Dertien leerlinge van Hoërskool Duineveld in Upington het op 9 Mei by die Voortrekkermonument gekuier en hul kritiese denke op die proef gestel met ’n insiggewende debatwerksessie, aangebied in samewerking met Con Spirito en die FAK.

Lieandri Ackermann, projekbeampte by die FAK, sê dit is spesiaal om hierdie werksessie saam met Con Spirito te kon aanpak en sy hoop dat dit meer skole sal inspireer om hul leerlinge aan debatvoering bloot te stel.

“Die FAK en Con Spirito stap al ’n lang pad saam en dit is inspirerend om met ’n organisasie hande te vat wat die FAK se passie vir die ontwikkeling van ons land se jeug deel. Die passie waarmee hulle hul kennis met die jongspan deel, is aansteeklik en ek glo almal moet ten minste een keer ’n werksessie soos dié by die FAK bywoon,” sê sy.

Zelmarie Maré, kursusaanbieder, deel Ackermann se sentiment en sê dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe leergierig die jeug is. “Dit is vir my baie lekker om met ’n groep jongmense te werk wat werklik passievol is en meer wíl leer,” sê sy.

“Veral vanjaar, met die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal, is dit lekker om te sien dat Charlize Theron se destydse aanmerking oor Afrikaans as sterwende taal, sélf deur ons jeug verkeerd bewys word. Hier sit vandag 13 van die ‘44 Afrikaanssprekendes’ voor my, gerat en gereed om die denkers van die toekoms te word.”

Lizelle van Staden, stigter van Con Spirito sê dit is altyd lekker as daar so baie kinders belangstel om in Afrikaans ’n werksessie by te woon.

“Om jongmense te kan bemagtig om hulself tydens debatte te kan uitdruk in ons taal is regtig spesiaal,” sê sy.

“Dit is veral lekker om oor die afgelope paar jaar saam met die FAK hierdie projekte te kan aanpak. Hulle deure staan altyd oop om meer te leer ons taal en geskiedenis. Ek dink ook dit was baie spesiaal om dit in so geskiedkundige vertrek, die Transvaalkamer, te kon aanbied. Die FAK is daar vir enige iemand wat belangstel om projekte aan te bied vir oud en jonk om hul taal en kultuur saam uit te bou, en dit is lekker.”

Beatrix Venter, die Velties se Afrikaansonderwyser, sê die debatwerksessie was besonder insiggewend en sy hoop dat hulle meer geleenthede soos dié sal kry om by kenners kers op te steek en hul vaardighede uit te brei.

“Van ons kinders, veral die jonger leerlinge, het nog nooit debat gevoer nie. Dit is baie waardevol dat hulle nóú al toegerus word om nie net die kuns van debatvoering te bemeester nie, maar met vaardighede bemagtig word om standpunt in te neem en hul stem in die samelewing te laat hoor,” sê Venter.

Die FAK bied gereeld soortgelyke werksessies aan en wil elke ouer en onderwyser uitnooi om hul kinders vir een van die kursusse in te skryf. Stuur ’n e-pos na [email protected] vir meer inligting oor toekomstige sessies.