
Met etenstyd tydens die gesamentlike direksieberaad is daar is heerlik onder die Voortrekkermonument se skadu saamgekuier .
Die Voortrekkermonument het die naweek sy jaarlikse direksieberaad saam met die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge(FAK) en Erfenisstigting gehou. Vanjaar is dit op die Voortrekkermonument se terrein gehou waar dit verlede jaar by die FAK se Udolpho-rivierplaas buite Parys aangebied is. Die verkenning van verskillende Afrikanerlandskappe was die hooftema.
Die onderwyslandskap

Perry Joynt, hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria
Perry Joynt, hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, het met sy voorlegging die analogie van ’n delikate skaakspel gebruik om die huidige uitdagings in die Afrikaanse onderwyslandskap te beskryf. “Ons wat by Afrikaanse onderwys betrokke is, bevind ons in ’n strategiese moment en moet taktiese aanpassings maak en ons posisionering herbedink.”
Joynt verduidelik ’n groot krisis is dat daar politieke druk van bo af is om nog leerlinge in Afrikaanse skole te druk, hoewel dié skole reeds stampvol is. “Om hierdie aanslag die hoof te bied, moet ons leer om nie net in die gevaar vas te kyk nie, maar buigsaam te word, en veral begin om goeie verhoudings met die onderwysdepartement te handhaaf, asook met ons vennote in ons gemeenskappe, soos sportinstansies, tersiêre instellings, ander skole en kerke.”
In die lig van politieke druk op reeds oorvol skole, sê Joynt: “Een kritieke ding wat alle skole moet doen, is om ’n onafhanklike kapasiteitsontleding van die skool te laat doen.”
Die Afrikaanse radiolandskap

Willie Spies, direksievoorsitter van Pretoria FM.
Willie Spies, direksievoorsitter van Pretoria FM, meen die Afrikaanse radiolandskap en gemeenskapsradiostasies word steeds deur talle uitdagings in die gesig gestaar. “Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) is veronderstel om onafhanklik te wees, maar stel homself steeds oop vir regeringsinvloed en ’n konkelry met groter radiostasies,” sê hy.
Dit is moeilik vir Okosa om die 271 landswye gemeenskapsradiostasies te monitor omdat baie van hulle klein en afgeleë, en hul bedrywighede baie vloeibaar is. Die nuwe bestuur van Okosa het derhalwe sy mes in vir gemeenskapsradiostasies. “Hulle het onlangs ’n regulasie uitgevaardig wat stasies ’n ongehoorde venstertydperk van ses maande voor die verval van die lisensie kans gee om dit te hernu. Dit het veroorsaak dat 19 van die 271 gemeenskapsradiostasies hulle lisensies verloor het, ” sê Spies.
Pretoria FM is een van die top-20- Afrikaanse gemeenskapsradiostasies in die land. Wetgewing bepaal dat gemeenskapsradiostasies slegs binne munisipale grense mag uitsaai, maar Pretoria FM poog om Okosa te oortuig om wyer uit te saai omdat daar ’n sterk behoefte onder Afrikaners is om landswyd bedien te word.
Die Afrikaner se kultureel-politieke landskap

Carel Boshoff, voorsitter van die FAK.
“Die Afrikaner is terug,” sê Carel Boshoff, voorsitter van die FAK. “Met die hele storm rondom pres. Donald Trump se uitvoerende bevel dat Afrikaners vlugtelingstatus in die VSA moet geniet, het Afrikaners, wat heeltemal onkant gevang is, weer bewus geword van hul identiteit.
“Die vorige keer toe Afrikaners in die wêreld se kollig verskyn het, moes ons die verhoog verlaat onder ’n wolk van veroordeling, maar weldra het dit duidelik geword dat die skurk toe al die tyd goed was,” sê Boshoff.
“Ons het goeie bedoelings gehad. Omdat ons die dominante kultuurgroep was, wou ons onafhanklike ontwikkeling bevorder deur tuislande te skep. Dit was egter onvolhoubaar, want ons het nie die groter verband van die hoofstorielyn verstaan nie, en die storielyn neem toe ’n wending waarvoor ons nie gereed was nie. Toe kon ons apartheid net met onreg in stand hou en ons gaan gebuk onder plaaslike weerstand en word wêreldwyd verwerp,” verduidelik hy.
Hoewel ons nie Trump se gebruik van die woord Afrikaner, om die ANC te kap, moet oorskat nie, kan ons ons verskyning op die wêreldverhoog benut om van ons muishondstatus weg te kom en weer ons identiteit te vind, sê hy. “’n Sekere werklikheidsgeur het teruggekeer en ons word weer handelsbevoeg. Ons moet nou ons blik van die stillewe afhaal en die groter landskap ondersoek.”

