’n Groot gemeenskapsinisiatief, waar die FAK ‘n ondersteunende rol gespeel het, het nuwe lig gewerp op een van Brakpan se belangrikste, maar lank verwaarloosde erfenisterreine. Dié inisiatief is gelei deur Rudolf Herbst, wat ook dien as die voorsitter van die FAK Oos-Rand-kultuurnetwerk. Hierdie aksie is deur ‘n verbasende groot groep plaaslike inwoners en organisasies ondersteun.

Meer as 200 mense het op Saterdag 15 November moue opgerol in ’n grootskaalse skoonmaakaksie by die historiese Brakpan-myn Tuin van Herinnering- (ANZAC) begraafplaas en gedenktuin. Dit vorm deel van die terrein waar die 1922-mynwerkeropstand, ook bekend as die “Rand-rebellie”, se laaste veldslag plaasgevind het.

Met die hulp van laaigrawe, sleepwaens en vrywilligers is die terrein – wat dekades lank verwaarloos is en uiteindelik ontaard het in die sogenaamde Plastic City- informele nedersetting – skoongemaak en vir behoorlike restourasie voorberei.

Die FAK is na dié skoonmaakaksie genooi om kundigheid te bied met die restourasieproses en die permitaansoeke.

Terrein van nasionale belang

Die gedenkterrein is oorspronklik in 1966 deur die plaaslike mynmaatskappy aan die Brakpan-munisipaliteit oorhandig om in stand gehou te word as ’n plek van hulde aan die polisielede en mynbeamptes wat tydens dié opstand gesneuwel het. Hierdie opstand, wat uitgeloop het op die afkondiging van krygswet deur die destydse eerste minister, genl. Jan Smuts, was ’n sleuteloomblik in Suid-Afrika se nywerheids- en politieke geskiedenis.

Uiteindelik is 20 000 troepe, artillerie, tenks, masjiengewere, skerpskutters en bomwerpervliegtuie gemobiliseer om die rebellie te onderdruk, wat van 6 tot 18 Maart geduur het.

Volgens die verslag van die Geregtelike Komitee vir Ondersoek na Krygswet was die aantal sterftes 43 soldate, 29 polisielede, 6 spesiale polisielede, 11 rebelle, 28 vermeende rebelle en 42 burgerlikes. Meer as 1 000 mense is gewond, 15 000 is werkloos gelaat en die goudbedryf is ’n ernstige knou toegedien.

Dié stille gedenkplek het oor die afgelope dekades stadig maar seker verval. Die oorspronklike heining en hekke is verwyder, rommel het opgehoop, grafstene is beskadig, en die terrein het die soveelste slagoffer van totale verwaarlosing geword. Die koms van onwettige mynbedrywighede die afgelope 15 jaar het die verval versnel en ’n ernstige veiligheidskrisis geskep.

Só het die Brakpan-myn Tuin van Herinnering (ANZAC) gelyk voor dit deur die gemeenskap skoongemaak is. (Foto: Rudolf Herbst)

Monument van gemeenskapskrag

Nadat Plastic City se meer as 5 000 inwoners verwyder is, kon die gemeenskap met veiligheid aan die werk spring.

“Ons kon nie langer toekyk hoe ons erfenis letterlik onder rommel en gevaar vergaan nie,” sê Herbst. Hy is ook ’n VF+-raadslid en voorsitter van AfriForum Brakpan se kultuurkomitee “Die oomblik toe die terrein weer veilig was, het ons besluit: nou begin ons bou. Saterdag was die eerste groot stap.”

Herbst was aangenaam verras deur die groot aantal gemeenskapslede wat deur die dag opgedaag het om te help. Laaigrawe het berge rommel verwyder, terwyl vrywilligers gate gevul, onkruid verwyder en historiese strukture weer sigbaar gemaak het.

“Hoewel ons ’n monument skoongemaak het, het ons ook ’n monument gebou – ’n monument van gemeenskapsamewerking, van mense wat opstaan vir hul erfenis. Dit is iets wat nie maklik weer gebreek kan word nie,” sê hy.

Die skoonmaakaksie het die terrein vir die eerste keer in jare herkenbaar gemaak. Hoewel erg beskadig, kon feitlik al die brokstukke van die oorspronklike grafstene gevind en geïdentifiseer word, en dele van die historiese uitleg het weer te voorskyn gekom. Dit stel die gemeenskap en erfenisorganisasies in staat om ’n volledige opname te doen en restourasieplan op te stel.

Die Brakpan-gemeenskap en verskeie organisasies het in groot getalle opgedaag om die Brakpan-myn Tuin van Herinnering- (ANZAC) begraafplaas en gedenktuin op te ruim. (Foto: Charles Rademeyer)

Nuwe begin vir Brakpan se erfenis

“Hierdie terrein is deel van Brakpan se storie, maar dit is ook deel van Suid-Afrika se storie,” sê Herbst. “Wanneer ons dit restoureer, herstel ons iets van ons kollektiewe geheue.”

Barry Müller, nasionale hoof van gemeenskaps-, geskiedenis- en ad hoc-projekte van die FAK, is vol lof vir die gemeenskap. “Die hart van erfenis lê in mense wat bereid is om vir hulle geskiedenis op te staan. Wat Saterdag hiér gebeur het, was ’n gemeenskap wat nie bang is om betrokke te raak nie. Dit was meer as skoonmaak; dit was ’n daad van herstel.”

Die FAK, die betrokke gemeenskapsliggame, asook die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) en die Stad Ekurhuleni, gaan nou saamwerk om onder meer die historiese grafstene te dokumenteer en restoureer; die terrein se grense, heining en toegang te herstel; en dit formeel as ’n erfenisterrein te beskerm. Die uiteindelike doel is om die gedenkpark weer ’n veilige, waardige en toeganklike ruimte vir besoekers, nageslagte en historici te maak.

Só het die terrein gelyk nadat dit skoongemaak is. (Foto: QRF Spec Ops Task Team)