In 2025 vier die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) twee monumentale mylpale: Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal én die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) se 150ste verjaardag. Een van die opwindende maniere waarop dié dubbele feesjaar gevier word, is ’n besonderse bederf vir boekliefhebbers: ’n Boekeparadys, op Basaardag op 9 Augustus, op die Voortrekkermonument-terrein.
Hier kry lees, luister en taalpret nuwe lewe as deel van die Afrikaanse kultuurskat. “In 2025 het ons die voorreg om terug te kyk op meer as ’n eeu van Afrikaanse taalontwikkeling én om die lewende wêreld van Afrikaanse boeke te vier,” sê Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK. “Die Boekeparadys is ’n gepaste manier om die waarde van ons stories, ons skrywers én ons verbeelding uit te lig.”
Dié viering is gevestig in ’n ryk geskiedenis van taalstryd, geloof en taalbouers. Toe die GRA op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig is, was dit die begin van ’n doelbewuste poging om Afrikaans as ’n skryftaal en later amptelike landstaal en nie meer bloot ’n gesproke omgangsvorm nie, te vestig.
Een van die vroegste publikasies van hierdie beweging was Die Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal in 1876. Daarin kon ’n mens veral die hand van dominee S.J. du Toit sien, maar eerwaarde J.W. van der Rijst en C.P. Hoogenhout het ook daaraan meegewerk. Ofskoon dit maar dun was en uit slegs 29 bladsye bestaan het, was dit nie net ’n taalhandleiding nie, maar ’n rigtingwyser vir hoe Afrikaans in skrif kan funksioneer, ’n pionierspoging om struktuur en legitimiteit aan ’n nuwe taal te gee. Hoewel dit later onder ’n aangepaste titel herdruk is (Fergelijkende taalkunde fan Afrikaans en Engels, 1897), bly die oorspronklike uitgawe ’n grondslagbousteen van die Afrikaanse taalkunde.
Terselfdertyd het die behoefte gegroei om die mees gesaghebbende boek in Afrikanerhuishoudings – die Bybel – in Afrikaans beskikbaar te stel. Arnoldus Pannevis het reeds in 1872 vir ’n Afrikaanse Bybelvertaling gepleit. In 1878 het C.P. Hoogenhout die Evangelie volgens Markus vertaal, hoewel dit nooit gepubliseer is nie. Dit is egter in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad beskikbaar. Dit was eers in 1893 dat S.J. du Toit Genesis in Afrikaans gepubliseer het – die eerste Bybelboek wat in Afrikaans die lig gesien het.
Hierdie vertalings is nie sommer ligweg aangepak nie. Daar is gereeld vergader om die tekste noukeurig met die oorspronklike Bybel en ander vertalings te vergelyk en te bespreek. Tussen 1893 en 1908 is sewe Afrikaanse Bybelboeke op dié manier vertaal, waarvan sommige in S.J. du Toit se godsdienstige tydskrif Stemmen des Tijds gepubliseer is. En in 1933 spog ons met die eerste volledige Bybel in Afrikaans.

Vandag vorm hierdie vroeë publikasies en vertalings die stewige fondament waarop die Boekeparadys in 2025 voortbou: ’n eerbetoon aan die mense wat geglo het dat Afrikaans waardig is om geskryf, gelees én geleef te word.
Boekliefhebbers sal hul leeslus behoorlik tussen ’n verskeidenheid Afrikaanse publikasies van gevestigde uitgewers soos LAPA Uitgewers, Penguin Random House en Protea Boekhuis, kan versadig. Besoekers sal toegang hê tot ’n verskeidenheid genres, alles in Afrikaans, en alles op een plek.
Vir jonger lesers wag daar ’n betowerende hoek waar bekende sprokies deur die akteurs van die Toekomsbou-museumteater voorgelees gaan word. Bollie, die geliefde blou hasie wat al vir geslagte kinders vermaak, sal ook ’n spesiale verskyning tussen die boeke maak.
“Ons stal nie net die kleurvolle letters van ‘AFRIKAANS’ uit nie, maar ook ’n keurige verskeidenheid, kleurryk geïllustreerde boeke,” sê Christa Jansen, organiseerder van die Boekeparadys. Sy verwys na die reuse “AFRIKAANS”-letters wat vanjaar saam met die Afrikaans 100-vieringe deur die land getoer het en tot 14 Augustus trots op die Voortrekkermonument-terrein pryk. “Dit is ’n viering van verbeelding, kultuur en taal.”
Die Boekeparadys sal van 09:00 tot 14:00 op die Uitspan Deli-stoep plaasvind, waar besoekers welkom is om deur boeke te blaai, te lees of net te gesels. Buiten hierdie lewendige ruimte vir boeke en stories, wag daar ook ’n verskeidenheid basaarstalletjies, ’n gratis musiekvertoning deur Jan Blohm, en bywoning van geliefde legendes soos Jannie du Toit en Carike Keuzenkamp op die Markplein. Dit beloof om ’n dag van klank, kleur en kultuur te wees – ’n viering van Afrikaans om elke hoek en draai.
