nie, maar mense wel,” het Buys gesê.
Buys het tydens sy praatjie verwys na die skrywer Martin Meredith wat die volgende oor die uitkoms van uhuru in sy boek The Fortunes of Africa geskryf het: “Die reeks staatsgrepe in Afrika het mekaar só vinnig opgevolg dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis inderhaas verbygeflits het …” Dít, vertel Buys, is waarom ’n mens met begrip en deernis na die besluite van ons voorouers moet kyk én daaruit leer.
In die voorwoord van Langner se boek skryf prof. Danie Goosen, voormalige voorsitter van die FAK-direksie: “Reg aan die begin van Uhuru skryf die outeur dat sy werk as ’n ontdekkingsreis verstaan moet word – ’n reis waarin hy as Afrikaner op soek gaan na ’n antwoord op die vraag hoe om Afrika met sy eie drome en ideale te verstaan.”
Volgens Goosen gaan dit egter nie net oor die vraag hoe om Afrika te verstaan nie. In Uhuru “word ook gesoek na ’n antwoord op dwingende prakties-politieke vrae – vrae na die plek van Afrikaners in Afrika. Hoe kan Afrikaners in Afrika tuiskom? Watter plek kan Afrikaners in hierdie misterieuse en diverse kontinent inneem? Op dié kontinent wat op uiteenlopende wyses deur NP van Wyk Louw as ’n ‘magiese Afrika’ en Totius as ’n ‘donker Afrika’ beskryf is.”
Sedert Langner in Januarie 2012 as besturende direkteur van die FAK aangestel is, het hy verskeie gesaghebbende publikasies die lig laat sien, insluitend Kaart en Koördinaat: ’n Gids vir jong Afrikanerleiers; Op die spore van Retief; Taalpioniers; NJ Hou Koers; Die Voortrekkers Hou Koers; Treur ontmoet Troos; en meer onlangs, Die goeie werker. Voor 2012 het hy publikasies soos Gebroke land: Armoede in die Afrikaanse gemeenskap sedert 1902; Teen die hele wêreld vry; en Trekkerkinders gepubliseer. Hy was ook redakteur van boeke soos Die Afrikanerrebellie, 1914-1915; De Bijbel in het Afrikaans; Republiek van die Oranje-Vrystaat 160; en Hoekom Afrikaans.
Langer se jongste pennevrug, Uhuru – Die Afrika-rewolusie tussen 1945 en 1960, getuig opnuut van sy diepgewortelde historiese kennisskat wat hy, in sy voortdurende strewe na persoonlike intellektuele vervulling, nie net op ’n interessante en kleurryke manier ontsluit nie, maar met deernis en diepgang vir geslagte wat kom in ink verewig.
Uhuru is beslis ’n boek wat op elke boekrak hoort.