Die groen vlaktes van die Karoo, afgewissel met plasse modderwater, vertel ’n storie van seën – ’n Oos-Kaap wat hierdie reënseisoen behoorlik asem kon skep. Teen hierdie vars, lewensgewende agtergrond het die FAK-Noord-Kaap onlangs ’n besoek aan die Oos-Kaap gebring, met die doel om moontlike betrokkenheid by die bewaring en instandhouding van Afrikanererfenis in dié ryk kultuurlandskap te verken.

Die Gariepdam (voorheen bekend as die Verwoerddam) 109% vol.

Van Aliwal-Noord tot Burgersdorp, Steynsburg, Philippolis, Colesberg, Bethulie, Gariep en Oviston – elke dorp dra sy eie storie, sy eie letsels en sy eie trots. Hierdie plekke, wat terugdateer tot die vroeë 1800’s, dra die spore van oorloë, geloofstryd, politieke spanning en die soeke na vryheid. Vandag staan landmerke en geboue as stille getuies van alles wat hier afgespeel het.

By die Bethulie-konsentrasiekampkerkhof word ’n mens stil. Hier lê sowat 1 500 vroue en kinders begrawe – name wat nie net op klip geskryf is nie, maar in die geheue van ’n volk. Met die verskuiwing van die kerkhof tydens die bou van die dam is selfs grafte gevind waarin tot vier liggame saam begrawe was. Dit is die rou werklikheid van oorlog, vasgevang in die grond van die Oos-Kaap.

Oranjerivier afgeneem vanaf die Bethulie brug.

Volgens Cara Tomlinson, kultuurorganiseerder van die FAK in die Noord-Kaap, was daar verskeie oomblikke tydens die reis wat haar diep geraak het. Op Steynsburg, in ’n klein maar kosbare museum wat deur toegewyde inwoners aan die lewe gehou word, het die verlede besonder lewendig geword.

Een verhaal vertel van drie jong boerseuns van Steynsburg wat as Kaapse rebelle tydens die Tweede Vryheidsoorlog aan Boerekant geveg het. Vandag het maar min van hulle oorgebly – ’n stuk tou waarmee een tydens sy teregstelling vasgebind was, ’n deur met ’n koeëlgat van ’n teologiestudent wat daar geskiet is, en die tragiese verhaal van ’n derde jong man wat vermink en aan sy lot oorgelaat is.

Bethulie-Konsentrasiekampkerkhof

Nog ’n aangrypende beeld is dié van ’n paar verslete veldskoene. Hulle het aan ’n 15-jarige seun behoort wat sy lewe by die Slag van Paardeberg verloor het. Jare later, toe sy liggaam herbegrawe is, het die skoentjies nog saam met hom na sy moeder teruggekeer. Vandag staan dit in die museum – ’n tasbare herinnering aan die onmeetbare offers van die verlede.

Burgersdorp vertel weer ’n ander storie. Die ou teologiese skool en indrukwekkende kerkgeboue getuig van ’n eens sterk, gelowige gemeenskap. Hier staan ook die eerste Taalmonument – ’n simbool van die stryd om Afrikaans te vestig en te beskerm. Die nabygeleë konsentrasiekampterreine in Aliwal-Noord, Bethulie en Norvalspont herinner aan duisende vroue en kinders wat nooit die vryheid sou beleef waarvoor daar geveg is nie. In Bethulie alleen was daar dae waarop tot 35 begrafnisse plaasgevind het.

Maar die Oos-Kaap se verhaal is nie net een van pyn nie. Daar is ook tekens van hoop en vooruitgang. Die 1960’s staan uit as ’n tyd van ontwikkeling en visie. Onder leiding van dr. Hendrik Verwoerd is groot waterprojekte aangepak – die Verwoerddam (vandag die Gariepdam) en die PK le Roux-dam (vandag die Vanderkloofdam). Hierdie damme, saam met die Oranje-Visriviertonnel, het water na die droë Karoo gebring en nuwe lewe moontlik gemaak.

‘n Portret van FW van Heerden (Kaapse rebel) wat op Tarkastad terreggestel is in die Steynsburg-museum.

By Oviston, waar die tonnel begin, besef ’n mens die omvang van hierdie ingenieurswonder – 82 kilometer lank en meer as vyf meter in deursnee. Vandag nog is hierdie stelsel die lewensaar vir duisende mense en plase in die streek.

Die besoek aan die Oos-Kaap was nie net insiggewend nie, maar diep verrykend. Dit is ’n plek waar geskiedenis nie net geleer word nie, maar gevoel word – in die wind, in die grond en in die stories van mense wat nog onthou.

Die eerste Taalmonument op Burgersdorp.

Dit laat ’n mens ook besef dat die stryd van ouds nie heeltemal verby is nie. Vandag lyk dit anders, maar dit bly ’n stryd vir geloof, vir taal, vir identiteit en vir oorlewing. Tog bring die herinnering aan diegene wat voorheen volhard het, nuwe moed.

Mag ons, soos hulle, die krag hê om aan te hou, en mag ons die wysheid ontvang om nie net die erfenis van die verlede te bewaar nie, maar ook die pad vorentoe met geloof en vasberadenheid te stap.