Mediaverklaring

3 Junie 2024

Tientalle mense het die naweek een van die mees unieke “kampervarings” by die FAK se Uolpho Kultuurplaas in Parys beleef.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke in die Vrystaat het die afgelope naweek ’n nuwe opelugmuseum in die vorm van ’n klein konsentrasiekamp opgerig om in Juniemaand bewusmaking te bring aan konsentrasiekampmaand en die belangrikheid van erfenisbewaring.

Tientalle besoekers van so ver as Clarens, Potchefstroom en die Vaaldriehoek het saam kom kuier.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK, sê dit was werklik ’n belewenis vir almal.

“’n Egte konsentrasiekampervaring en besoekers het die geleentheid gehad om die naweek deur te bring in ’n klein konsentrasiekamptent in ’n doringdraadkamp met ‘gewapende’ Britte wat dag en nag gepatrolleer het.

“By Udolpho Kultuurplaas het ons deur die jare ’n baie unieke kultuuraanbod geskep en besoekers kan uitsien na verskeie geskiedkundige uitstallings en nou ook ’n buitelugmuseum,” sê Malan.

“Juniemaand staan bekend as konsentrasiekampmaand en dit was vir ons die perfekte geleentheid om nog ’n stukkie van die kultuurlegkaart in te vul deur ’n konsentrasiekamp hier op Udolpho te bou.”

Die tente is gemaak deur Canvas Clinic wat in die verlede al baie projekte saam met die FAK op Udolpho aangepak het. Hierdie tente is gemaak met die ou seile van die ossewaens wat op die terrein staan.

“Die vroue het hard gewerk om die klippe te verf en aan te dra terwyl die mans die draadkamp gespan het, teerpale geplant en tente opgeslaan het.”

Kobie Ströh, ’n bekende gesig by die FAK se kultuurnetwerke, het saamgekuier en die besoekers meer vertel oor die geskiedenis van konsentrasiekampe en die Anglo-Boereoorlog.

“Ons het ’n kersmars ook gehou om die besoekers ’n idee te gee van hoe dit sou wees vir die Boerevroue en kinders wat soms in die middel van die nag hul plase moes verlaat en na Britse konsentrasiekampe moes trek. Ons het ook vir elke besoeker ’n rantsoen braaipakkie gegee wat hulle die hele naweek moes hou,” sê Malan.

Interessant genoeg, vertel Malan, het elke gesin hul rantsoene anders gebruik, wat selfs meer klem geplaas het op hoe verskillend die konsentrasiekampervarings was tydens die oorlog van 1899 tot 1902.

Saterdagoggend (1 Junie) het die besoekers in historiese uitrustings foto’s geneem en hulle behoorlik uitgeleef. Later die aand het die groep ’n kort breek gevat van die konsentrasiekamp en die bekende film Arende, wat in die ABO-tydperk afspeel, gekyk.

Malan sê ter afsluiting hierdie naweek was nie net pret vir die besoekers nie, maar ’n goeie geleentheid om ons jongmense meer in te lig oor die geskiedenis van die Boereoorlog én by hulle ’n liefde vir en ’n trots op hul ryk geskiedenis in te boesem.

“Hierdie naweek was werklik ’n unieke ervaring en almal kon hulself en hul kultuur behoorlik uitleef en ons is baie trots om te sien hoe, veral die jongmense, die kampervaring geniet het.”