Die Erfenisstigting (ES), die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en Sentraal Vaal-kultuursake het op Sondag 31 Mei die jaarlikse Vrede van Vereeniging-toer aangebied om die 124ste herdenking van die Vrede van Vereeniging te gedenk.

Die toer het deelnemers op ’n historiese reis na betekenisvolle erfenisterreine geneem wat diep verweef is met die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die heropbou wat daarop gevolg het.

In Vereeniging is die Vryheidsmonument, die Vredesboom by die Verref-krieketveld, en die Vereeniging-konsentrasiekampkerkhof besoek. Daarna is die Witkop-blokhuis langs die R59-snelweg besoek, die Russiese Ortodokse Kerk in Midrand, en laastens die Kruger-galery en die Vrou-en-kinderbeeld by die Voortrekkermonument.

Die dag het op die besondere betekenis van 31 Mei gefokus, ’n datum wat regdeur die Suid- geskiedenis deur talle keerpunte gekenmerk is. Op 31 Mei 1902 het die Anglo-Boereoorlog met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging geëindig. Op dieselfde datum in 1910 het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom, terwyl Suid-Afrika op 31 Mei 1961 ’n republiek geword het.

In sy openingsrede by die Vryheidsmonument het Charles Rademeyer, bestuurder: erfenisterreine van die ES, die beeld van ’n goue draad gebruik om die verhaal van die Afrikanervolk te beskryf – een van geloof, hoop en volharding. Deelnemers is herinner dat die herdenking van die vredesluiting nie bloot oor die einde van ’n oorlog handel nie, maar oor gebroke gesinne wat hul grond en gemeenskap ná enorme verlies en ontbering moes herbou.

By die Vereeniging-konsentrasiekampterrein en later by die Vrou-en-kinderbeeld by die Voortrekkermonument is veral teruggedink aan die lyding van vroue en kinders gedurende die ABO.

’n Hoogtepunt van die dag was die besoek aan die Kruger-galery by die Voortrekkermonument, waar die oorspronklike dokumente van die Vrede van Vereeniging bewaar word. Hier is besin oor die moeilike besluite wat die Boereleiers in 1902 moes neem.

Dié lokaal huisves ook pres. Paul Kruger se sterftekamer, asook skilderye en beelde van boeregeneraals en Emily Hobhouse, wie se lewens en optrede ’n blywende invloed op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad het. Rademeyer het beklemtoon dat geskiedenis nie uitsluitlik deur oorwinnings geskryf word nie, maar ook deur die wyse waarop mense nederlae verwerk, geloof behou en weer nuwe hoop vind.

Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: media en bemarking van die Kultuurtuiste, bied die toer jaarliks ’n belangrike geleentheid om geskiedenis in konteks te plaas en die lesse daarvan in ’n eietydse konteks te verstaan.

“Die Vrede van Vereeniging is nie net ’n gebeurtenis wat in geskiedenisboeke opgeteken staan nie. Dit is ’n herinnering aan die ongelooflike veerkragtigheid van mense wat ná verwoestende verlies die moed gehad het om op te staan, uit die as te herbou en met hoop vorentoe te kyk. Daardie gees van volharding vorm vandag nog deel van ons toekomsbou-ingesteldheid,” het Brand gesê.

Rademeyer het die dag se program afgesluit met die woorde uit 1 Samuel 7:12: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”

“Dit herinner ons dat waardes soos geloof, hoop en volharding – wat geslagte Afrikaners deur tye van oorlog, verlies en onsekerheid gedra het – vandag nog rigting en betekenis aan ons pad vorentoe gee,” het Rademeyer gesê. · Dra by tot die Erfenisstigting se bewaringswerk deur hier te klik.