Die FAK/VTM Kunsgalery het vanaf 14 tot 16 Junie 2025 opnuut bewys waarom dit een van die belangrikste ruimtes vir Afrikaanse visuele kuns in Suid-Afrika is. Die naweeklange kunsgeleentheid, UITSTAL, het plaasgevind in die kunsgalery by die ikoniese Voortrekkermonument en het besoekers die geleentheid gebied om werk van van die top Suid-Afrikaanse kunstenaars te beleef.

Kunstenaars soos Christi Chabant, Jan Labuschagne, Karin Rademeyer, Heide Krause, Emmie Fouche en Ewald Calitz het van hul mees persoonlike en treffendste werke uitgestal in ‘n ruimte wat sterk simboliek dra vir die Afrikaner-kultuur en erfenis. Elke kunstenaar het met hul unieke stem en visie hul eie kleur bygedra tot hierdie gedeelde ervaring.

Christi Chabant beskryf haar deelname as ’n eer. “Dit is die perfekste plek vir Suid-Afrikaanse kunstenaars om kuns uit te stal tussen ander kunstenaars se kuns. En dit is in ’n plek van ons huistaal, Afrikaans, ons geskiedenis, ons moederland.”

Heide Krause voeg by: “Om hier by die Voortrekkermonument uit te kon stal was ’n baie groot voorreg. Dit is so ’n pragtige gebou, vol karakter en hope vol geskiedenis.”

Vir Emmie Fouché was deelname aan UITSTAL nie net ’n artistieke geleentheid nie, maar ’n innerlike reis. “Vir my is kuns verryking van my siel, dit bring by my rustigheid, en opgewondenheid.”

Ewald Calitz beskryf sy kuns as ’n manier om lig en kleur in sy eie lewe te bring, maar ook in die van ander. “Ek het uitgestal by FAK/VTM Kunsgalery, omdat daar vir my iets besonders daaraan is om binne hierdie tuiste van ons kleurvolle geskiedenis en ons vrolike kultuur, ook my bietjie kleur by te dra.”

Die galery is die hele naweek deurgaans gevul met waardering, lekker geklets en stil bewondering vir die kunswerke wat wys hoe diep die Afrikaanse kunslandskap gewortel is in persoonlike verhaal, geskiedenis en emosie.

Marize Möller, kurator van die FAK/VTM Kunsgalery, sê: “UITSTAL het nie net ’n platform geskep vir ons kunstenaars om hul werke ten toon te stel nie, maar ook vir die publiek om weer te besef hoe lewendig en relevant Afrikaanse kuns vandag nog is. Hierdie galery is ‘n tuiste vir ons kunstenaars én ons kultuur.”

Die FAK bedank elke kunstenaar, besoeker, ondersteuner en lid van die publiek wat UITSTAL ‘n sukses gemaak het. Die samevloei van talent, geskiedenis en kultuurtrots het ‘n merkwaardige ervaring geskep.