Mediaverklaring

1 Junie 2023

’n Groot groep geskiedenisliefhebbers het op 31 Mei saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en hul Vaal-Kultuurnetwerk hul jaarlikse Vrede van Vereeniging (VvV)-toer meegemaak.

Hierdie toer is ’n herdenking van die vredesverdrag wat tussen Boer en Brit gesluit is en is op 31 Mei 1902 by die Melrosehuis in Pretoria onderteken. Hierdie vredesverdrag het ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog (ABO) gebring.

Samantha Oosthuysen, een van die vroue wat vanjaar saam met die FAK getoer het, sê die VvV-toer is ’n moet-doen en leer mens weer hoekom ons erfenis so belangrik is.

“Hierdie toer het my weer laat besef hoekom mens vir jou erfenis moet baklei, want mens besef weer waarvoor dié voor ons gesterf het. Ek dink die toer maak werklik mens se oë oop en herinner jou aan die geskiedenis wat jy dalk nie so goed ken nie,” het sy gesê.

Vroegoggend op die Vredesonderhandelingsterrein, in Vereeniging, het Kobie Ströh van die FAK-Vaal-Kultuurnetwerk, die storie begin vertel en in daardie oomblik was oud en jonk weggevoer na 1902, waar verteenwoordigers van die Boererepublieke en die Britse ryk vir vrede onderhandel het.

Oudergewoonte het dié groep daarna die Vryheidsmonument, ook geleë in Vereeniging, besoek. Die simboliek van ’n oorwonne man, maar wie se gees nie oorwonne is nie, spreek boekdele van die Afrikaner se karakter. Voor die Burgersentrum staan dié monument as voortdurende herinnering aan die vryheidstryd wat die Boerevolk tydelik met die wapen verloor het, maar oor die lange duur gewen het danksy hul onwrikbare dapperheid en durf.

Langs die R59 Meyerton-area, in die suide van Johannesburg, op die plaas Witkop, word die verhaal van die Anglo-Boereoorlog vertel in die leë murasies van ’n ou Britse blokhuis. Hier staan die bastion steeds kordaat; gereed om die spoorlyn in die oop area te beskerm. Ná die oprigting van dié blokhuis het daar geen groot aksie tydens die ABO plaasgevind nie. Daar was slegs ’n paar skote tussen Boer en Brit, maar die verhaal van die oorlog word steeds hier vertel. Hiér lê die FAK ook jaarliks ’n krans nie net ter herdenking van ons ABO-helde nie, maar as ’n boodskap van hoop en ’n opdrag om erfenis te bewaar en beskerm vir die komende geslagte.

Die Russiese-Ortodokse Kerk in Midrand is opgerig ter herdenking van die 225 Russiese soldate wat die Boere tydens die oorlog bygestaan het. Hier word hul nalatenskap steeds jaarliks gevier en smee die FAK ook die bande wat ons voorouers in die verlede op staatgemaak het. Dié kapel dien as herinnering van die belangrikheid van samewerking en diplomasie tydens die ABO.

Die Melrosehuis in Jeff Masemolastraat (voorheen Jacob Marestraat), Pretoria, was die woning van die welgestelde sakeman George Jesser Heys wat tydens die Anglo-Boereoorlog as hoofkwartier van Britse magte gebruik is na Pretoria in Junie 1900 binnegeval is. Britse magte in die veld het vir meer as 18 maande lank uit dié huis instruksies gekry. Hierdie hoofstuk in die huis se geskiedenis het egter tot ’n einde gekom toe die Vrede van Vereeniging op 31 Mei onderteken is. Elke jaar vertel die FAK hiér die verhaal van die Britse hoofkwartier wat uiteindelik ’n baken van vrede en vryheid geword het.

Die toer het vanjaar, soos elke jaar die tradisie is, by die Voortrekkermonument geëindig. Voor die Vrou-en-kind-beeld staan ’n groep FAK-ondersteuners, moeg en emosioneel en opkyk na dié vrou wat haar twee kinders aan haar rokspante koester; sy kyk voor haar uit na ’n nuwe tyd, ’n weer begin en dit is ook hier waar die toer op die gepaste, gewyde manier afsluit om ieder en elk wat dié toer meegemaak het, te herinner aan die mooi verhale van hoop wat tydens ’n moeilike tyd in die Afrikaner se geskiedenis geskryf was.

Hier is die VvV-toeriste toegespreek deur Jaco Cilliers, bestuurder van erfenisbewaring by die Voortrekkermonument. Hy het die toer afgesluit met ’n belangrike les: “Ons moet onthou.”

“Ons is vandag hier om hulde te bring aan die duisende wat diep spore voor ons getrap het; die duisende wat hul lewens gegee het sodat ons vandag ’n ryk geskiedenis en kulturele erfenis kan hê,” het hy gesê.

“Ons herdenk hul dood, maar ons herdenk ook dié wat van die ashope van die verskroeide aarde teruggekeer het en monumente van hoop daaruit gebou het.”

Hier staan ons en meteens word die kyk in die brons-ma voor ons se oë ’n werklikheid; dit vertel van tente en koue en kindertrane.

Krans na krans word gelê en uiteindelik die laaste gedagtes: “Dit is hoekom ons moet onthou.”

Die Vrede van Vereening-toer is nie net ’n gedenktoer of ’n reis deur die verlede nie, dit is ’n herinnering aan Paul Kruger se onsterflike woorde, “neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.” Maak seker jy loop nie dié toer volgende jaar mis nie.