Deur Charles Rademeyer
Teen die einde van Mei 1902 was daar min in die noorde wat nog in vlamme kon opgaan. Dorpies was leeg, plaasdamme droog, families uitmekaar geskeur. Die rook van oorlog het uit die veld opgestyg, in die siel van ’n volk ingetrek. Drie jaar lank het die Anglo-Boereoorlog oor die land gespoel, met ’n wreedheid wat selfs die hardste harte sou kneus.
Toe die oorlog in Oktober 1899 uitbreek, was daar hoop in die harte van die twee Boererepublieke. Die destydse Zuid-Afrikaanse Republiek en die Oranje-Vrystaat het geglo hulle veg vir vryheid – vir ’n eenvoudige bestaan. Eie grond, eie regering, eie taal, volgens eie oortuigings. Wat begin het met moed en geloof, het vinnig ’n fel stryd teen ’n wêreldmoondheid se oormag in getalle, wapens en infrastruktuur geword.
Veld en vlees in vlamme
Slagveld het vlamveld geword. Die Britse Ryk, vasbeslote om die Boere se weerstand te breek, het op 16 Junie 1900 die verskroeideaardebeleid ingestel: plase is afgebrand, oeste vernietig, vee geslag, boorgate toegegooi. Wat oor was van ’n bestaan, is tot as gemaak. Die oorlog het toenemend teen burgerlikes gewend – vroue, kinders en bejaardes is in konsentrasiekampe gegooi waar hulle deur hongersnood, siekte en blootstelling aan die elemente in die gesig gestaar is.
In daardie kampe het meer as 34 000 vroue en kinders gesterf – nie deur ’n vuurwapen nie, maar deur verwaarlosing, koue en hongerte. Aan die ander kant het die Boeremanne, vasgevang in ’n uitmergelende guerrillaoorlog, al meer gesien hoe hul families agter doringdraad sterf en hul grond tot niet gaan. Die laaste fase van die oorlog het nie oor militêre strategie gegaan nie, maar oor die uithouvermoë van gebroke mense wat liggaamlik en geestelik tot die uiterste beproef is.
Teen April en Mei 1902 het talle kommando’s nie meer kos of perde gehad nie. Hulle het siek geword, verhongerd gebly, maar aanhou glo. Die oorlog was egter nie meer bekostigbaar in bloed of eer nie. Die besluit om oor te gee, was nie lafhartig nie, maar ’n daad van verantwoordelikheid teenoor ’n volk wat nie meer kon nie.
En so, op 31 Mei 1902, in Melrose-huis in Pretoria, is die Vrede van Vereeniging onderteken. Dit het ’n einde gemaak aan die gevegte, maar nie aan die lyding nie. Die Boererepublieke het hul onafhanklikheid verloor. Die volk moes opnuut sy eie grond bewerk, maar nie as vrye burgers van hul eie land nie.
Pen swaarder as geweer
Soms wonder ek: Het ons te vroeg oorgegee? Volgens gerugte het die Britse Ryk glo net drie weke se geld vir oorlogvoering oorgehad weens die miljoene pond wat reeds vir die oorlog gebruik is. Kon nog ’n maand se vasbyt die magtige Britse masjien laat knak? Sou ’n paar weke se volharding die geskiedenis anders laat verloop het?
Dis ’n pynlike vraag sonder ’n eenvoudige antwoord. Miskien was daar ’n skeur in die Britse mondering, maar die laaste brokkies krag, kos, gesondheid en hoop was byna opgebruik. Die manne was uitgeput, die vroue in kampe vermoor en kindergrafte het by die dag toegeneem.
Een van die ontstellendste dokumente ná die oorlog was die Havenga-verslag. Klasie Havenga het met honderde vroue onder eed gepraat – vroue wat met hul eie oë gesien het hoe hul plase afgebrand is, hul kinders mishandel is, sonder kos en klere ontvoer is, en hoe hul gesinne stadig in die kampe gesterf het. Hulle het vertel van kinders wat hul moeders se lyke moes vashou. Wreedheid waarby geen woorde kersvas kan hou.
Dít is wat nóg ’n oorlogmaand sou beteken. Nie nóg oorwinnings nie; nóg grafte. En dit is hoekom die pen by Vereeniging dalk swaarder as die geweer geweeg het. Om aan te hou veg, sou dalk meer van die vyand eis, maar dit sou waarskynlik alles van ons geneem het. Soms is moed nie om aan te hou nie, maar om te weet wanneer om te stop – sodat iets kan bly leef.
Om van nuuts af te bou
Daardie vrede het, hoe bitter ook al, ’n nuwe begin beteken. In die as van nederlaag het ’n nuwe vuur stadig begin brand. Nie een van geweld nie, maar van waardigheid, geloof en opbou. Die mense wat alles verloor het, het gekies om weer op te bou. Kerke se klokke het weer begin beier. Kinders het weer begin leer. Die taal wat deur oorlog stilgemaak is, is weer op die lippe van gemeenskappe gedra. Die Boerevolk het hul pyn in vasberadenheid omgeskakel. Hulle het hul storie nie laat verdwyn nie – hulle het dit vertel, oorgedra, geanker.
Vandag, meer as ’n eeu later, onthou ons die Vrede van Vereeniging nie net as ’n dokument nie, maar as ’n keerpunt. Ons onthou nie net die ondertekenaars nie, maar ook die onbekende vrou met ’n kind in haar arms in die kamp. Die oupa wat sy seun moes begrawe. Die man wat sonder bees, ploeg of huis teruggekeer het plaas toe. Van nuuts af begin bou het. Hulle is die redes waarom ons vandag nog ons taal praat, ons geloof beoefen en ons geskiedenis eer. Waarom ons ’n verantwoordelikheid het om sélf ’n toekoms te bou.
Want vrede is nie altyd ’n triomf nie. Soms is dit ’n ragfyn draad wat mense aanmekaar bind om iets nuuts te begin weef. As herdenking aan eertydse spore en ter wille van hulle wat in ons voetval volg.
· Charles Rademeyer is ’n kultuurkoördineerder van die FAK.