Lucia van Wyk van die BCVO; Sonel Brits van die ATKV en Elphi Taljaard van die Dameskring gesels heerlik saam tydens teetyd.
Die Afrikaanse kerklike landskap
“Afrikaanse kerke word deur groot uitdagings in die gesig staar,” sê ds. Dewyk Ungerer.
Hy sê lidmate sukkel om na ’n diverse samelewing oor te gaan en kerke loop leeg omdat mense nie ’n paradigmaskuif kan maak nie.
“Kerke sukkel ook met sekularisme wat oral gepropageer word en selfs binne-in kerke posvat. Afrikaners kan nie meer onderskei tussen Sondae en ander werksdae nie. Gemeentes wat finansieel sukkel, kan nie by noodsaaklike tegnologiese vordering byhou nie, terwyl welvarende gemeentes toegeruste ateljees bou om hul preke regstreeks uit te saai. Bowendien beteken die uitsending van preke dat mense nie meer kerk toe gaan nie. Dit lei tot onbetrokkenheid en die uitkringinvloed lei daartoe dat gemeentes uitsterf,” sê hy.
Emigrasie, ’n lae geboortesyfer en interne teologiese verskille het volgens hom ook ’n verlammende uitwerking op Afrikaanse kerke.
Volgens Ungerer is daar darem hoop, want daar is feitlik in elke stad en dorp ’n Afrikaanse kerk wat nog ’n positiewe invloed op Afrikaners het. “Primêr is die kerk die draers van hoop en dra die goeie boodskap van Jesus Christus se verlossing uit. Die kerk bring ook gemeenskappe oor taal, kleur en ekumeniese grense bymekaar en is verbind om alle mense te bedien,” sê Ungerer.

Petré Theron van die Voortrekkermonument; dr Louis Du Plessis van die Afrikanerbond en Cielliers De Kok, hoof van die Rapportryers gesesels tydens teetyd by die gesamentlike direksieberaad.
Personas van ons Afrikaanse jeug
Alexa Reinecke, ’n digitale kommunikasiebestuurder, Martech-spesialis en GenAI-navorser, het insiggewend gesels oor die personas van ons jeug. Sy is verbonde aan Solidariteit en die Wits Besigheidskool.
Reinecke voer aan dat die digitale wêreld ’n kernrol in die jeug se lewe speel. “By Solidariteit het ons besef ons weet nie hoe om met die jeug te kommunikeer nie,” sê Reinecke.
Sy brei verder uit op die innoverende werk wat hulle doen om die jeug beter te verstaan. Hulle poog om ’n antwoord te kry op die vraag: “Wat wil die jeug regtig hê?”
Om die Afrikaanse jeug beter te verstaan, het sy na personas verwys. Lila, ’n graad 9-leerling, hou van sosiale media, braai en om netbal te speel. Jana, ’n universiteitstudent, is spontaan, spandeer tyd op sosiale media en hou van ’n goeie Afrikaanse konsert. Nico, Jana se eweknie, is ’n leier, speel rugby en dink oor die toekoms.
Die ope vraag op almal se lippe is dan: “Hoe akkommodeer ons huidige geslag die Afrikanerjeug met hul onafhanklike personas?”
Afrikaans 100

Sonél Brits, besturende direkteur van die AKTV